Edendale, die storie van ‘n loodmyn, sendingstasie en skool PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Tuesday, 26 July 2016 04:09
Untitled Document

Angie Kleijn

As die vervalle ou opstalle naby die Mamelodi-kruising op Zambeziweg kon praat, sou hulle jou die verhaal vertel van ‘n loodmyn waar vroue en kinders in 1881 gewerk het, sendelinge van Duitsland wat ‘n skooltjie begin het en van ‘n Murray wat ‘sir’ geword het.

Jan Malan van Cullinan het destyds afstammelinge van dié gesin geken en hy het vir die Bronnie gaan wys waar die myne was, hoe die opstalle vandag lyk en waar toentertyd se sendelinge begrawe is. Dié grafte lê op die Edendale Skool se gronde, waar die sendingstasie begin is en die Bybel in Noord-Sotho vertaal is.

Jan vertel dat daar twee loodmyne was, een noord en een suid van Zambeziweg-verlenging (Sefako Makgatho). As jy in dié omgewing klippies optel sal jy voel dat hulle buitengewoon swaar is. Die eerste loodmyn het as die 1881-myn bekend gestaan en volgens oorlewering het vrouens en kinders op dié myn in die veld gewerk.


Van die sendelinge en hulle vrouens wat in die Edendale begraafplasie begrawe is. Voor: Hermann Heinrich Theodore Schloemann, Anna Luise Friedricke Schloemann, gebore Kratzenstein, Martha Hedwig Leue, gebore Gentsch, Anna Mathilde Charlotte Neizel, gebore Schloemann, Margarete Emile Lina Schloemann, Friedrich Karl August Sack en Johannes Albert Ernst Leue. Agter: Johann Martin Baumbach, Johannes Otto Prozesky, Johannes Carl August Sander, Otto Karl Papke, Georg August, Theodor Schwellnus, Willy Karl Leue, Paul Erdmann Schwellnus, Friedrich Theodor Johannes Trümpelmann, Georg Carl Windisch en Johannes Friedrich Petrick

Die myn, wat op linkerhand naby die Nooitgedachtpad se afdraai is as jy van Cullinan na Pretoria reis, was in die vorm van ‘n perdeskoen en daar was ‘n koekepanstasie en -spoortjie na die smeltery. Die tweede loodmyn was so vyf kilometer wes van die eerste een, nader aan die Mamelodi-kruising met Zambeziweg.

Volgens Graham Walter Reeks se proefskrif, ‘A history of silver mining in the greater Pretoria region, 1885–1999’, word dié twee myne as Edendale loodmyn een en twee beskryf. Hy sê dat die vroeëre deel tot die uitbraak van die Engelse Oorlog in 1899 in werking was en dat die myn toentertyd beskryf is as noord van Hatherly op die plaas Nooitgedacht 333 JR.

Volgens Graham se proefskrif was die produksie in die 1890’s 700.5 ton looderts en was die mynskagte nie dieper as 20 voet nie. Hy sê daar is ‘n moontlikheid dat die woord ‘Edendale’ ‘n verengelsing is van ‘n vroeëre naam ‘Uitendal’, wat óf na die myn óf na ‘n naam van ‘n gedeelte van die plaas kon verwys. Volgens ander bronne het plaas- en latere myneienaar Sir Thomas Keir Murray, die plek ‘Edendale’ genoem na die dorpie Edendale in Natal, wat in 1851 gestig is.


Die opstal van die sendeling-egpaar Schloemann op Edendale is vandag ’n kinderhuis
Foto: Hennie Malan

Myn
Mynregistrasies wys dat die volgende maatskappye op die plaas Nooitgedacht 333 JR bedrywig was: Edendale Loodmyn Sindikaat (1894–1905); Edendale Landgoed Bpk (1903–1909); Donerhoyul Tributing Syndicate Ltd (1911–1914); Edendale Inspeksie Sindikaat (1918–1919); EdendaleOntwikkelingsindikaat Bpk (1920–1923); Edendale Lood en Sink Maatskappy Bpk (1935–1937); Unie Loodmyn (1937–1938); Unie Silwer- en Loodmyne Bpk (1938–1941); en Edendale Loodmyne (1949–1974).

Volgens Graham se proefskrif was Edendale se nommer een en twee myne aansienlike bedrywighede vir die tyd waarin hulle ontwikkel is.


Die destydse kerkie van die Berlynse Sendinggenootskap op Edendale

Edendale loodmyn is uniek in die sin dat dit nooit onder die ‘Randlord’ sambreel geval het nie.
H Eckstein & Co het die myn vroeg in die 1890’s as potensiële beleggingsgeleentheid ondersoek, maar het nooit belê nie. Die myn se ontwikkeling was aan mindere spekulante oorgelaat en alhoewel die myn ‘n lang en produktiewe leeftyd gehad het, is ‘n buitengewone aantal maatskappye oor die jare gevorm net om saam met die myn te faal.


Die begraafplasie van die Berlynse Sendinggenootskap op Edendale, met Frau Anna Schloemann
se graf omhein

Sendelinge
Volgens Graham se proefskrif het Edendale Landgoed Bpk, wat in September 1903 begin het met kapitaal van £120 000, wat gestyg het na £200 000 in Januarie 1904, die plaas in 1904 van die Berlynse Sendinggenootskap gekoop.

Die Berlynse Sendinggenootskap is op 29 Februarie 1824 in Duitsland gestig. Die genootskap het sy eerste drie sendelinge in 1829 begin oplei en die eerste sendelinge is in 1833 na Suid-Afrika gestuur.

Tog wys ander bronne dat die hele plaas nié aan dié sendinggenootskap behoort het nie. Volgens Edendale-skool, ‘n lid van die Maragon Private Skole-groep, se geskiedenis het Edendale-plaas, Nooitgedacht, aan die Murray-familie behoort en in die laat 1800’s en vroeë 1900’s is die sendingstasie op ‘n 11 hektaar gedeelte van die Murray-grond gestig. ‘n Kerk is gebou en vroeg in 1900 is ‘n sendingskool daar oopgemaak deur die Schloemanns, wat aan die stuur van sake gestaan het.


Hoofsendeling Schloemann se vrou, Anna Luise Friedricke, ‘n nooi Kratzenstein, is op 5 Mei 1908 op Edendale dood

Willy Karl Leue, wat by die sendingstasie agtergebly het nadat Schloemann weg is, is op 9 Januarie 1962 hier dood

Hermann
Hermann Heinrich Theodore Schloemann is op 19 Mei 1856 op Twielhausen in die distrik Lübecke, Westfale gebore. Hy was getroud met Anna Luise Friedricke Schloemann, ‘n nooi Kratzenstein, gebore op 22 Mei 1860. Sy was die dogter van ‘n sending-inspekteur van die Berlynse Sendinggenootskap.


Die mynbedrywighede in Murray se tyd
Bron: Jan Malan

Die genootskap het Hermann op 7 Oktober 1879 as sendeling na Suid-Afrika gestuur. Hy het eers op Mphome en Waterberg gewerk tot hy op 18 Junie 1882 geordineer is. Daarna was hy vir 17 jaar lank op Malokong en is in 1899 na Krugersdorp verplaas. Hier het Anna toestemming gekry om die konsentrasiekamp te besoek en klere en goedere wat deur goedgesinde Duitsers na Suid-Afrika gestuur is, uit te deel.

Hermann het sending-superintendent geword en is na Pretoria en daarna na Edendale, wat hy die hoofsendingstasie in Transvaal gemaak het, verplaas. Anna is op 5 Mei 1908 op Edendale oorlede en haar graf is vandag nog in die klein sendeling-begraafplasie te siene.


Volgens Graham Walter Reeks se proefskrif is dit ‘n foto van die Edendale-myn met die spoorlyn vir die koekepanne in 1892

Landgoed
Intussen het die loodmyn voortgegaan. Edendale Landgoed Bpk, wat die loodmyn van 1903 tot 1909 besit het, se voorsitter en grootste aandeelhouer was JD Celliers en by die maatskappy se eerste algemene jaarvergadering het hy aangekondig dat ‘n skag tot ‘n diepte van 45 meter gesink is, ‘n tweede skag tot 61 meter en dat 11 000 ton erts ‘in sig’ was.


Volgens Graham Walter Reeks se proefskrif is dit ‘n foto van die hoofskag van nommer een myn, Edendale, rondom 1906

In September 1905 is daar gerapporteer dat die myn 1 120 ton looderts verkoop het. Een van die myn se grootste probleme was die invloei van water in die myn. Duur pomptoerusting het die probleem opgelos en deur dié water aan die Premier Diamantmyn te verkoop, kon die myn ‘n wins maak. Hulle het gemiddeld 18 miljoen liter ‘n maand aan Premier Diamantmyn verkoop.

Graham se proefskrif gee fyn besonderhede van die myn se ontwikkeling en opbrengs en in die jaarverslag vir 1906-1907 het die mynbestuurder, ‘n ene Roberts, gesê dat die erts-reserwes 37 658 ton is. Dit was glo die enigste myn van sy soort in Transvaal wat in staat was om erts direk van die myn te smelt.


Die 1881-myn soos hy vandag lyk. Dit is naby die plek waar die Nooitgedacht grondpad by
Zambeziweg aansluit

Murray
Daarna is die myn deur een van sy krediteure, Sir Thomas Keir Murray, in likwidasie geplaas. ‘n Mynverslag van Julie 1908 berig dat Murray die eiendom gekoop het en die myn wil heropen.

Sir Thomas Keir Murray is op 6 November in 1854 in Pinetown, Natal gebore. Hy was die seun van Archibald Keir Murray (1812–1889), seun van kaptein James Copeland Murray van Glasgow, wat in 1887 met Annie, dogter van Henry Procter getroud is.

Archibald het sy gesin na Natal gebring en in Pinetown gevestig. Sy ouer broer was ‘n uitgewer en het, met Archibald se hulp, die eerste spoorweggids vir Skotland gepubliseer. Hulle oom, Gilbert Murray, het na New South Wales getrek en die Murray en Gilbert-riviere ontdek.


Só is die melk afgelewer
Bron: Jan Malan

Die jong Thomas Keir Murray was skaars 17 jaar oud toe hy ‘n diamantdelwer by Colesberg-koppie geword het. Hy het as vrywilliger gedien in die Langabalele-, Zoeloe- en Engelse Oorlog en het die Murray Berede Brigade en Murray Verkenners op die been gebring. Hy was die hoof intelligensie-beampte op die personeel van generaal Clery en Buller en later algemene superintendent van burgerkampe.

Later is hy beskryf as Natalse boer, direkteur van die Natalse Bank en baie ander maatskappye, politikus, hoof-krediteur vir Zaaiplaats tinmyn, eienaar van Edendale Loodmyn, die dryfkrag agter die uitbreiding van die Natalse spoorlyn na Transvaal en ook kaptein van die Maritzburg Krieketklub.


Die Murray-dogtertjie in haar rymandjie op haar muil
Bron: Jan Malan

Minister
Sir Thomas Keir Murray was minister van grond en werke onder Sir John Robinson en koloniale sekretaris onder Harry Escombe en het Natal by die koninklike opening van die Australiese Statebond Parlement in 1901 verteenwoordig.


Die Murray-opstal vanuit ‘n ander hoek
Bron: Jan Malan

Hoe lank hy in die spog-opstalle op Edendale vertoef het, is onbekend. Die Murrays en Sammy Marks se gesin was goed bevriend en Murray en Marks dogtertjies het glo ballet op Sammy se biljarttafel gedoen as hy weg was.

Sir Thomas was eienaar van Edendale Loodmyn van 1908 tot 1909. Die myn het ‘n ernstige kontantvloeiprobleem ontwikkel en het in Desember 1909 gesluit. Eers in 1911 het die Donerhoyul Tributing Syndicate Ltd die myn weer oopgemaak.


Die Ayrshires op pad na Pretoria
Bron: Jan Malan

Of  Sir Thomas op die plaas aangebly het, is nie duidelik nie. Ons weet dat hy in 1936 oorlede is. Lank ná daardie tyd, toe Jan Malan van Cullinan daar ‘n draai gaan maak het, het hy bevriend geraak met Vernon Oliver, wat in die lang opstal langs die hoofopstal gebly het en met ‘n nooi Murray getroud was.

‘n ‘Oom’ Murray, wat waarskynlik ‘n seun van die oorspronklike Sir Thomas was, het ‘n melkery op die plaas gehad en het die melk met muilkarre aan Pretoria voorsien.


Die melkery
Bron: Jan Malan

Met skoutyd is daar drie stasie gestig op pad Pretoria toe. Die stoet Ayrshire koeie is dan tot by stasie een gevat, versorg en gemelk. Op dag twee is hulle tot by stasie twee gevat waar hulle weer versorg en gemelk is. Dag drie het hulle dan gestap tot by die skougronde in Pretoria Wes, waar dit vandag nog is.

Die diere was heeltyd versorg en gekam sodat hulle in goeie kondisie in Pretoria kon aankom. Op die plaas was daar ook ’n mak bobbejaan wat die diere help oppas het. Die dogter het ’n ry-muil gehad en daar was ’n rottangmandjie en saal gebou waarmee sy kon ry.


Nog ‘n gebou naby die hoofopstal van Edendale
Bron: Jan Malan

Sluit
Dit is nie duidelik wanneer die sendingstasie op Edendale toegemaak het nie. Sendeling Hermann Schloemann is ná Anna se dood ‘n tweede keer getroud met Helene Schultze, gebore 4 Augustus 1872.

In die Eerste Wêreldoorlog was Hermann ‘n belangrike skakel tussen die sending en die Unieregering. Sy goeie verhouding met generaal Smuts het die Berlynse Sendinggenootskap van ‘n geldelike ondergang gered, toe hulle weens die oorlog van fondse uit Duitsland afgesny is.


Oorblyfsels van destyds se mynbedrywighede

Hermann het Duitsland in 1923 besoek waar hy ‘n ere-doktorsgraad van die Universiteit van Berlyn ontvang het. Hy het teruggekom na Suid-Afrika en is in 1924 as komiteelid van die genootskap op die sendingveld benoem. Hy is in 1927 terug na Duitsland as sending-inspekteur en is op 23 Januarie 1940 daar oorlede.


Die loodmyn se perdeskoenvorm kan vandag nog uit die lug gesien word

Skool
Volgens Edendale-skool is die skool voortgesit onder die destydse Bantoe-onderrig departement nadat die sendingstasie toegemaak het. Die skool se geskiedenisdokumente sê dat Anglo American die plaas van Murray gekoop het vir die Promat-projek en dat ‘n ooreenkoms aangegaan is dat die sendingskool altyd aan die gang gehou sou word.

Promat het laat in die 1980’s dié skool oorgeneem en nuwe kampusse gebou op die plek waar die sendingstasie oorspronklik was. PEPPS is gevra om oor te neem en het die klein skooltjie van 50 leerlinge geprivatiseer. R Prenzler het aan die hoof gestaan en het die Edendale onafhanklike skool in 1991 ontwikkel.


Só het die opstal op die noordoostelike hoek van die Mamelodi-pad se kruising met
Zambeziweg eens gelyk
Bron: Jan Malan

Met befondsing van verskeie borge, onder andere die Japanese regering, is ‘n laerskool gebou. Die skool het in 1999 na die nuwe kampus getrek en 400 leerlinge het ingeskryf. Ouers het gevra dat ‘n hoërskool ook gestig moes word en in 2001 is die Edendale Hoërskool begin. Intussen het Promat College in die moeilikheid geraak. Befondsing het ná 1994 gestop en Promat het in 2001 opgehou funksioneer.

In 2002 het Edendale Skool toestemming van Promat gekry om een deel van die kampus vir die hoërskool te gebruik. Standard Bank, wat die verband op die Promat-kampus gehad het, het Promat gelikwideer en Edendale Skool het onderhandelings met die bank begin om ‘n sentrum vir gemeenskapsopvoeding en -opleiding in vaardighede, ‘n kerk en tuiste vir haweloses te bied.


Noord-Sotho Bybelvertalers: Rudolph Friedrich Gustave Trümpelmann, Ernst Ludwig Gustave Eiselen, Abraham Serote en Carl August Kadach

Ná vier jaar van onderhandelings is die kampus sowel as die gedeelte van die plaas geskenk aan Edendale onafhanklike skool, wat nou onder die naam Makhulong Edu-Centre funksioneer.

Só het Edendale Skool die kampus en plaas ontvang en ‘n belofte onderteken om nooit die grond te verkoop of dit vir ander doeleindes te gebruik nie.


Oorblyfsels van die ou opstalle

Makhulong het deel van die Maragon Groep geword. Sedert die middel van 2013 het die Maragon Private Skole Groep ‘n vennootskap met die Maragon Skole Groep aangegaan. Die oorgang was op
1 Januarie 2014 toe Maragon Oos Skool / Kollege amptelik Maragon Private Skole Olympus geword het.

Die naam Maragon kom van dié van die stigter, Margaret van Niekerk, wie se voornaam afgelei is van die Griekse woord ‘Margarts’ wat ‘pêrel’ beteken.

Oorblyfsels van die ou opstalle

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online