Oor jagters en bobbejane PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Tuesday, 26 July 2016 03:52
Untitled Document

Lankal, toe hy nog gejag het, sê Gert Mossie, was jag nog jag gewees. Jy het jou 303 afgestof, jou kakieklere en velskoene aangetrek en die veld ingeloop om biltong te loop soek. En jy het dit gewoonlik gekry.

Die jafels wat deesdae gaan jag lyk soos mak krismisboompies wat die veld invaar, behang met bandeliere, jagmesse, oprygstewels en allerlei fieterjasies, gerangskik oor die allerverskriklikste kamoefleerklere wat opsigself ‘n halwe plaas se geld kos.

Hy dink ‘n stomme bok skrik hom dood by die aanskoue van ‘n moderne jagter, voor ‘n skoot uit die duur teleskoopgeweer afgevuur kan word, sê Gert. Dit is nou as hy naby genoeg kan kom vir die bok om hom te kan sien.

Sommige ouens, sê Groot Piet in die hoek, verkies maar net om in die oude doos te bly. Hy wat Piet is jag nog en hy het vir hom anderdag die wonderlikste kamoefleeruitrusting aangekoop. Die klerk moes ure lank soek voor hy die kamoefleerpak in die winkel kon opspoor, sê Piet.

Dit was nie goedkoop nie, maar elke sent werd. Toe hy die eerste keer met sy kamoefleerklere ‘n bok in die oopte bekruip, sê Piet, het hy so naby aan die niksvermoedende gedierte gekom, dat hy eers agteruit moes kruip om ‘n skoot te kon inkry.

Ja, hy jag nie meer nie, sê Gert Mossie, maar hy geniet nog sy wildsbiltong en hy bly lief vir die bosveld en sy diere. Deesdae is hy ‘n waarnemer en hy skiet net soms met sy kamera.

Só sit hy anderdag naby ‘n trop bobbejane in die wildtuin en hy neem fyn waar dat bobbejane darem baie dieselfde as mense is, sê Gert.

En hy sien dat die wyfiebobbejane ook so in bondeltjies sit en skinder, terwyl die mannetjies uitblink in sit en niksdoen nie, of in sit en slaap. Dan krap een so nou en dan droomverlore aan goed wat wyfies nie het om aan te krap nie.

Hy neem toe ook waar dat jy die verskil tussen ‘n mannetjies bobbejaan en ‘n wyfie ook aan die voete kan sien. Net soos by mense, sê Gert Mossie, is die wyfies se voete heelwat kleiner as die mannetjies s’n.

Nou het hierdie waarneming hom effens verwar, sê Gert, want dit strook nie mooi met die alomaanvaarde teorie oor hoekom ‘n vrou se voete kleiner as ‘n man s’n is nie. Bobbejaanwyfies, sê Gert, het tog nie nodig om nader te kan staan aan opwasbakke en stowe nie . .

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online