Raadop met munisipaliteit Print E-mail
News - Briewe
Tuesday, 23 August 2016 21:52
Untitled Document

Mev JC Nagel van Rayton skryf:
Ek het verlede jaar ‘n huis gekoop in Rayton. Die registrasie was 22 Mei 2015. Ek het op 13 Junie 2015 ingetrek. Alhoewel ek elektrisiteit gehad het, het die meter buite teen die paal nie gewerk nie.

Ek het dit dadelik gaan rapporteer maar die Rayton-kantoor het niks daaromtrent gedoen nie. Elke maand het hulle my lesing geskat en ek moes daarvolgens betaal. Dit het meegebring dat ek die Rayton-kantoor 12 keer besoek het in die ses maande tot Desember.

Alhoewel ek ook drie keer by die Pretoria-kantoor gaan kla het, is niks daaromtrent gedoen nie.
Ek het toe in Desember 2015 self by die afdeling wat die meters vervang gaan aanklop. Dit was die tweede laaste week van die jaar en ‘n man het belowe om die meter so gou as moontlik te vervang.

Op 4 Januarie 2016 is die meter toe vervang en ek het ‘n foto geneem en na die Rayton-kantoor geneem sodat hulle my nuwe meternommer kan gebruik en my daarvolgens kan laat betaal.

Tot hede toe was ek dié jaar al weer vier keer by die Rayton-kantoor maar steeds word die meter nie gebruik vir my lesings nie. Ek het ‘n tyd elke oggend die lesing geneem en gesien ek gebruik ongeveer 11 eenhede per dag.  Dit wil sê so 300 eenhede per maand maar tot op datum gebruik hulle steeds die stukkende meter se nommer en daarvolgens skat hulle die lesing.

‘n Jaar het al verloop en steeds word die lesings geskat van ‘n meter wat al vervang is. Ek was al by verskeie persone by die Rayton-kantoor maar elke keer moes ek hoor dat die Pretoria-kantoor nie hulle werk doen nie en so ook sê die Pretoria-kantoor dat Rayton nie hulle werk doen nie.

Dus lyk dit my of niemand dan hulle werk doen nie, ook nie die persoon wat maandeliks die meterlesings moet afneem  nie. My rekening beloop al duisende en elke maand word ek met finansiële koste gehef.

Dit laat my net besef hoe min mense gemotiveerd is om hulle daaglikse werk te doen waarvoor hulle ‘n salaris verdien.

 

© 2020 Die/The Bronberger