Cullinan groet Renier Print E-mail
News - Ons Mense
Saturday, 18 June 2016 16:00
Untitled Document

Geliefde Cullinanse kuierplek-eienaar, Renier Booysen, is op 1 Junie voor sy restaurant, Villagers, oorlede. Volgens die polisie was daar geen vuil spel by sy dood betrokke nie.

Renier het glo gesê dat hy erge sooibrand het en was op pad na sy motor toe hy neergeslaan het. Hy is vermoedelik aan ‘n hartaanval dood.

Renier se vriend, Steve Cruywagen, wat voorheen sy vennoot by Villagers was, sê dat die polisie hom ongeveer 10 uur die aand met die nuus gebel het. Daar is bevestig dat die wond aan Renier se kop deur die val veroorsaak is. Sy beursie, selfoon en vuurwapen was nog aan sy persoon.


Renier Booysen

Renier, wat op 23 Desember verlede jaar 51 jaar oud geword het, het op Kaalfontein gewoon. Sedert die opening van Villagers in 2012 het Renier ‘n bekende figuur op die dorp en by die rugbyklub geword.

Sy heengaan is vroegoggend van 2 Junie deur tientalle mense op Cullinan se gebeure-whatsapp-groep betreur. Boodskappe het ingestroom en Renier se dood is as ‘n groot verlies vir die dorp beskryf.

Carien Davel van Oak House het gesê: “Renier was ’n great ou en goeie vriend vir baie in Cullinan.”

Kranse en swart roulinte is voor Villagers se geslote deure gelê in die dae ná Renier se dood. Sy begrafnisdiens was op 10 Junie vanuit die Victory Life-kerk in Annlin.

 

 

© 2020 Die/The Bronberger