Ons draai die knop honderd jaar terug en kyk na Desember 1908 Print E-mail
News - Toeka se dae
Thursday, 04 December 2008 00:31
Untitled Document

Dit is Desember 1908, ses jaar ná die Anglo-Boere-oorlog, ’n paar jaar voor die Eerste Wêreldoorlog, die jaar waarin die reuse Cullinan diamant gesny is, ’n interkoloniale konferensie in Pretoria gehou is, Onderstepoort Veeartseny Instituut en TUK, voorloper van die Universiteit van Pretoria, gestig is. Ons kyk hoe poskaarte, Kerskaartjies, Nuwejaarskaartjies en Kerspersente vir kinders daardie jaar gelyk het.

Kersgroete

Jerusalem
Dié Kerskaartjie is vir Kersfees 1908 gestuur van New York na Jerusalem.
.
.
Verguld
Die vergulde Victoriaanse Kerskaartjie in reliëf blaai oop om binnekant ’n dogtertjie met ’n rooi rok en groot geveerde hoed te wys wat bessies in die sneeu pluk. Die agterkant van die kaartjie het ’n gedateerde nota op wat sê Kersfees 1908.
Kersvader
Die Kerswense met Kersvader en Kersbome pronk op’n poskaart wat in 1908 gepos is.
.
Porselein
Die antieke Deense porseleinbord beeld die oorspronklike Kerstoneel met die sterre in die woestyn uit. Bo-aan die bord sê dit Kersfees 1908.

Nuwejaarskaartjies

Vir 1909
Toeka se dae was dit blykbaar die gewoonte om Nuwejaarskaartjies ook te stuur. Dié kaartjie met die kat op is in 1908 gepos vir Nuwejaar 1909.
Vir 1908
Die Nuwejaarswense poskaart was vir die nuwe jaar van 1908, maar is nooit gepos nie alhoewel daar ’n boodskap agterop ingeskryf is.

Kersgeskenke

Pop
Dié Schoenau & Hoffmeister pop is in ’n porseleinfabriek in Burggrub, Bavaria gemaak van 1901 tot ongeveer 1910. Die
pop se oë het toegegaan
as sy gaan ‘slaap’ het.
Teestelletjie
Dié antieke 17-stuk kinderteestelletjie is van porselein en bestaan uit vier bordjies, vier teekoppies, vier pierings plus ’n teepot met deksel, en ’n suikerbakkie
en melkbekertjie met deksels.
’n Dogtertjie sou dit persent kon kry vir Kersfees 1908.
Os en wa
Dié antieke metaal ‘Cracker Jack’ treinenjin was
menige seuntjie se droom vir Kersfees.
.
.
Trein
In 1908 was ’n handgekerfde os en waentjie ’n
gesogte persent onder plattelandse seuntjies.
Dié antieke speelding is uit hout gemaak. Die
os het ’n draadring deur sy neus.
Liefdadigheid

Die tien Armeense kinders op die foto het nuwe klere gekry vir Kersfees 1908. In die laat 19de eeu het die Skandinawiese lande ?n menseregte rewolusie ondergaan en mense soos die Noorweegse sendeling, Bodil Katharine Biorn, het liefdadigheidswerk in Armenië begin doen. Sy het tot in 1935 met Armeniese vlugtelinge in Sirië en Lebanon gewerk.

Poskaarte

Portret
Dié poskaart is vir Kersfees 1908 gestuur. Dit is ’n portret van ’n vrou genaamd Annie. Blykbaar was dit daardie jare baie grênd om ’n portret foto van jouself in ’n poskaart te omskep.
.
.
.
.
.
Strandmodes
In 1908 het strandmodes effens anders gelyk as vandag. Die mans het met pakke klere en vroue met lang rokke op die promenade op en af gestap. Dié 1908 poskaart is van Hampton Beach, ’n stranddorp teen die Atlantiese Oseaan in die staat New Hampshire in Amerika.
Duitsland
Die poskaart van die ‘Festhalle am Hohenzollernplatz, Frankfurt’ is in 1908 gepos. Die eerste geleentheid wat in dié saal gehou is, was die Duitse Gimnastiekbyeenkoms in 1908.
Aardbewing
Dié poskaart bied die aardbewing van 28 Desember 1908 in Messina, Italië uit. Dit is deur Caruso & De Alessandri in Milaan uitgebring.

Motorkarre

Stoomkar
Die ‘White Flier’ was ’n stoomaangedrewe kar, bestuur deur Gus Seyfried. Hy het die myl binne ’n rekordtyd van 59 sekondes afgelê op ’n modderagtige baan by Tanforan op 6 Desember 1908. Tanforan was ’n perderesiesbaan in San Bruno, Kalifornië.

.
Indianapolis
’n Man genaamd Carl Fisher het die wêreld se spoggerigste motorrenbaan, die Indianapolis, tot stand gebring. Net voor Kersfees 1908 het hy vier vennote gevind en ’n ooreenkoms om die ou Pressley-plaas te koop, geteken. Twee maande later, op 8 Februarie 1909, is die renbaan amptelik gestig. Die eerste wedren is in Augustus 1909 daar gehou.
.
Model T
In Desember 1908 het Henry Ford sy eerste Model T Ford in Amerika gebou en gou het dié legendariese motortjies hulle weg na Suid-Afrika gevind. Die karretjies het diep spore in Suid-Afrika se geskiedenis getrap en verskeie staaltjies word vandag nog oor hulle vertel. Die eerste Ford, ’n Model A, wat buite Amerika verkoop is, is trouens in 1903 deur ’n Suid-Afrikaner, Arthur Youldon van Johannesburg, ingevoer.
.
Perdloos
Dié wêreld was in 1908 nog ietwat skepties oor die betroubaarheid van ‘perdlose’ voertuie. Dié illustrasie in 1908 se Kersuitgawe van ‘Harper’s Weekly’ beeld ’n stomme Kersvader in die verknorsing uit.

Kersversierings

Winkels
Ja, daar was Kersversierings in winkels in 1908. Dié is ’n foto van ‘Electric Avenue’ in Brixton, Suid- London. In 1908 was ‘Electric Avenue’ ’n befaamde inkopiestraat, beroemd vir sy Kersversierings. Besoekers het van heinde en verre gekom om hulle aan die skouspel te vergaap.
Fabriek
Selfs fabrieke het groot gegaan met versierings rondom Kerstyd. Die geskrewe deel op dié foto lees: “Xmas 1908. Cinco Factory Boyertown, PA (9).” Cinco was ’n soort sigaar wat daardie jare vervaardig is. Boyertown is in Berks County, Pennsylvania, Amerika.
Geen nodig
Krismis het nog altyd ‘groot eet’ beteken, maar toeka se slagters het nie ingegaan vir Kersversierings nie. Die foto is gedateer Kersfees 1908 en wys C Wood se slaghuis in Tunbridge Wells, Kent, Engeland. Daardie jare het Britse slagters almal donker blou en wit gestreepte voorskote bo-oor hulle wit voorskote gedra. Dit was ook die gebruik dat seuntjies, soos die een links op die foto, rokke gedra het.

Sport

Goue Kersgeskenk vir sy land
Reggie Walker van Suid-Afrika het ’n vroeë Kersgeskenk vir sy land gebring toe hy die 100 tree wedloop op die Olimpiese Spele van 1908 in Londen gewen het. Reggie was ’n laat inskrywing nadat geld inderhaas in sy provinsie, Natal, ingesamel is om hom spele toe te stuur. Die spele sou in Italië gewees het maar is na die uitbarsting van Vesuvius in 1906 na Londen verskuif. Die spele het van April tot in Oktober van 1908 geduur. Op die foto wen Reggie Walker, heel regs, goud vir sy land.
Rekord
Reggie Walker word skouerhoog deur Suid- Afrikaanse ondersteuners gedra ná hy die goue medalje in die 100 meter op die Londense Olimpiese spele van 1908 gewen het. Reggie se tyd was 10.8 sekondes, wat ’n nuwe wêreldrekord was.
Rugby
Dié Kerskaartjie is deur Victoriaanse rugbyspelers in 1908 aangestuur.
.

In en om Pretoria

Inter-koloniale konferensie
In Mei 1908 is ’n inter-koloniale konferensie in Pretoria gehou waar besluit is dat dit in Suid- Afrika se beste belang sal wees om ’n Unie van die self-regerende kolonies onder die Britse kroon te stig.
.
Diamant
Die Cullinan diamant is uiteindelik in 1908 gesny. Dié rekordgrootte diamant is aan Koning Edward VII geskenk. Hy het die Asscher broers gevra om die reuse steen te sny in nege diamante wat deel geword het van die Britse regalia, Engelse kroonjuwele of opgeëindig het in die persoonlike besit van die Britse koningshuis. Op dié publisiteitsfoto oorhandig mynoppervlakbestuurder Fred Wells, regs, die diamant aan McHardy wat dit dan terug gee aan Thomas Cullinan, links.
.
Veeartseny
Die Onderstepoort Veeartseny Instituut is in 1908 gestig en Sir Arnold Theiler was die eerste direkteur. Hy is in 1898 as staatsveearts van die ZAR ingesweer. Nadat hy in die Anglo-Boereoorlog geveg het, het hy baie van sy tyd aan die navorsing van siektes soos ooskuskoors, Afrikaperdesiekte, rooiwater, hartwater, galsiekte en nagana gewy. Sy navorsingsaktiwiteite het ’n nuwe navorsingstasie op die plaas Onderstepoort tot gevolg gehad.
.
Tuk gestig
Die Pretoria-sentrum van die Transvaal Universiteitskollege (TUK) het in 1908 sy deure vir studente geopen. Die kollege het as ’n Afrikaans- medium inrigting in Kya Rosa begin, ’n vierslaapkamer huis in Skinnerstraat 270 in sentraal Pretoria wat aan windmaker joernalis, Leo Weinthal, behoort het.
.

 

 

 

© 2024 Die/The Bronberger