Koffie en koedoe op markdag Print E-mail
News - Vreethans
Tuesday, 26 July 2016 06:06
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

In ‘n brief skryf ‘n Bronnie-leser oor haar aangename kuierervaring op Bapsfontein en ons besluit op een kouewind Saterdag om te loop kyk. Met die intrapslag sien ons dat die metropool van Bapsfontein vandag kook. Dis markiedag voor die enkelry koopsentrumpie en die omgewing se mense is daar.

Voor en verby die lang winkelstoep is koopkraampies staangemaak. Die mense snuffel in groepies en staan in kringetjies in die sonnetjie en klets.  Dit lyk of die meeste besoekers mekaar ken: Gemoedelik.

Op die stoep se punt sit die kuierplekkie. In kunstige letters bokant die ingangsdeur is ‘Fantastic Baking Shop’ aangebring.


Koedoebroodjie op plank bedien

Aansittafeltjies staan voor en verby die winkeltjie op die stoep ingeryg. Ons neem by ‘n oop een plaas, maar die bytende windjie kry ons daar en dwing ons na binne. Hier is net plek vir ‘n paar tafeltjies en ons sit aan by die enigste onbesette een – vlak voor die betaalpunt. Fout.

Soos ek vermeld het, is die bakwinkel vandag baie besig. Die tou mense wat wag vir ‘n beurt by die stadige betaalpunt hier neffens agter my, werk glad nie rustigheid aan die hand nie. Gelukkig staan die motorfietsman, wat een tafeltjie eiehandig ingeneem het, op toe sy wegneem-pizza gereed is en ons kan ‘n entjie van die gewoel af wegskuif. Een van die ander hoendertandskaarse binnetafels word deur ‘n baba in ‘n drabed beset.

Dit verdien vermeld te word dat die plekkie smaakvol ingerig is en dat die snuisterye in die muurrakke en die dekor van ‘n kunstige hand getuig. Jy sou ‘n rustige koffie (baie lekker koffie) hier kon geniet op ‘n gewone Bapsfonteindag. Jy kan terloops uit ‘n groot verskeidenheid koffieverbuigings en ander warm drankies kies. En koek ook.


Baie lekker filtreerkoffie

Vir die soveelste keer staan ek verstom daaroor dat ‘n kuierplek binne ‘n amper uitsluitlik Afrikaanse gemeenskap nie ‘n spyskaart het nie: Net ‘n ‘menu’.

Jy kan ‘n gesondheidsontbyt van muesli, jogurt en heuning van die ‘menu’ af bestel teen net R17. ‘n Engelse ontbyt wat hulle ‘ basic’ noem kos R15 en dan kan jy onderdele van boerewors (die enigste Afrikaans op die ‘menu’), kaaswors en beesfrikkadel teen R15 elk byvoeg, of skyfies, spek, Weense worsie en roosterbrood teen minder. Drie-eier-omelette kos R35.

Duidelik geniet die plekkie se pizza die meeste aftrek en soos hulle van iewers agter af uitkom, kan jy verstaan hoekom. Die gebakte plattighede is groot en hulle is mooi. Die ses keuses kos tussen R60 en R70. Die hofie op die ‘menu’ sê ‘Pizza-lcious’. Hamburgers van bees of hoender weeg in teen R50. Die frikkadel belowe om van suiwer bees te wees en deel die broodjie se binneste met spek, kaas, braaiuie en blare. Die hoenderborsieburger kom saam met sampioenkaassous.

Spesiale disse vir die kortvolk word onder die opskriffie ‘Little Bambinos’ gelys. ‘n Ondernemende andersgeit is dat die kleingoed hulle eie kolwyntjies kan versier, of hulle eie koekies mag bak. Ek vermoed dat die tyd hiervoor op markdag sou ontbreek, want dit wemel van die ‘bambinos’.


Die langstoep-kuierplek voor die bakkerswinkel

Ons het in die onlangse verlede in oordaad aan pizza meegedoen en besluit om die broodjies te beproef. Jy kan kies tussen gerooster en oop en tussen bruin-, wit-, rog-, en tregterbroodjies. Glutenvry is ook beskikbaar. Vyf verbeeldingryke keuses teen tussen R20 en R35, kan jy kry.

My keuse val op die oopbroodjie met wildsvleis (vir die ‘menu’ vertaal as ‘game meat’) met braambessiesous, roomkaas en gekaramelliseerde uie. Metgesel besluit op die roosterhoender (‘rotisserie’) met heuningmayo, avo, tamatie en blare.

My ‘game meat’ is repies van koedoe en ek geniet dit, hoewel ek by nabetragting eerder die warmer, geroosterde weergawe sou verkies. Ook Metgesel is erg tevrede met haar hoenderrogbroodjie.

Die plekkie is ideaal vir ’n gemaklike, plattelandse kuier, maar vermy markdag as dit is wat jy wil hê.

 

© 2024 Die/The Bronberger