Die gebied wat ons vandag as Pretoria ken, was ‘n ‘leeuwnes’. Só skryf Maria Jacoba Minnaar wat in die middel van die 1800’s hierheen getrek het.
Maria was die groot oumagrootjie van Gerhard Potgieter, wat as dieregesondheidstegnikus vir die Departement van Veeartsenykunde in ons gebied werksaam is. Hy het dié inligting oor haar in die argiewe opgespoor.
Maria Jacoba Minnaar
Maria Jacoba Minnaar, gebore Bronkhorst, was die weduwee van ‘Swart’ Philip Minaar. Sy is op 10 Augustus 1827 op Graaf-Reinet gebore, ‘n dogter van Johannes Bronkhorst en Anna Minaar.
Maria is in 1834 met die eerste trek uit die Kaapkolonie weg. Haar pa het uit die Vrystaat saam met Potgieter na Zoutpansberg gegaan om in verbinding met Louis Trichard te kom. Maria het ook aktief aan die verdediging teen Silkaats by Vegkop deelgeneem.
Sy en ‘Swart’ Philip Minaar is in 1842 op Mooirivier getroud en het later na die gebied wat ons vandag as Pretoria ken, verhuis.
Arcadiabrug
Bron: Poskaart C1903; JH de Bussy |
Die drif, voor Arcadiabrug gebou is
Foto: Wiki.up.ac.za |
Sy het gesê dat dit ‘n mooi plaas was, “maar ‘n nes van leeuws”. Maria het vertel dat die mans Woensdae en Saterdae op ‘n leeujag gegaan het in die koppies rondom Pretoria.
“As ’n mens die omgewing om Pretoria in ag neem sal dit nogal sin maak dat dit ’n baie geskikte habitat vir leeus was,” sê Gerhard. “Daar is die Magaliesberge, Bronberg en verskeie koppies in en om Pretoria. Dit moes ’n wildernis gewees het met al die fonteine daar by Groenkloof en die “Mighty Apies” wat ook nog hier deurgeloop het.”
“Die naam ‘Leeubrug’ in die stad het ook seker een of ander spesiale betekenis in daai tyd gehad.”
Leeubrug voor die Apiesrivier gekanaliseer is
Foto: Wiki.up.ac.za
Leeubrug
Leeubrug, ‘n brug oor die Apiesrivier in Kerkstraat, is volgens sekere bronne so genoem omdat die digte struike en riete in die omgewing 'n veilige lêplek vir leeus was. Die laaste leeu in die omgewing is in 1858 geskiet.
Ongeveer in 1830 was daar op dié plek ‘n drif wat Meintjesdrift genoem is, vernoem na Stephanus Jacobus Meintjies wat die plaas Arcadia, waar die drif was, besit het.
Die eerste brug, Arcadiabrug wat in Oktober 1888 voltooi is, het weggespoel. Die brug is twee jaar later afgebreek en planne vir ’n nuwe brug is in 1893 deur staatsargitek en ingenieur van die ZAR, Sytze Wierda, voorgelê. ‘n Kontrak met bouer JJ Kirkness is in Augustus 1893 gesluit vir die bedrag van £10 880. Die brug is op 22 Desember 1893 voltooi.
Leeubrug in die dae van perdekarre
Foto: Wiki.up.ac.za
Dié brug moes in 1894 versterk word na vloedskade. Die vier brons leeus wat op die brug pronk is deur MacFarlane Sun Foundry in Glasgow, Skotland gegiet en deur Sammy Marks aan Pretoria geskenk.
Volgens sekere bronne word die brug ‘Leeubrug’ genoem oor dié brons leeus wat daar pronk, omdat daar leeus op die ZAR se wapen was. Ander sê weer dat leeu-standbeelde op ‘n brug oral deur Europa die gebruik is.
Leeubrug is op 31 Desember 1981 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Dit is die oudste brug oor die Apiesrivier wat vandag nog bestaan en gebruik word.
|