Brandbach se laaste groot akkerboom het geval PDF Print E-mail
News - Rubrieke
Saturday, 18 June 2016 14:14
Untitled Document

Verlede maand het ons berig dat Floors Steenkamp van Brandbach op 25 April oorlede is. Jan Malan het vir die Bronnie geskryf hoe hy Floors as buurman en vriend onthou.

Jan Malan

Floors is as diaken gekies en het ‘n dorpswyk gekry waar die inwoners klein inkomstes gehad het en in staatshuise gewoon het. Hy het gou besef dat daar nood was en die meerderheid mense nie bydraes kon lewer vir die kerk nie.

‘n Boer maak ‘n plan. In plaas van bydraes te kollekteer, het hy die einde van elke maand vir hulle plaasprodukte wat op daardie tyd beskikbaar was, aangery en uitgedeel.

Uit die aard van die saak het die inkomste van die wyk bietjie gekrimp en het ’n vraag in die kerkraad ontstaan. Floors het vir die kerkraad beduie dat die taak van ’n diaken, volgens die Woord, is om uit te deel en nie om te versamel nie.

Die grootste sukses met ‘n regte, egte outydse kerkbasaar in die sewentigerjare, was deur Floors se toedoen. Normaalweg was die inkomste uit ‘n basaar so R4 000 tot R4 500. Met die ‘Floors Basaar’ het ons R47 000 gemaak.

Hy het produkte en slagdiere by die boere en andere gevra. Die bure het help aanry na die slagpale en die kerk. Dit was ‘n ongelooflike ervaring.


Floors Steenkamp

Boer
Floors het altyd groot gedink oor sy boerdery. Hy kon egter nie die seisoene vooruit bepaal nie. Dit het hom baie keer gekortwiek. Brandbach het ‘n baie wisselvallige klimaat.

Hy het die eerste draaitafel-melkstal in die distrik gebou en het melktyd met bykans 60% gesnoei. Hy het ook verskeie doelmatige implemente gebou, soos die Ratel, ‘n 14-tand hidroliese implement. ‘n Staalroller van 2 m x 3 m vir die rooigrondkluite op die besproeiingsgrond, en les bes ‘n grondboonplanter met resieskarwiele om die regte drukking in die grond te gee.

Dan is daar die KI-verse. Hulle was gereed om ge-KI te word en dit sou dan die vierde geslag KI-diere wees. Die buurman het egter ‘n klomp jong bulletjies van onsekere afkoms gehad wat anders oor die saak gevoel het. Toe die natuur dus vir hulle sê dis tyd, het hulle oor die heining gespring en gedoen wat hulle geglo het reg was.

Dié aksie het groot konsternasie veroorsaak. Die buurman is gebel en gevra hy moet vir Floors en Hans Jordaan, wat op daardie stadium saam gewerk het, gaan sien. Ek is aangesê om as onpartydige ook teenwoordig te wees. Die humeure was maar sleg. Floors het breedvoerig die saak uiteengesit van hoeveel skade hulle gely het.

Die buurman het stil geluister, nou en dan n’ja gesê, sy sigaret aangesteek, ‘n paar trekke gevat en dit dan doodgedruk.

Hy het hierdie proses deurgaans herhaal solank as wat Floors sy saak gestel het. Toe Floors uiteindelik terugsit, was daar ’n swanger stilte vir ‘n minuut en toe die buurman se antwoord: “Ek sal julle nie dekgeld vra nie.”

Ek het by die deur uitgestorm, myself op die gras neergegooi en gelag. Dit was loshande die lekkerste lag van my lewe. Binne die kantoor was daar ook totale chaos soos die manne gelag het. Hulle is in ‘n goeie gees uitmekaar.

Direkteur
Floors het baie goeie werk as direkteur van OTK gedoen en menige boer het sy voortbestaan op die plaas aan Floors te danke.

Floors se skoonma het vir hom uit die Vrystaat ‘n boerbokram en twee ooie in ‘n klein Citroën Cub motortjie gebring. Die ram het so ewe langs haar gesit en die twee ooie agter-in. Met sy aankoms by Floors het die ram vir ou Patrick, die tuinier, gekies as sy beskermer en hom oral gevolg waar hy ook al gewerk het, maar hom nooit na sy huis gevolg nie.

So gebeur dit dat Floors op ’n oggend ‘n direkteursvergadering moet bywoon op Bethal. Die motor is uitgestoot. Alles is reg en Floors moet net inklim en ry. Bok het egter nie dieselfde gedagte gehad nie. Ligvoets spring hy eers op die kar se neus en dan op die dak.

Floors kom uit, hy het ‘n pragtige silwergrys sybokhaarpak aan. Almal het nou al probeer om bok af te kry van die motor, maar hy staan sy staan. Floors gryp ‘n besem en por vir bok aan. Hy hou daarvan.

Ligvoets spring hy af en storm op Floors af. Die sybokhaarbaadjiepante wapper in die wind soos Floors uithaal kantoor toe. Hy klap net betyds die deur agter hom toe en bok stamp teen die deur. Dit was amper.

Nou-ja, ‘n deftige sybokhaarpak is nie ‘n waarborg vir waardigheid nie.

Skool
Ons buurman het baie goeie werk op die skoolbeheerliggaam gelewer met skerp insig. Hy het ook ’n ander prestasie behaal – hy was vir bykans 40 jaar as ‘n ouer verbonde aan ‘n skool. Sy laaste seun, Jan Harm, was die oom van Johan Jordaan wat langs hom in graad een gesit het. Johan was die susterskind van Jan Harm.

Buurman het vir baie jare in die bestuur van die Geloftefeeskomitee gedien as penningmeester. Hy het ook op verskeie ander rade en komitees gedien in verskeie posisies. Sy laaste aksie was om ‘n koekieklub by die kerk te stig, want “’n mens kan nie teedrink sonder ‘n koekie nie!”

Floors het siek geword en is in en uit die hospitaal. Met sy laaste opname het ek hom gebel om hom sterkte toe te wens. Sy eerste opmerking was dat ek nie moet kom kuier nie, aangesien ek self ook siek is. Hy het altyd omgesien na die welstand van die volgende persoon.

Ons het ‘n rukkie gesels waarna hy gesê het hy is moeg. Ons het gegroet. Die telefoon het geklik. Hy is ‘n paar dae later dood. Die laaste groot akkerboom van Brandbach het geval.

Ek groet jou my buurman, my vriend.

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online