Rietvlei se oorlewende renosters onthoring ná strooptog PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Saturday, 18 June 2016 14:20
Untitled Document

Rietvlei Natuurreservaat het nege van hulle volwasse renosters se horings verwyder ná twee renosters, een ‘n dragtige koei, op 26 Mei deur stropers doodgemaak en onthoring is.

Die reservaat behoort aan die Stad Tshwane en Blessing Manale, die burgemeesterskomitee-woordvoerder, het gesê dat die polisie die saak ondersoek. Die moontlikheid dat reservaat-personeel by die voorval betrokke was, word ook opgevolg. Sekuriteit is verskerp en die reservaat was vir ‘n paar dae gesluit.


Die renosterbul wat doodgeskiet en onthoring is met die Rietvleidam in die agtergrond
Foto: Saving The Survivors - NPC 

Dit is nie die eerste keer dat renosters in Rietvlei Natuurreservaat gestroop word nie. Twee renosters is in 2010 ook deur stropers doodgemaak. Daarna is die renosters in die reservaat onthoring, maar die horings groei tussen 4 cm en 7 cm ‘n jaar.

In Oktober 2013 is vyf swaar gewapende verdagtes in hegtenis geneem toe hulle die natuurreservaat probeer binnegaan het. Die renosters is daarná weer onthoring en die plan was om die renosters elke drie jaar te onthoring.

‘n Duiker is glo die week voor dié stropery op 26 Mei vanjaar in die reservaat doodgeskiet.

Minister van Omgewingsake, Edna Molewa, het gesê sy hoop dat die stropers vasgetrek sal word. Sy het verlede maand gesê dat daar van Januarie tot April vanjaar 363 renosters in natuurreservate regoor die land deur stropers doodgemaak is.


‘n Volwasse Rietvleise renoster voor die strooptog afgeneem deur Gerhard Scheepers.

Volgens Save The Rhino is 1 175 renosters verlede jaar in Suid-Afrika gestroop in vergelyking met 1 215 in 2014.

Volgens die Wildernisstigting gebruik stropers gesofistikeerde tegnologie soos hommeltuie (drones), helikopters en nagsig-toerusting om renosters dop te hou.

Renosterhorings word na lande in Asië uitgevoer waar kopers die horings sien as ‘n seksstimuleermiddel, as kankergenesend en ‘n behandeling vir babelaas.

As jy enige inligting oor stropery het, bel die Wildernisstigting by 078-696-9494.

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online