Tandelose verkies ‘n dis van hiënamis PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 23 August 2016 20:12
Untitled Document

In ons kontrei woon daar ‘n tandelose reptiel wat graag hiënamis vreet. Hy is ‘n vegetariër wat soms aan ou bene knaag, maar as hy vleis inkry lei dit na gevaarlike hoë bloed-ureumvlakke, lewerprobleme en nierstene.

Die bergskilpad het ‘n groot hoeveelheid kalsium in sy dieet nodig vir die groei van sy dop en vir beenformasie. Wyfies het selfs meer kalsium nodig om eierdoppe te help vorm. Dis wanneer hulle nie genoeg kalsium inkry nie, dat hulle hiënas se wit mis, wat aandui dat dit ‘n groot hoeveelheid kalsium bevat, begin uitsoek. Hulle sal ook dooie duisendpote se doppe, slak- en eierdoppe vreet.

Bergskilpaaie vreet meestal gras, vetplante en distels en dit is ‘n mite dat hulle blaarslaai, tamaties en vrugte moet inkry. As hulle te veel sagte kosse inkry, kan hulle ernstige dermkanaalprobleme ontwikkel.


Die karapaks (bo-dop) vervaag by ouer skilpaaie

Verstom
Ander verstommende feite oor dié skilpaaie, wat tussen 80 en 100 jaar oud word, is dat hulle tot 10 minute onderwater kan bly en heinings kan uitklim. Die jonger diere se toonnaels maak dat hulle ‘n goeie vastrapplek op hout, sement en rowwe klipoppervlaktes kan kry en so uit gevangeskap kan ontsnap.

Dit is onwettig om enige skilpad in Suid-Afrika uit die natuur te verwyder, om een aan te hou en in of uit te voer sonder ‘n permit. Die handel in skilpaaie word beheer deur die Kongres vir Internasionale Handel in Bedreigde Spesies.

Daar is boetes of tronkstraf vir die jag, aanhouding of vervoer van ‘n inheemse skilpad. Dan kan ‘n mens ook nog bykomende boetes – tot drie keer die kommersiële waarde van die skilpad – betaal as jy met skilpaaie handeldryf.


Gereed vir ‘n happie vetplant

Grootste
Die bergskilpad (Stigmochelys pardalis, voorheen Geochelone pardalis) is die grootste van die 13 skilpadspesies wat in suidelike Afrika voorkom. Hulle is gemiddeld 30–40 cm lank maar kan 70 cm lank word en weeg 20 kg, alhoewel bergskilpaaie wat meer as 40 kg weeg al gevind is.

’n Bergskilpad se dopkleur kan wissel van meer geel tot diep bruin met swart patrone op. Hy het juis sy Engelse naam ‘leopard tortoise’ gekry oor die swart en geel patrone van sy karapaks (bo-dop).

‘n Skilpad wat onderstebo op sy dop in die veld lê is gewoonlik die slagoffer van ‘n bakleiery. Met paartyd baklei die mannetjies deur aan mekaar te stamp totdat een van hulle op sy dop beland.

Die wyfie kan tot ses neste grou, en lê vyf tot 15 harde-dop eiers in elk. Nadat sy die eiers gelê het, skop haar agterbene die gat weer toe, terwyl haar voorbene die grond plat krap.  Die eiers word in die somer gelê en die kleintjies broei ná agt tot 15 maande uit. Hulle weeg 23–50 g en is 40–50 mm lank.


‘n Drie-jaar-oue bergskilpad
Foto’s: Wikipedia

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online