Nog Raadsaal-legendes PDF Print E-mail
News - Briewe
Tuesday, 23 August 2016 19:50
Untitled Document

Anton Jansen van Belofte op Rietfontein skryf:
Spookstories en legendes is baie keer mooier as die waarheid, ja soms nader aan die waarheid as die geskiedenisboeke self. Toe ek die ‘Raaisel van die raadsaal laat ysterridders ratel’ (Die Bronberger, Julie 2016) lees, dink ek aan ’n paar dekades gelede toe ek ’n oproep van ’n joernalis ontvang (ter wille van die joernalis en haar redakteur word name weggelaat) wat dringend ’n onderhoud met my wou voer. Joernaliste is mos altyd haastig want ‘saktyd’ is om die draai.

“Dan moet jy maar na my toe kom want ek is nou by die Ou Raadsaal op Kerkplein,” en binne ’n kort tyd is sy daar met ’n fotograaf.

Die binnehof se plaveisel is besig om te sak en ek probeer om die oorsaak vas te stel, wat ek ook gekry het. Onder die leiklipplaveisel vind ek ’n betonblad wat deurbuig en gelukkig kry ek ’n mangat en kop onderstebo met mense wat my bene vashou ontdek ek ’n waterreservoir onder die blad.

Nou is daar knaend ’n legende dat op Paul Kruger se instruksie ’n tonnel vanaf die Raadsaal na sy huis gebou is ingeval die president eendag moes ontsnap. Toe ek besweet orent kom staan die verbaasde joernalis en fotograaf na my en kyk en wil weet wat ek doen.

Tong in die kies vertel ek dat ek die geheime tonnel ontdek het. Foto’s word geneem en die joernalis maak notas.

Op my vraag waaroor hulle my nou dan so dringend wil sien en nadat ek hulle vrae beantwoord het, sê ek met die afskeid; “Dis sommer ’n storie van die geheime tonnel hier onder; dit is ’n gewone opgaartenk”. Volgende dag in die koerant op bladsy vyf: ‘Geheime tonnel na Krugerhuis blootgelê’.

Tot vandag beweer mense dat die tonnel regtig bestaan want dit het swart op wit in die koerant gestaan.

 

© 2019 Die/The Bronberger