Goeie veldbestuur is bankrotbos se tier PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 26 July 2016 03:31
Untitled Document

Carel Breytenbach van Kleinfontein is ‘n weidingkundige wat kommentaar lewer op professor Hennie Snyman se werk, waaroor ons in ‘Neem bankrotbos oor in die Bronberg-gebied?’ in Die Bronberger se Mei-uitgawe berig het.

Carel Breytenbach

Uit 50 jaar se ondervinding van die Hoëveld-, Bankenveld-, Springbokvlakte-, Soutpansberg-, Westelike Bosveld- en die Waterberg-weidingsgebiede, het ek besef dat hetsy jy met weiding boer, of met akkerbou jou brood verdien, jy boer met grond, plante en klimaat.

Ek het baie gou besef dat daar in die natuur ’n balans is wat gehandhaaf en eerbiedig moet word, anders het jy probleme soos in die geval van bankrotbos. Dit is egter nodig dat daar ’n bietjie wyer na die prentjie gekyk word.

In die plante- en diereryk is daar ’n pionierspesie en ’n klimaksspesie. In die geval van die diereryk is dit maklik want dit is die mens, maar in die planteryk wat deur mens en dier benut word, is dit nie altyd so maklik om te bepaal watter spesie is pionier en watter is klimaks nie. Daar is altyd ’n mengsel van spesies soos in die geval van weiveld, en dit gaan ook verskil van gebied tot gebied, in ag genome die grondtipe, algemene klimaat en boerderypraktyke, wat dit selfs van plaas tot plaas kan laat verskil.

Gedy
In die geval van natuurlike veld sal ’n klimaksspesie uiteraard slegs gedy onder optimumgroeitoestande, terwyl pionierspesies sal gedy onder swak groeitoestande, en indien dit gehandhaaf word sal dit lei tot wind- en water-erosie van die gronde sodat lewensvatbaarheid tot niet gaan. Gaan maak gerus ’n draai deur die kommunale gebiede in Suid-Afrika en vergewis uself van die ellende wat daar bestaan.

In die gebiede soos tereg deur die skrywer genoem, is bankrotbos teenwoordig maar onder goeie weiveldbestuur word dit onderdruk deur die gras en kry dit dus nie kans om te vermeerder nie. Omdat dit as ’n pioniergewas gesien word kan dit onder goeie bestuur selfs uit die veld verdwyn. Dit is dus moontlik om pionier- en klimaksgewasse in dieselfde veld te vind in ’n sekere verhouding wat gaan afhang van grondtipe, klimaat en bestuur.


Veld wat deur bankrotbos oorgeneem word
Foto: Senwes

Verskil
Ek wil werklik verskil van die skrywer wat eers beweer dat oorbeweiding nie werklik die oorsaak is van die toename in bankrotbos nie, maar tog later meld dat oorbeweiding bydra tot die verhoogde toename en selfs oorname van die veld deur bankrotbos.

Die toename van bankrotbos is direk toe te skryf aan swak weidingsbestuur. Deur die oorbenutting van natuurlike weiveld word die grondoppervlakte aan die elemente ontbloot en vind daar ’n drastiese agteruitgang van grondvrugbaarheid, voghou-vermoë en die vernietiging van plant-vriendelike grond fauna en flora plaas. Die ideale toestande word dus geskep vir bankrotbos om te gedy en aan sy naam te voldoen deurdat die boer uiteindelik ook bankrot speel op ’n bankrotplaas deur sy eie toedoen.

Twee of drie seisoene se skade aan ’n klimaksveld kan nie eens binne ’n tydsbestek van 10 jaar herstel nie. Gaan lees maar hoe dramaties woestyn en semiwoestyn gebiede in Afrika en Suid-Afrika groei, die invloed van aardverwarming en die teenspoed wat daarmee gepaard gaan.

Negatief
Dit is waar dat hoë toedienings van stikstof en veesout die bossie sal laat vrek, maar dit is absoluut kortsigtig om die negatiewe implikasies van die twee stowwe nie in berekening te bring nie indien dit op groot skaal toegepas gaan word. 

Veesout se chemiese formule is NaCl of te wel natriumchloried in ’n 1:1 verhouding. Oplosbaarheid van sout is 360 g per liter water. Beide stikstof en sout in oormaat het nie net ’n vernietigende effek op plante nie maar het ook ’n uiters negatiewe effek op die grond. Stikstof veroorsaak onder andere versuring van die grond en kan met langdurige gebruik ’n totale negatiewe plantspesie-verandering veroorsaak, terwyl natrium en chloor in oormaat ook die grond flora en fauna vernietig en gevaarlike steriele omstandighede meebring wat plantlewe vernietig.

Dit dra ook by tot grondverdigting wat suurstof-uitruiling en vogindringing in die grond onmoontlik maak. Die produkte het dan ook die vermoë om grondwater te besoedel en onbruikbaar te maak.

Teendeel
Die teendeel is ook waar. Wanneer weiveld onderbenut of glad nie benut word nie, kan dit ook tot spesie-verandering lei, hetsy goed of sleg, gesien binne die gegewe stel omstandighede waarbinne dit plaasvind.

Uiteindelik bly die mens as die rentmeester verantwoordelik vir sy omgewing waarbinne hy woon en werk en as hy/sy die omgewing willens en wetens beskadig is hulle aandadig aan die vernietiging van die omgewing en behoort as sodanig verantwoordelik gehou te word.

Dit is elke inwoner van ons pragtige omgewing se dure plig om verantwoordelik toesig te hou oor sy/ haar onmiddellike omgewing tot almal en die omgewing se voordeel. Dit is al wat ons het en is boonop net aan ons geleen. Die vraag is: “Het die mens nie lank reeds al sy rentmeesterskap oorskry nie?”

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online