Angie Kleijn
Wat het van Maria van Riebeeck geword ná sy in 1662 die Kaap saam met Jan verlaat het? Jan het in 1667, tien jaar voor sy dood, vir ’n tweede keer getrou. Ons het die spoor van die ‘regte’ Jan en Maria, wat glad nie soos hulle standbeelde in Kaapstad lyk nie, tot by hulle grafte gevolg.
Maria van Riebeeck
Foto: Wikipedia
Ironie
Jan van Riebeeck was baie ambisieus en wou glo uit die Kaap uit wegkom vandat hy geland het. Hy wou elders vir hom gaan naam maak en toe hy ná tien jaar die Kaap verlaat sou hy nie kon raai dat hy eeue later steeds as volksplanter aan die suidpunt van Afrika gesien sou word nie.
Hy sou ook nie raai dat dié volk sy gesig op hulle seëls en vanaf die 1940’s tot 1993 op hulle geldeenhede sou sit nie. Die ironie is dat dit wat ons as die portret van Jan van Riebeeck geëien het, glad nie hy was nie. Dit was die portret van Bartholomeus Vermuyden. Die portret van die ‘regte’ Jan is deur EC Godee Molsbergen geskilder.
Die standbeeld van Jan in die Kaap is ook ‘n afbeelding van Bartholomeus Vermuyden en dié van Maria is die Hollandse komitee-voorsitter se vrou, wat gehelp het om die 1952 Van Riebeeck-fees in Kaapstad te reël.
Dié standbeeld deur die Hollandse beeldhouer Dirk Wolbers is deur die Hollandse regering geskenk en die beeld is op 2 Oktober 1954 deur die Hollandse Prins Bernhard voor die Suid-Afrikaanse Nasionale Galery, Kaapstad, onthul. ‘Maria’ se standbeeld is later na die Heerengracht, regoor ‘Jan’ se standbeeld, verskuif.
Die bekende gesig op die vorige Suid-Afrikaanse geldeenhede behoort eintlik aan Bartholomeus Vermuyden. Die regte portret van Jan is deur EC Godee Molsbergen geskilder
Foto: SAHO
Slot
Die slot van Maria se verhaal het in Maleisië afgespeel. In die ‘Rooi Rose’ van Oktober 1958 skryf Jane Everard dat sy en haar man John op reis deur die verre ooste was en die ou hawe, Malakka, in Maleisië besoek het.
Daar het hulle op ‘n eenvoudige plat kliptafel afgekom waar ‘n moeder, haar seuntjie van ‘n paar dae oud en driejarige dogtertjie begrawe is. Die woorde wat in Engels op die klip uitgebeitel is, lees as volg:
“Hierdie tafel merk die graf van vrou Van Riebeeck, eggenote van Johan van Riebeeck, stigter van die Kaapkolonie. Die oorspronklike grafsteen is in 1915 na Kaapstad geneem.”
Maria de la Quellerie (Latyn: Quevellerius) is op 28 Oktober 1629 in Rotterdam gebore as die dogter van Abraham de la Quellerie en Maria, ‘n nooi du Bois van Frankryk. Haar pa was van Hugenote-afkoms en het uit Frankryk gevlug.
‘Maria Quevellerius, huisvrouw van Jan van Riebeeck, en haar omgeving’ deur WC Mees
Abraham was ‘n Waalse (Frans/Belgiese) predikant en is in die ouderdom van 41 jaar oorlede toe Maria vier maande oud was.
Sy het in Leyden, waar haar oupa, Chretien de la Quellerie, gewoon het en haar broer, Abraham, aan die universiteit studeer het, grootgeword.
Maria se ma het in 1647 na Schiedam getrek en dit is hier waar Maria twee jaar later as 19-jarige met Johan Anthoniszoon (Jan) van Riebeeck getroud is.
Bartholomeus Vermuyden
Foto: Wikipedia
|
Die regte Jan van Riebeeck
Foto: Rijksmuseum |
Jan
Jan is op 21 April 1619 as die seun van ‘n sjirurg, Anthonij van Riebeeck, in Culemborg gebore en het in Schiedam grootgeword. Sekere bronne dui aan dat Jan in Schiedam gebore is, maar dit lyk of die Van Riebeecks na Schiedam getrek het toe Jan drie jaar oud was.
Toe Jan 10 jaar oud was is sy ma dood en hy het by sy oupa, Govert Anthoniszoon van Gaesbeeck, in Culemborg gaan woon. Dié oupa was ‘n prokureur en notaris en burgemeester van Culemborg.
Jan was 21 jaar oud toe die Verenigde Oos-Indiese Kompanjiese Kamer van Delft hom in April 1639 as gekwalifiseerde wondmeester geregistreer het. In C Louis Leipoldt se 1938 boek, ‘Jan van Riebeeck: Die grondlegger van ‘n blanke Suid-Afrika’, skryf Leipoldt oor die navorsing wat hy oor Jan se opleiding gedoen het.
Leipoldt self was ‘n kinderarts wat sy opleiding by die mediese skool van Guy’s Hospital in Londen ondergaan het. Hy skryf dat Jan veel meer van die medisyne en sjirurgie af geweet het en nie net ’n bloedlater was nie. Die sjirurgynsopleiding was ’n baie duur kursus wat net die hoë lui se seuns beskore was.
Jan het ’n vakleerlingskap van vier jaar by ’n ‘wondmeester’ van die barbiersgilde deurloop. Daar moes hy die Eed van Hippokrates aflê, is geleer hoe die menslike anatomie werk, moes onder toesig van ’n ‘heelmeester’ opereer, ledemate wat ontwrig is herstel, gebreekte bene spalk, tande trek, wonde toewerk, deurgesnyde slagare toebrand en ook medisyne aanmaak en dit toedien.
As deel van hulle prakties moes elke student twee vlymskerp sjirurgynsmesse uit ’n stuk ru-yster slyp.
Die kliptafel wat opgerig is op die plek waar Maria, haar baba en driejarige dogtertjie,
Johanna, begrawe is
Foto: ‘Rooi Rose’, Oktober 1958
Aanstel
Jan is as onder-sjirurgyn aangestel op die skip, Hof van Holland, wat in 1639 na die ooste uitgevaar het. Hulle het Batavia, vandag bekend as Jakarta, eers ’n jaar en drie maande later bereik.
Drie maande nadat hulle Holland verlaat het, het die skip by Sierra Leone aan die Afrika-kus gesink. Die bemanning het land bereik en ’n deel van die vrag gered, maar hulle moes langer as ses maande wag voor hulle deur die skip, Sutphen, opgepik is.
In die verre ooste het die ambisieuse Jan gou gesien dat daar meer kanse op bevordering in die handel is. Hy het ’n klerk in die kompanjie se kantoor in Batavia geword en is in 1642 aangewys as sekretaris van ’n afvaardiging na die hof van die koningin van Atjeh op die eiland Soematra.
Die verkeerde Jan en Maria op ‘n brons medalje
Bron: BidOrBuy
In 1643 het Jan saam met Jan van Elseracq na die kompanjie se buitepos in Dejima, Japan, getoer.
Sewe jaar later, in 1650, het hy voorgestel dat dierevelle van Suid-Afrika in Japan verkoop moet word.
Jan is tot onderkoopman in Japan bevorder. In 1645 het hy waarnemende opperhoof geword en in 1646 koopman en sekunde in Tonkin, wat vandag in die noorde van Viëtnam is. Hy het die Tonkinese taal aangeleer, goeie betrekkinge met die vors van Tonkin gehandhaaf en snags vir die kompanjie in kaneel handel gedryf.
Die skildery van Jan van Riebeeck is in 1664 in Malakka geskilder. Dit behoort aan die Stad Kaapstad, wat dit in ’n pakkamer wegsluit
Foto: Marthinus van Bart
Afdank
Jan het egter ook begin om vir eie gewin handel te dryf. Dit het tot sy ondergang gelei toe die kompanjie die private handeldrywery stopgesit het en Jan na Holland terugstuur het met sy ambisie aan skerwe. Op pad terug het Jan Tafelbaai, waar die skip vir 18 dae oorgestaan het, gesien.
Jan en Maria is op 28 Maart 1649 in die Groote Kerk op Schiedam getroud. Daarna het hulle na Amsterdam getrek waar hulle eerste kind, Anthonij op 13 Maart 1650 gebore is. Hy is op 9 September 1651 dood, ná die geboorte van hulle tweede kind, Lambertus, in Augustus 1651. Maria sou oor die jare nege kinders kry, waarvan baie vroeg oorlede is.
Jan het by ’n ander handelsmaatskappy werk gekry en maande na hulle troue is hy Groenland toe en daarna na Wes-Indië. Uiteindelik het die kompanjie hom teruggeneem en Jan is as kommandeur van ‘n verversingspos op die kompanjie se roete na die ooste aangestel.
Op Oukersaand 1651 was Jan en Maria deel van die groot groep mense wat na die Kaap vertrek het om dié halfweg-verversingspos vir die kompanjie te stig. Ná ‘n uitmergelende reis het die skepe Drommedaris, Rijger en De Goede Hoop op 6 April 1652 in die Kaap aangekom.
Die vloot het oorspronklik uit vyf skepe bestaan, maar die Walvisch en Oliphant het ná 130 see-begrafnisse laat aangekom.
Volgens Godée Molsbergen, ‘De Stichter van Hollands Zuid-Afrika’, is dié Jan en Maria se dogter Elisabeth, gebore aan die Kaap op 25 September 1659, en oorlede in Batavia op 9 Oktober 1704
Foto: DBNL |
Volgens Godée Molsbergen is dié Jan en Maria se dogter Johanna, gebore aan die Kaap op 23 Januarie 1662 en oorlede in Malakka op 21 Julie 1665. Tog sê dr R van Luttervelt in ‘Die Huisgenoot’ van 7 Maart 1952 dat dié portret 'n seuntjie voorstel
Foto: DBNL |
Kaap
Die mans het aanvanklik in tente gewoon. Die hout waarmee die eerste plankhutte aan die Kaap gebou moes word, was heel onder in die skepe gelaai en die vroue het die eerste twee weke in ‘n tierende suidooster op die skepe gebly.
Ná die eerste nat winter in die Kaap is 19 mense dood, die groentetuine het weggespoel en min mense was gesond genoeg om te kon werk. Tog het Maria ewe formeel gaste vanaf die skepe ontvang en op ‘n klavesimbel, verwant aan die klavier, vir hulle gespeel.
Volgens skrywer en navorser, Marthinus van Bart, was dit nie vreemd dat Jan en Maria, as verteenwoordigers van Holland se Goue Eeu, Europese klassieke musiekinstrumente al die pad per skip saam met hulle na die Kaap gebring het en dit daar bespeel het nie.
Daar word onder meer in Jan se amptelike dagboek, ‘Daghregister’, na “muziekinstrumenten” verwys en dat ’n klavesimbel in die kommandeurswoning binne die Fort De Goede Hoop bespeel is. Die historikus WC Mees sê ook dat Maria die viool kon bespeel.
Standbeeld van Jan in Kaapstad
. |
Beeld van Maria deur Dirk Wolbers in Kaapstad
Foto: ilibrariana |
Jan het die aanvanklike fort van modder, klei en hout laat bou. Die Kasteel De Goede Hoop is eers in 1666 begin bou, toe Jan al weg was.
Die kommandeurswoning, ’n vierkantige, stewige woning met klipmure en ’n plat dak, is binne die Fort De Goede Hoop gebou. Daar was twee verdiepings met ’n raadsaal, kantoor, slaapkamer, ’n kinderkamer en binnetrap. Die raadsaal het glo ook as kelder en pakkamer gedien.
Nog vyf kinders is vir Jan en Maria aan die Kaap gebore: twee seuns, Abraham (in 1653) en die tweede Anthonij (in 1655), wat ook baie jonk gesterf het; en drie dogters, Maria (in 1657), Elisabeth (in 1659) en Johanna (in 1662).
Die twee oorblywende seuns, Lambertus en Abraham, is skool toe gestuur in Holland. Abraham het later in die kompanjiesdiens die hoë pos van goewerneur-generaal van Hollands-Oos-Indië beklee.
Jan en Maria se seun, Abraham (1653-1713), wat goewerneur-generaal van Hollands-Oos-Indië geword het
Foto: Rijksmuseum |
Jan en Maria se kleindogter, Elisabeth (1693-1723), was Abraham se dogter wat met Gerard van Oosten getroud is
Foto: Rijksmuseum |
Agting
Volgens ‘n Rooms-Katolieke priester, Nicolas Etienne, wat ná ‘n skipbreuk vir tien maande in die Kaap gebly het, was Maria een van die verstandigste vroue wat hy ooit ontmoet het. Hy skryf dat sy almal se agting weggedra het en besondere waardigheid aan die dag gelê het. Sy het ook haar mening voorbehou wanneer hulle godsdienstige verskille bespreek het.
Die priester het gesê dat sy haar moeilike taak as vrou van die stigter en kommandeur van die Kaapse nedersetting met buitengewone bekwaamheid vervul het. Sy het besondere belangstelling in die welstand van die mense om haar getoon en het gehelp met bevallings.
Maria het haar Koina-diensmeisie, Eva (Krotoa) wat later as ‘Eva van de Kaap’ bekend sou staan, as tolk gebruik om met die Khoikhoi, wat Hottentotte genoem is, te kommunikeer.
Volgens Marthinus van Bart was Maria ’n geleerde en hoogs intelligente vrou wat volgens haar stand en status deftig gekleed gegaan het. Hy sê sy was ’n knap sakevrou wat die eerste private bank aan die Kaap begin het deurdat sy geld aan vryburgers geleen het, wat hulle met rente moes terugbetaal. Sy het ook verskeie vee van haar eie besit.
Jan en Maria se voorhuwelikse kontrak
Foto: Gemeentearchief Schiedam
Wyn
Jan het geweet dat jong rooiwyn mense op skepe help om skeurbuik te verhoed en sy plan was om ’n wingerd by dié halfwegstasie aan te plant. Hy het steggies van Europa af bestel en die eerste druiwe is in die herfs van 1659 gepars.
Aanvanklik is die kompanjie se werknemers verbied om plaaslike bedrywe op die been te bring. Jan het aanbeveel dat vryburgers toegelaat moet word om te boer en handel te dryf en te help met die verdediging van die gebied. In Februarie 1657 het die kompanjie die eerste permitte uitgereik vir nege kompanjie-werknemers om langs die Liesbeekrivier te boer.
Dieselfde jaar is slawe van Batavia en Madagaskar ingevoer en die hawe het begin ontwikkel. Toe Maria en Jan in 1662 daar weg is, was daar 134 amptenare, 35 vryburgers, 15 vroue, 22 kinders en 180 slawe.
Interessant genoeg het Jan die eerste komeet wat in Suid-Afrika gesien is, op 17 Desember 1652 aangeteken. Jan se administrasie het in 1658 ‘n tradisie begin toe Autshumato, ‘n Khoikhoi tolk, na ‘n eiland in Tafelbaai verban is vir misdade teen die Hollandse owerhede. Die eiland is later Robbeneiland genoem.
Die woorde op Jan se grafsteen in Batavia gee sy ouderdom verkeerdelik as 58 jaar aan
Verlaat
Ná 10 jaar kon Jan ‘n ander betrekking kry. Met die seuns in Holland, het Jan, Maria en drie dogters die Kaap verlaat en in Julie 1662 met die skip, Mars, in Batavia aangekom. Hier was Jan eers lid van die geregshof en daarna kommandeur en president van Malakka aan die suidkus van Maleisië, wat toe as die Maleise Skiereiland bekend gestaan het.
Die vierde Van Riebeeck-dogtertjie, Antonia, is in 1663 in Malakka gebore. Op 2 November 1664, ‘n week ná die geboorte van ‘n vyfde seuntjie wat slegs enkele ure oud geword het, is Maria in die ouderdom van 35 jaar oorlede. Daar word bespiegel dat sy aan pokke dood is.
Min sou Maria kon raai dat die eerste Suid-Afrikaanse duikboot wat in Maart 1969 te water gelaat is, na haar vernoem sou word.
Die Maria-van Riebeeck-Klub is in die Tweede Wêreldoorlog deur skrywer, CM van den Heever se vrou, Martie, gestig. Die klub, wat in Pretoria en Johannesburg werksaam is, dien om die Afrikaanse kultuur en taal uit te bou en het ook ‘n Help-die-kind-fonds, wat skoolklere voorsien, en ‘n beursfonds vir studente.
‘Jan van Riebeeck tussen wal en schip’ deur Willem-Pieter van Ledden
Nooit
Jan het nooit na Holland teruggekeer nie. Vanaf Malakka is hy na Batavia waar hy as sekretaris van die goewerneur-generaal en Rade van Indië aangestel is. Dit was die hoogste regerende liggaam in die ooste en hy het dié pos vir 12 jaar beklee.
Jan het op 10 Maart 1667 met Maria Scipio getrou en hulle seun, Joan, is in Januarie 1670 gebore. Jan se gesondheid het agteruit gegaan en hy is op 18 Januarie 1677 in die ouderdom van 57 jaar in Batavia op die eiland Java oorlede. |