Die heel beste viskos van my lewe PDF Print E-mail
News - Vreethans
Wednesday, 03 December 2008 22:42
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Langs die aansienlike entjie pad wat ek tot dusver op my lewensweg ‘oopgevreet’ het, het ek baie en gereeld met visse en viskos te doene gekry. Ek het die goed in verskillende oseane, riviere en stilwaters gevang en elke denkbare waterwesentjie op elke denkbare manier gaargemaak, of rougedoen, verorber. Jy kan maar sê ek ken van vis.

As ek dus nou sou sê dat ek onlangs moontlik die heel beste, geurigste, lekkerste viskos in my ganse lewe geniet het, dan kan jy maar glo - dit was deksels lekker. En ek sê dit nou.

Die plek se naam is Beef & Lobster Co en die gereg was ’n pangebraaide kabeljou. Ek het nie gedink die dag gaan aanbreek dat ek sou liries raak oor die beskeie ou kabeljou (cob) nie, maar dit het. Die spyskaart sê die “catch of the day” is altyd vars uit die see. Jy moet net die kelner vra wat dit is. Só gesê, só gevra en sy sê dit is “cob”. Eers dink ek R89 klink ’n bietjie kwaai vir ’n stukkie kabeljou, maar dit was natuurlik voor ek hom beproef het.

Ek bestel hom, pangebraai, en knap daarna kom die bestuurder/ kok half ontsteld by ons aan. Is ek seker ek wil diepgebraaide (deep fried) “cob” hê, wil die man weet. Ek verduidelik dat ek bedoel het “pangebraai” en hy verseker my dis ’n baie beter keuse. ’n Misverstand. Die porsie wat saam met rys en slaai aankom is ruim. Die vis is só onbeskryflik lekker dat ek my lyf Thomas hou en daarop aandring dat die gawe kelner by die kok moet gaan seker maak of dit werklik kabeljou is. Sy doen dit en dit is.


Selfs net by die gedagte daaraan, water my mond nou en amper vergeet ek om te sê dat ek ook ’n voorgereg geniet het: Ses groot, baie vars, heerlike oesters op ys teen R42. Dit was een van die plek se “specials” van die dag. Metgesel se “vegetarian platter” teen R79 was ook iets heel besonders en sy sê agterna, as ons haar ooit weer wil bederf oor sy so oulik is, moet ons vir haar weer dié platter kom koop. Dit is ’n ruim kombinasie van spinasie- en- fetapasteitjies, gebakte aartappel, aspersies, Halloumie-kaas, swart sampioen en ’n paar ander ‘regte’ groentes.

Beef & Lobster Co bied ’n baie wye keuse van die eetgoed wat in sy naam voorgestel word, kombinasies daarvan en nog heelwat meer. Jy kan kreef teen R320 per kilo geniet en jouself bederf met ’n reuse porsie garnale van verskillende groottes en aard teen R169. Lynvis kos R79. By ’n gebrek aan plek kan ek net aanbeveel dat jy self moet gaan kyk en beproef.

Net ’n waarskuwing: Dit verg versigtige vernuf om teen die smal trappe by die toilet uit te kom. Dit is in die Glen Village Noord sentrum langs Olympusweg.

 

 

© 2019 Die/The Bronberger