Dit was Britse burgermagkampe Print E-mail
News - Briewe
Tuesday, 23 August 2016 21:45
Untitled Document

Nico Pohl van Donkerhoek skryf:
In Die Bronberger se Julie-uitgawe het Petro Lemmer van Pienaarspoort gevra of iemand weet waar die duisende swartmense wat in die Irene konsentrasiekamp dood is, begrawe is.

Dit is nou duidelik dat die sogenaamde swart ‘konsentrasiekampe’ eintlik Britse burgermagkampe was en hoegenaamd nie in dieselfde asem as die werklike konsentrasiekampe waar Boeregesinne gevange gehou is, genoem kan word nie.

Ná die oorname van Bloemfontein en Pretoria het die Britse owerhede dié mense as dienspligtige burgers van die ‘empire’ beskou. Swart mans is as soldate en werkers opgekommandeer om teen die Boerekrygers en die vrouens, kinders, mans en oumense in die konsentrasiekampe diensplig te verrig. Hulle gesinne en familieverwante het dikwels by die mans in die kampe aangesluit en was aan die normale destydse dissipline van oorlogskampe internasionaal onderhewig.

Alle kampinwoners het onafskeidelik deel van die Britse oorlogsmasjien en verskroeide aarde-strategie uitgemaak en die mans is as berede- en voetsoldate teen die gehate Boere in die veld gestoot. 

Sulke kampe is naby die konsentrasiekampe opgerig waar die swart soldate hoofsaaklik met logistiek en instandhouding behulpsaam was. Die wit Kakies uit die laer range was nie juis beroemd vir hulle werketiek nie en sou die verligting van hulle werklas met ope arms verwelkom het. 

Ongelukkig was hulle nog minder beroemd vir hulle sindelikheid en het gevaarlike siektekieme uit Europa oorgedra aan die swart soldate en hulle gesinne. Die uiters arrogante ‘high command’ was ook maar baie suinig met die proviand, sodat die swart kampinwoners fisiek nog verder afgetakel is.

Die belaglike persepsie word steeds wyd uitgedra dat hulle dooies, nes die Boerevrouens, -kinders,
-mans en -oumense wat in die werklike konsentrasiekampe dood is, slagoffers van ’n vyandiggesinde Britse ‘empire’ was en as sodanig eerbetoon, gelykstaande aan die huldiging van Boereslagoffers, van die kant van die Afrikanergemeenskap verskuldig is.

Dit word internasionaal van geen bevolking verwag om sy vyand, eertyds of nie, se dooies net soveel as sy eie te eer nie, en nog minder om net soveel oor hulle te rou. 

Moet die wit vroue, kinders, mans en oues van dae wat in die konsentrasiekampe deur siektes, verwaarlosing en verhongering afgemaai is, soos die swart sterftes bloot as ongeteikende ongevalle, oftewel ‘collateral damage’, beskou word, en nie as slagoffers van die ‘empire’ se verskroeide aarde-strategie nie?

Brief verkort. – Red

 

© 2020 Die/The Bronberger