Patel glimlag breed PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Saturday, 18 June 2016 14:18
Untitled Document

Dit was in die goeie ou dae, lank voor rakbiekwotas en soeperwinkels. Die dorpie se winkelstraat het sy gebruiklike Savoy Cafe en Madeira Garden Market in plek gehad. Karel se slaghuis, Cohen se negosiewinkel, oom Nols se haarkapper, die Groblers se begrafnisonderneming en Piet Pille se apteek was verder die straat af met Gert Ghries se Mobil vulstasie en werkwinkeltjie op die punt, waar die straat teen die grootste van die dorpie se ses kerke doodloop: Kerkstraat.

Aan die teenoorgestelde punt van Kerkstraat was die Transvaal Hotel met die dorp se grootste winkel, Hollman’s Algemene Handelaar, oorkant hom. Hollman was ‘n netjiese Hollander en by sy winkel kon jy enigiets denkbaar te koop kry. Die Hollmans was stinkryk, het die mense geskinder. Maar Hollmans was nie regtig die enigste groot winkel nie; aan die buitewyke van die dorp, anderkant die donga, was Patel’s General Dealer.

Patel het ‘n lang grys baard, ‘n lapmus en ‘n wit rok gedra. Die mense van die onderdorp het die meeste van hulle gebruiksaankope by Patel’s gedoen. Dit was algemeen bekend dat Patel baie ‘goedkoper’ as Hollman was. Die bodorp se mense het net daar gekoop as hulle dink niemand sien hulle nie.

Nou het dit in daardie dae só gewerk dat net een winkel per dorp die toestemming gekry het om skoolklere aan te hou. Dit was ook nie te verbase dat Hollmans dié departementele alleenreg op dié betrokke dorpie toegeken is nie. Ou Hollman was immers lid van die regte kerk, die regte politieke party en het aan die regte organisasies behoort.

Die dorpskool se ‘uniforms’ was baie basies – grys broekie en wit hempie vir die seuns en grys rompie met wit hempies vir die meisies. Die baadjies en truitjies was vlootblou en daarop is die skool se wapen op die sak en bors vasgewerk.

Hollman het ‘n ‘fortuin’ uit die verkoop van skoolklere gemaak, het die mense ook geskinder. Kinders was volop op die dorpie, waar nie veel in die vorm van vermaak gebied is nie, en kinders neig mos om te groei en kort-kort moet nuwe uniforms aangeskaf word. Onderlangs en agteraf is gekla dat ou Hollman darem vrek baie vir sy skoolklere vra en dit omdat hy weet niemand anders mag dit aanhou nie.

Toe, op ‘n dag, het die storie onder dorpenaars begin loop dat ou Patel ook nou skooldrag aanhou. En dis sommer baie goedkoper as dié wat Hollman verkoop. Die storie blyk toe waar te wees en almal met ‘n kind of ‘n kroos op skool begin om Patel se winskoop-skoolklere aan te koop. Selfs die hoogstes onder die bodorpers se spogmotors kon jy nou openlik voor Patel’s geparkeer sien staan.

Die baadjies, truie, broekies, rompies en hemde lyk op ‘n haar soos dié wat Hollman amptelik aanhou en daar is behoorlik ‘n toeloop om dit in die hande te kry. Ou Patel staan in sy rok op die winkelstoep en glimlag breed agter sy baard. Die Hollander is natuurlik hoogs ontsteld, maar hy is nie verniet die dorp se voorste sakeman nie en hy het kontakte.

Die kinders word met skoolopening deur die hoof daarop gewys dat Patel se klere nie ‘amptelike’ drag is nie. Op die boordjie-etikette moet ‘Zenith’ staan en nie ‘n gekrabbel in ‘n vreemde Oosterse prentjietaal nie. Die kleingoed kry briefies oor dié onding om huis toe te neem en ‘n dringende ouer-onderwyservergadering word geroep.

Die hele dorpie en sy ganse distrik is in rep en roer, maar die meeste ouers hou aan om Patel se goedkoop skooldrag te koop. Party ma’s vermom Patel se ingevoerde klere met ou Zenith-etikette wat hulle van uitgediende klere afhaal.

En toe, skielik een mooi dag, sê ou Patel hy is jammer, maar hy hou nie meer skoolklere aan nie. Mense sal maar weer die skooldrag by Hollmans moet kry, sê hy.

By Hollmans tref klante toe, tot hulle verbasing en ontsteltenis, dieselfde ingevoerde klere aan as wat Patel’s eers verkoop het. Maar dit is glad nie meer so goedkoop nie. Trouens, die ‘goedkoop’ Oosterse produk kos nou presies soveel as wat die amptelike Zenith-klere kos.

Die storie wat toe op die dorpie loop, is dat die Hollander nou al die skoolklere wat die Indiër invoer, direk by ou Patel aankoop en dit teen heelwat meer as waarteen Patel dit aan die dorpsmense verkoop het.

Patel staan nog in sy rok op die winkelstoep en glimlag breed agter sy baard en ou Hollman glimlag deesdae ook . . .

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online