Gee gestalte aan dankbaarheid PDF Print E-mail
News - Kommentaar
Saturday, 18 June 2016 13:52
Untitled Document

Die winter het sy langvakansie-kuier in die Bronberg-gebied in die naweek van 12 Junie met erns afgeskop. Saam met hom het hy iewers uit Kaapland uit, sy ysige wind en trietsige toestande gebring.

Gelukkig kon baie van ons, toegewikkel in warm wolklere, vertroosting voor kaggelvure en verwarmers vind. Ons kon weglê aan pannekoek en warm kommetjies sop, voor ons, veilig onderdak, met warmwatersakke en elektriese komberse bed toe is. Hoeveel van ons is werklik dankbaar vir dié voorreg? Hoeveel van ons dink net soms, of dalk ooit aan die baie mense in ons midde wat nie so bevoorreg soos ons is nie en hoeveel van ons doen iets daaraan?

Ons gebied is geseënd met ‘n hele aantal warmhartige welsynmense wat help omsien na medemense in nood en diegene met behoefte. Mense wat op eie inisiatief en deur gevestigde organisasies verligting help bring aan ander in die gemeenskap se haglike omstandighede.

Só ‘n omgeemens was Thea de Bruyn, wie se onlangse afsterwe (berig op bl 11) ‘n groot leemte in die welsynkringe van ons gebied sal laat. Maar mense soos Thea se werk word net moontlik gemaak deur die meelewing van die groter gemeenskap.

In Bashewa is ‘n gesin se huis en besittings onlangs deur ‘n brand vernietig en binne ‘n japtrap het die omgeemense van dié omgewing saamgesnoer om te help waar hulp nodig is. Dit laat die hart warm klop en herstel die vertroue in die eensgesindheid en ingesteldheid van ons mense. Lees die berig op bl 9.

Ons hoor deesdae só dikwels die uitdrukking; “maak ‘n verskil”, maar hoe kan ek en jy ‘n verskil maak aan die lewens van ons gebied se mense wat in hierdie snerpende tye honger en koud moet gaan slaap? Ons kan gee. Al is dit net een blikkie kos of een paar kouse, elkeen kan binne sy vermoë ietsie gee om die mense wat die welsyninisiatief neem by te staan en om iemand se winternood te verlig.

Op bl 21 van dié uitgawe kan jy lees hoe mense in die Rayton- en Cullinan-omgewing bygestaan kan word. Jou bepaalde gebied se tak van die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) kan jou op die regte spoor sit om ‘n verskil binne jou gemeenskap te maak. Klop aan by jou kerk, jou vrouefederasietak of enige welsyngroep om te hoor hoe en waar jy kan help – help net. Gee gestalte aan jou dankbaarheid en gee wat jy kan . . .

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online