Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.
Uit meer as een oord het ek gehoor dat die spesiale Saterdag-T-been by Sandwani deesdae voortreflik is. Dit is Saterdag en ek voel my genoegsaam begerig vir ‘n goeie T-been en goeie geselskap in die oopte van ‘n kuierplek-op-die-plaas.
Ek en Metgesel en Metgesel se maatjie klim die Moembaai-taxi en sit op die sonnige Saterdag af Sandwani toe: Uit met die pad verby Japie se R&R, deur die mooi wildeseringveld van De Tweedespruit, tot by die plek se afdraai op die stukkie aarde waar die myn van weleer dongas gelaat het vir vandag se viertrekmense om te geniet.
’n Koedoeburger
Die kuierplek op Sandwani is ‘n groot grasdakrondawel met die gepaste naam van Die Wawiel. Die baie wit Toyota-bakkies wat voor die plek geparkeer staan, gee ‘n goeie leidraad oor wie vandag se gaste is.
Ons kry ‘n gesellige groep manne in kakieklere wat om die kroeg en om aansittafeltjies aan’t kuier is.
Hulle groet ons, soos wat boere en plattelandse mense neig om selfs met vreemdelinge te doen. Die enigste Engels wat ons dié dag by Die Wawiel sou teëkom, was die agtergrondmusiek en op die spyskaart. Dié is uitsluitlik in Engels, behalwe vir die woordjies; ‘boerewors’, ‘pap’ en ‘rugby’.
Hoenderschnitzel sonder groente
Ons loop sit aan by ‘n tafel neffens ‘n venster en ek bestel die te-drinke by die kroeg. Die pryse van vloeibare verversings is meer as billik, verdien terloops vermeld te word. Vreemdelinge praat met my by die kroeg. Een ou stap oor na ons tafeltjie toe en stel homself voor. Hy het ons nog nie hier gesien nie en waar bly ons, wil hy weet. Ons voel ons tuis.
Jy kan drie verbuigings van ‘n Engelse ontbyt by Die Wawiel bestel. Dit wissel in prys (R20, R40, R65) en omvang. ‘n Omelet kos net R10 en dan kan jy vulsels kies teen tussen R2 en R8. Pap en maalvleis kos R25.
Lanklaas het ek ‘n kroegete-spyskaart (pub lunch) in ‘n kuierplek raakgeloop. Wawiel het een met die bykans tradisionele kroegetes van biefstuk, eier en skyfies – R60 (steak, egg and chips) en ‘n geroosterde Nolsburger met skyfies – R65 (Dagwood) daarop ingesluit.
Mej Struis kom maak kennis
Burgers van bees of hoender, of ‘n Prego broodjie kos R50 en stokvis weeg in teen R55. Alles kry skyfies by. Kruisskyf kan bestel word saam met skyfies, gebakte, of kapokaartappels en kos R70 vir 200 g en R85 vir 300 g. Boerewors (R40) of die spesiale T-been van 500 g (R60) kan saam met pap en ‘sause’ bestel word. ‘n Groenslaai teen R14 of ‘veg’ van die dag (R10) is as bykos beskikbaar, sou jy wou. Jy kan ook ‘n aantal roosterbroodjies bestel en die plek het ‘n groot verskeidenheid houtoond-pizzas beskikbaar.
Die pizza wat ons saamgeneem het vir die aand se aanvulling, was na my smaak, maar Metgesel en Maatjie meen die kors was effe aan die dun kant.
Metgesel het groente by haar hoenderschnitzel met kaassous bestel, maar dit het nie saam aangekom nie. Sy verseker my dit is maar reg so, want die gebakte aartappel en smaaklike tuisgedoende schnitzel is vir haar genoegsaam. Vir my het die aartappeltjie maar eina en die bord kos bra vaal gelyk. Dit kos R60.
Gesellige kroegkuier
Metgesel se maatjie het die hoenderburger bestel en dit geniet, sê sy. Rasegte hoender word op die broodjie bedien en nie ‘n aangekoopte plat frikkadel (plattedel?) nie. Maatjie meen ook die handgemaakte ‘tjips’ is uit die boonste rakke.
My teleurstelling was geweldig toe Mark my meedeel dat die ou met die rooi trui daar by die kroeg die laaste beskikbare T-been bestel het – nou net. Mark is die ou wat by die kroeg diens doen, maar dit blyk dat hy eintlik die sjef is en dat die kroegdame juis gery het om nog T-bene te loop haal. Ek wil nie ‘n lankwag waag nie en bestel ‘n koedoeburger van ‘n swartbord teen die muur af. Dis ‘n ‘special’, sê hulle en kos ook R50.
Voor die rooitrui-ou loop, kom vertel hy my dat sy T-been die heel beste is wat hy nog ervaar het. Dié invryf raak erger toe my koedoeplattedel aankom en dis yskoud. Mark het vinnig die stukkie gemaalde koedoe warm gaan maak en gesê hy kry skoon skaam oor die glipsie.
Sportheldsketse teen Wawiel se mure
Foto’s: Esperance Grobler
Maar ons het gesellig en lekker geëet by die Wawiel. Sandwani is ‘n wildplaas en behalwe vir die gaste wat gemoedelik met ons gesels het, het ‘n uitgevrete volstruiswyfie kom kennis maak.
Deur die oop venster het Metgesel vir juffrou Struis met ‘n paar oortollige slaaiblare laat meedoen aan die maal. Wat me Struis gelukkig nie weet nie, is dat Metgesel, wat mos nie soogdiere eet nie, nogal partydig is vir volstruisvleis.
Jy kan 083-257-1516 bel vir bespreking en meer besonderhede. |