Wat is die verskil? PDF Print E-mail
News - Kommentaar
Tuesday, 26 July 2016 03:16
Untitled Document

Dit is Die Bronberger se verklaarde beleid om nie betrokke te raak by party-politiek nie en ons staan daarby.

In die aanloop na die komende munisipale verkiesing is ons goedbedoelend uit verskeie oorde genader om die een-of-ander te skryf oor ‘n betrokke kandidaat of oor sy/haar politieke party se goeie hoedanighede, beleidsrigtings, edele planne en mooi prestasies. Ons moes telkens antwoord dat die party of kandidaat welkom is om dit self te sê – in ‘n betaalde advertensie, maar dat dit ongelukkig nie deel van die Bronnie se redaksionele inhoud kan vorm nie.

Wat is dan die verskil? Dít is die vraag wat ‘n sekere kandidaat se agent gevra het en wat jy, die leser, ook bes moontlik kan vra. Dit bly mos dieselfde inhoud, of dit nou in die redaksionele kolomme staan, of in ‘n advertensie?

Die Bronberger aanvaar met dankbaarheid, dog voorbehoude, elke advertensie van enige onderneming of instansie wat dit goed dink om ons as advertensiemedium te gebruik. Dit is ons lewensbloed. Ons aanvaar dit met sekere voorbehoude, soos dat die inhoud van die advertensie nie ooglopend pornografies, leuenagtig, misleidend, aanstootlik, skendend of vals mag wees nie. Ons aanvaar en verwelkom advertensies, maar ons staan nooit persoonlik pa vir die gehalte van die produkte of diens wat aangebied word nie. Dit geld alle advertensies – ook dié van politiese aard.

Ons is in die baie gelukkige posisie dat die Bronnie se gereelde adverteerders bykans deur die bank van eerlike inbors is en produkte en diens van gehalte aan ons gemeenskap se mense bied. Hierop mag hulle en ons maar baie trots wees. Natuurlik kry ons ook elke dan-en-wan met die uitsondering te doen. In elke gemeenskapskrat skuil daar mos iewers ‘n vrot appel of twee, maar dié word gou uitgegooi.

Dieselfde geld ongelukkig nie altyd die talle blaaie wat vir verskillende gemeenskappe in ons gebied deur die sosiale media op plekke soos Facebook geskep is nie. Hier gedy die vrot appels hardnekkig voort tussen die baie goeies wat daar wel ook in die appelkrat is.

Vasgevang in die sosiale media se vinnige manier van kommunikeer, is baie mense goedgelowig en gretig om halwe waarhede en blatante leuens te glo en dit vinnig te versprei. Die vrot appels is deeglik bewus hiervan. Wees baie versigtig . . .

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online