Sentrum het hulp nodig Print E-mail
News - Briewe
Tuesday, 26 July 2016 05:08
Untitled Document

Anette Bennett van Cullinan skryf:
Almal dra seker nou al by die tyd kennis daarvan dat die regering hulle ondersteuning aan ons land se gestremde mense, wat in regeringsentrums was, opgeskort het en daardie sentrums gesluit het.

Ek wil nie eens daaraan dink wat met die mense gebeur het wat geen familie of vriende het nie.

So het daar ’n nie-regeringsinstansie op Cullinan ontstaan in die Cullinan Care and Rehabilitation Centre. Daar het Dianne Noyile haar bemanning bymekaar geskraap en werk hulle sonder enige betaling vir die nuut-gestigte Siyabadinga Elderly and Disabled Project.

Mense, en sy het met niks begin nie. En ek bedoel niks. Geen beddens, beddegoed, eetgerei . . . niks. Danksy die plaaslike hospitaal wat gesluit is, kon sy beddens en matrasse kry. Ander mense het beddegoed, ens geskenk. Ook kry sy voedsel van ’n winkel af. En dit is wat daar is.

Die huur van die perseel is bykans R30 000, sonder water en krag. Die meeste van die pasiënte is bedlêend en is afhanklik van weggooidoeke. Omdat die sentrum nog nuut is, kry al die mense ook nog nie ongeskiktheidspensioen nie. U kan dus sien dat hier ’n geweldige nood is.

Daar is nog geen tafels om van te eet nie of om iets op neer te sit nie. Hier en daar is ’n stoel en hulle is afhanklik van skenkings wat klere, waspoeier, toiletpapier, kos, beddegoed, wasmasjien, strykyster, noodhulpmiddels, kaste en rakke betref.

Daar is 76 pasiënte en ek voorsien dat dit baie meer gaan word soos die staatsinstellings sluit. Enige bydrae wat iemand dus kan skenk is so verskriklik welkom. Daar is erg gebreklike mense wat op die vloer moet sit. As iemand dalk kinder plastiekstoeltjies het wat in die pad staan omdat die kleinding al te groot is, dink asseblief aan Siyabadinga! Die naam beteken: Gee/help/ondersteun die oumense en gebreklikes.

Baie, baie dankie vir Solidariteit en Helpende Hand. Hierdie mense het van sover as Komatipoort gekom met warm beddegoed, klere en sokkies, blikkieskos en koeldranke. Mense, julle moes die pasiënte se opgewondenheid en hoop sien toe hulle beddens nuut oorgetrek word en elkeen ’n eetdingetjie kry! Menige van ons kon die trane van dankbaarheid nie keer nie.

U is welkom om my te bel by 083-650-9922 of vir Dianne by 060-872-8834.

 

© 2020 Die/The Bronberger