Regsoorlog oor plakkers op hand PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 26 July 2016 03:28
Untitled Document

Dit lyk of ‘n volskaalse regsoorlog op hande is ná meer as 10 jaar se onderhandelings tussen die metroraad en Plastic View-plakkers se prokureurs.

Blessing Manale, Tshwane Metro se burgemeesterskomitee-woordvoerder, het in Junie gesê dat die raad vasberade is om die ongeveer 3 000 plakkers, wat onwettiglik op grond wat omtrent R400 miljoen werd is, te skuif.

Woodlane Village, beter bekend as Plastic View-plakkerskamp, is langs die NG Kerk Moreletapark, oorkant Woodlands Boulevard winkelsentrum.

Klopjag
Verlede maand het ons berig dat die polisie, sekuriteitsfirmas en gemeenskapspolisiëringsforums op 27 Mei ‘n massiewe klopjag by Plastic View-plakkerskamp uitgevoer het ná geweld tussen Basoeto- en Zimbabwe-burgers in die kamp.

Hofsake oor Plastic View dateer terug na 2006 toe die polisie die inwoners se skuilings afgebrand het. Inwoners het ’n hofbevel gekry wat die metroraad gedwing het om weer vir hulle skuilings op te rig en ‘n alternatiewe plan vir hulle te maak.

Die metroraad sloer sedertdien om met ’n werkbare plan vorendag te kom om dié plakkers elders te huisves. Luidens ’n hofbevel in Augustus 2009 deur die hooggeregshof in Pretoria is die metro verplig om ’n langtermyn-alternatief aan die inwoners te bied.


Plastic View plakkerskamp met huise wat miljoene werd is in die agtergrond
Foto: Ron Sibiya

Veiling
In April verlede jaar het ons berig dat Plastic View se plakkers en hulle regsverteenwoordigers dit reggekry het om twee stukke grond uit die Tshwane Metroraad se eiendomsveiling op 24 Maart 2015 te hou: Plase 279 en 285 Garsfontein, wat 110 en 106 ha groot is.

Die plase, wat rofweg vanaf die hoek van De Villebois Mareuilrylaan en Garstfonteinweg-verlenging tot by Mooikloofrif strek, is nie opgeveil nie omdat die plakkers hulle met die hulp van Regslui vir Menseregte tot die Pretoriase Hooggeregshof gewend het.

Garsfontein
Blessing Manale het in Junie gesê dat die raad steeds beplan om die plakkers na alternatiewe behuising naby Plastic View te skuif. Die raad het voorgestel om een-vertrek, voorafvervaardigde huise, bekend as oorgang-residensiële eenhede op te rig op ‘n stuk grond buite die Garsfontein-node.

Blessing het gesê dat die beste grondgebruik-beginsels vir langtermyn finansiële behoeftes vir die stad belangriker is as die selfsugtige belange van die Plastic View-regsargument.

Hy het gesê dat die raad nou die regsroete gaan stap omdat ‘n skikkingsooreenkoms met Regslui vir Menseregte hoogs onwaarskynlik blyk te wees.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online