Oumatjie Stoffberg begin as 71-jarige en maak ‘n groot verskil PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Tuesday, 24 May 2016 08:49
Untitled Document

Angie Kleijn

In die Rebeccastraatse begraafplaas in Pretoria is die graf van ‘n vrou wat 102 jaar oud geword het. Sy het die openbare lewe eers op die ouderdom van 71 jaar betree en het ‘n voorvrou in die Ossewa-Brandwag geword. Haar loopbaan het as ontfermer oor oorlogwesies begin, waar sy tot 40 tande per dag getrek het en selfs een keer met sukses ’n afgesnyde vinger aangewerk het.

Francina Susanna Aletta (Cinie) Stoffberg is op 24 Augustus 1865 op die plaas Nabygelegen in die distrik Wellington gebore. Sy was die tweede jongste van Pieter Rossouw en die weduwee Francina Malan se ses kinders, en ’n halfsuster van dr DF Malan se pa.

Cinie het op Groenberg in Wellington skoolgegaan en het op die ouderdom van 16 jaar as onderwyseres aan die Hugenote-seminarium gekwalifiseer. Daarna het sy vir twee jaar in die Piketberg-distrik onderwys gegee.

Cinie was 18 jaar oud toe sy op 2 Oktober 1883 met Theunis Christoffel Stoffberg, ‘n onderwyser op Riebeek-Wes getrou het. Theunis is op 11 Februarie 1861 in Rawsonville gebore en was die seun van Hendrik Christoffel Stoffberg en Maria Hester Geertruida (née Botha).

Mense wat vandag dink dis ongewoon dat Cinie op 16 jaar begin skoolgee het, sal verstom staan om te hoor dat Theunis op 17-jarige ouderdom prinsipaal op Riebeek-Wes geword het. Cinie en Theunis was koshuisouers van Die Ark op Riebeek-Wes, waar twee seuns wat later eerste ministers geword het, onder hulle sorg was: Jan Smuts en DF Malan, seun van Cinie halfbroer.


Theunis Christoffel en Francina Susanna Aletta (Cinie) Stoffberg
Foto: Wikipedia

Trek
Die Stoffbergs het in 1890 na Vryheid, wat toe nog deel van die ZAR was, getrek en Theunis het hoof van die Nuwe Republiekskool geword. Later het hulle na Utrecht en eindelik na Rustenburg getrek, waar hulle op Kroondal, ’n Duitse nedersetting in die distrik, gebly het.

In 1895 het president Paul Kruger vir Theunis gevra om inspekteur van skole in die ZAR te word. Hy het dié pos beklee tot die Engelse Oorlog in 1899 uitgebreek het. As Boerekryger was hy saam met generaal CF Beyers en is tot veldkornet en daarna tot kommandant en landdros van Soutpansberg bevorder.

Die kakies het Cinie en haar gesin na Pretoria gestuur, waar Louis Botha en Lucas Meyer se vrouens haar gehelp het om haar kinders na Riebeek-Wes terug te stuur. Sy het haar kinders later gevolg.

Theunis was saam met generaal Beyers deel van die kongres wat die Vrede van Vereeniging op
31 Mei 1902 voorafgegaan het. Knap ná die oorlog het dominee Abraham Kriel vir Theunis gevra om hom te help om ‘n kinderhuis vir oorlogswese te stig. Theunis en Cinie was tot in 1906 die huisouers van die Langlaagte-tehuis. Dit is daar waar Cinie ma en verpleegster vir die oorlogwesies was, terwyl sy nege kinders van haar eie gehad het.


Oumatjie Stoffberg, links, en die twee vroue wat saam met haar die versoekskrif oorhandig het in die vroueoptog na die Uniegebou op 22 Junie 1940
Foto: Wikipedia

Inspekteur
Jan Smuts het Theunis as inspekteur van onderwys aangestel, met die opdrag om leiding met die onderrig van Hollands te gee. In dié tyd het Cinie haar aan die Rand besig gehou met opheffingswerk onder oorlogsverarmdes. Met die 1914 Rebellie het Cinie aan die vroueoptog na die Uniegebou deelgeneem om die vrylating van generaal Christiaan de Wet en ander rebelle te vra.

Theunis het in 1915 as inspekteur van onderwys bedank sodat hy hom as die eerste kandidaat van die Nasionale Party vir die Volksraadsetel Rustenburg verkiesbaar kon stel. Hy het die verkiesing verloor en gaan boer tot hy hom in 1922 vir Witwatersberg verkiesbaar gestel het en weer verloor het.

Ten spyte van dié nederlae het Theunis in 1923 lid van die provinsiale raad vir Ventersdorp geword. Hy is as lid van die uitvoerende komitee gekies, en het dié pos vir nege jaar lank beklee tot hy in 1928 senator geword het, ’n amp wat hy tot sy dood beklee het.


Die eerste personeel van die Langlaagte-weeshuis. Theunis Stoffberg sit derde van links, dan ds Abraham Kriel en Cinie Stoffberg
Foto: Wikipedia

Theunis was lank lid van die Nasionale Party in Transvaal se hoofbestuur, was voorsitter van die party se koukus in die provinsiale raad en ná die samesmelting van die Nasionale en Suid-Afrikaanse Party het hy by die Nasionale Party aangebly.

Theunis het skielik op 12 Junie 1937 aan ‘n hartaanval beswyk terwyl hy as voorsitter van ‘n vergadering in Pretoria opgetree het. Cinie was deur die jare ‘n steunpilaar vir Theunis, maar dit is eers ná sy dood dat sy, op 71-jarige ouderdom, bekend as Oumatjie Stoffberg, aktief aan die openbare lewe begin deelneem het.


Die seuns van die Langlaagte-weeshuis, meestal oorlogswese, omstreeks 1904
Foto: Wikipedia

Aktief
As groot voorstander van die Afrikaanse taal en kultuur het Oumatjie Stoffberg op 30 September 1937 die groot Vomag-rolpers aan die gang gesit om die eerste ‘Die Transvaler’ te druk.

Die volgende dag se voorblad het berig dat etlike honderde Afrikaners, wat alle Afrikaanse organisasies aan die Witwatersrand verteenwoordig het sowel as Afrikaanse predikante en onderwysers, om 2.30 nm in die masjienkamer van die Voortrekkerpersgebou byeengekom het om te sien hoe Oumatjie Stoffberg ’n elektriese knoppie druk wat die groot rolpers in beweging gebring het.

Oumatjie Stoffberg was die model vir die ou moeder in die tweede paneel van die historiese fries in die heldesaal van die Voortrekkermonument. Daarop oorhandig Grahamstad se burgemeester, Newton Thompson, ’n Bybel aan die trekleier Jacobus Uys. Sy wou glo eers nie vir 'n ‘gesnede beeld’ poseer nie, maar het later ingestem, solank sy 'n Bybel mag vashou.

Oumatjie Stoffberg het erelid van die Vroueraad van die Herenigde Nasionale Party of Volksparty van Transvaal geword, het as beskermvrou van die Vroue-vryheidsbeweging opgetree en het voorbidder van die Ossewa-Brandwag geword. Die Cinie Stoffberg-kommando in die Ossewa-Brandwag, wat spesifiek aan die rehabilitasie van minderbevoorregte Afrikaners (die armblankes) gewerk het, is na haar genoem.


Vroue wagkamp in die tyd van die
Ossewa-Brandwag
Foto: Erfenisstigting
.
.
.

’n Paar bekende krygsmanne uit die Engelse Oorlog by die Vredeskongres op Vereeniging. Van links na regs: Maj MJ Dommisse; FS van Manen; Hendrik Mentz; Generaal Beyers; kaptein Heinrich du Toit; en kommandant TS Stoffberg
Foto: repository.up.ac.za

Ossewa-Brandwag
Charl Blignaut, ’n geskiedkundige verbonde aan die Noordwes-Universiteit, word beskou as dié kenner oor die Ossewa-Brandwag en veral vroue se rol in die beweging se verset. Hy sê dit was ‘n massavolksbeweging met tot 400 000 Afrikanerlede en dat die intens emosionele opwelling van die landwye Groot Trek-eeufeesvierings in 1938 tot die Ossewa-Brandwag se ontstaan gelei het.

Baie Afrikaners se oogmerk was destyds die herstel van die ou Boere-republiekse ideaal, wat met die Engelse Oorlog tot niet gegaan het. Daar was ’n onvriendelike onderwysstelsel wat gepoog het om Afrikanerkinders se verbintenis met hulle verlede los te maak. Kinders het die Britse Ryk se geskiedenis geleer en het nie ’n idee gehad wie Piet Retief, Hendrik Potgieter of Andries Pretorius was nie.

Soos die ossewaens met die eeufees herdenking van die Groot Trek oor die ou trekroetes beweeg het, het baie Afrikaners hulle identiteit, kultuur en tradisies herontdek. Enkele maande na die Ossewa-Brandwag se stigting, het die Tweede Wêreldoorlog in September 1939 uitgebreek en Afrikaners was bitter omdat die Smuts-regering dié oorlog aan Brittanje se kant toegetree het.

Dié bitterheid het feitlik oornag van die Ossewa-Brandwag, wat as ‘n kultuurbeweging ontstaan het, ‘n versetbeweging gemaak wat gemeen het dat hulle ‘n tweede 1914-Rebellie lei.


Oumatjie Stoffberg was die model vir die figuur wat regs sit op die tweede van 27 panele in die historiese fries in die Voortrekkermonument  
Foto: Wikipedia

Vroue
Vroue het geld vir die Ossewa-Brandwag se noodhulpfonds, waarmee geïnterneerdes se gesinne onderhou is, ingesamel. Vroue was ook besonder kreatief in die herberg van voortvlugtiges wat deur die regering gesoek is.

Lydende verset is deur bekende Afrikanervroue aangevuur: aktrise Anna Neethling-Pohl, Erika Theron, die skrywer MER (Miemie Rothmann) en Emmeline Johanna (Emmie) du Toit Steyn, die jongste dogter van oud-president MT Steyn. 

Erika Theron was ‘n bekende maatskaplike werker, akademikus en kampvegter vir vroueregte in akademiese instellings. Vanaf die 1950’s het sy op die Stellenboschse stadsraad gedien, insluitende ‘n termyn as onderburgemeester en as burgemeester.


Die voorblad van die eerste ‘Die Transvaler’ op 1 Oktober 1937, waar berig is hoe Oumatjie Stoffberg die rolpers aangeskakel het
Foto: Wikipedia

MER, Maria Elizabeth (Miemie) Rothmann, was ‘n Afrikaanse skrywer wat ’n belangrike rol gespeel het in die onderhandelinge wat tot die stigting van die Voortrekkerbeweging in 1931 gelei het. Sy was ’n vurige stryder vir die bemagtiging van vroue en pleitbesorger vir armes, was vroueredaktrise van ‘Die Burger’, die enigste vrou op die Carnegie-kommissie, ’n wenner van die Hertzogprys en aktiewe lid van die Nasionale Party van Kaapland, wat met die partykongres in 1933 as ondervoorsitter van die hoofbestuur verkies is, ’n amp waarin sy net ses maande gedien het. Miemie was ’n entoesiastiese ondersteuner van die Ossewa-Brandwag en het end-uit lid van dié organisasie gebly.

Dié vroue het die regering probeer ondermyn deur protesoptogte, petisies en selfs ondergrondse optrede. Of Oumatjie Stoffberg, wat haar in die Ossewa-Brandwag met die opheffing van armblankes bemoei het, bewus was van die ondergrondse take wat ander vroue verrig het, is nie bekend nie.

Oumatjie Stoffberg het haar lidmaatskap aan die Ossewa-Brandwag so verduidelik: “Toe kom daar ’n versoek van die Ossewa-Brandwag: ‘Sal Oumatjie nie by die beweging aansluit om op te tree as ons voorbidder nie?’ Hoe kon ek weier as my volk my nodig het?”


‘Die Huisgenoot’ van 12 Julie 1940 berig: “Die groot skare vroue wat op die Pretoriase Kerkplein byeengekom en daarna in optog na die Uniegebou gegaan het om ’n vredespetisie aan die Regering
voor te lê.”
Foto: Wikipedia

Geweld
Volgens Charl Blignaut moet die sabotasie en geweld wat dikwels aan die Ossewa-Brandwag toegedig was, eerder voor die deur van hulle militante Stormjaers-afdeling, bestaande meestal uit mans, gelê word. 

Die jeugdige Stormjaer, Cas Bakkes, het genoem dat dit “’n militante geheime ondergrondse vertakking van die Ossewa-Brandwag” was wat “miskien die droom van ’n Republiek langs die weg van ’n staatsgreep sou kon verwesenlik.”

Tog, volgens Charl was daar ‘n vrou wat taamlik radikaal was en wat waarskynlik die Stormjaers se eed geneem het. Anna Neethling-Pohl was die vurige dryfveer wat in Junie 1940 in vyf dae die protesoptog van byna 10 000 vroue, waaraan Oumatjie Stoffberg deelgeneem het, na die Uniegebou gereël het. Vroue van dwarsoor die land het telegramme van steun gestuur en byna 150 000 handtekeninge is aan Jan Smuts oorhandig.


Die skrywer MER, Maria Elizabeth (Miemie) Rothmann
Foto: Wikipedia

Erika Theron
Foto:www.stellenboschwriters.com
.

Aktrise Anna Neethling-Pohl, 1938
Foto: Zuid-Afrikahuis

Die protesoptog was op Saterdag 22 Junie 1940. ’n Deputasie van drie vroue, beskryf as ‘bejaarde volksmoeders’, waaronder Oumatjie Stoffberg, het die versoekskrif om neutraliteit in die Tweede Wêreldoorlog by die Uniegebou aan die destydse eerste minister, Jan Smuts, se sekretaris, minister JH Hofmeyr, oorhandig.

Oumatjie Stoffberg het haar rol so verduidelik: “Toe die versoek kom: ‘Sal Oumatjie aan die vroue-optog as één van die leidsters deelneem, sal sy saam met die afvaardiging gaan om generaal Smuts te ontmoet?’ was dit vir my ’n duidelike stem van my geliefde volk wat my roep. Toe 'n versoek kom wat reeds as 'n innige verlange in my hart gebrand het, om die vroue van Suid-Afrika op te roep tot gebed vir die volksraadsitting en die vredesversoek van duisende wat voor die parlement gelê moes word, was dit ’n nuwe roepstem van my volk.”


Aandenkingspamflet van die Vroue-optog in Pretoria op 22 Junie 1940
Foto: Bid or Buy

Jan
Jan Smuts, wat as skoolseun vir Oumatjie Stoffberg as koshuismoeder gehad het, was nie bereid om die afvaardiging te ontvang nie, omdat hulle versoek in stryd was met die beleid van die regering en die besluite van die parlement.

Al is die ‘ou volksmoeders’ se versoek om neutraliteit geweier, het Oumatjie Stoffberg deur die jare aanhou korrespondeer met Jannie Smuts. Hy het na haar verwys as “my ou moedertjie”, wie se liefde vir hom dierbaar was.

Dr DF Malan het haar op ’n keer bestempel as ’n “onmisbare geestelike kragsentrale” wat deur haar briewe oor die jare, vandat sy koshuismoeder vir hom ook was, ’n skakel tussen hom en Jan Smuts was.


Dié foto het in die Ossewa-Brandwag jaarboek van 1948, bl 51 verskyn en wys Boeredogters in hulle Ossewa-Brandwag Voortrekker-uniforms

Oumatjie Stoffberg het gemiddeld 500 briewe per jaar geskryf, soms tot 30 ’n week, aan bekendes en onbekendes in Suid-Afrika en die buiteland. Alle briewe is as “Oumatjie Stoffberg” onderteken. Onder haar wye vriendekring het ses van Suid-Afrika se eerste ministers getel.

Sy het ook bydraes aan ‘Die Burger’, ‘Die Boerevrou’, die kinder afdeling van ‘Die Kerkbode’ en ‘Die Vaderland’ gelewer. Die FAK het op haar 101ste verjaardag ’n oorkonde aan Oumatjie Stoffberg toegeken as blyk van waardering vir haar onbaatsugtige liefde teenoor gesin, medemens, volk en taal.

Sy is op 1 Oktober 1966 oorlede.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online