As grootmense jou ‘oom’ noem PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Tuesday, 24 May 2016 08:48
Untitled Document

Die waarheid is, sê Gert Mossie en hy sug, dat hy tot anderdag toe nog geen, maar hoegenaamd geen, ouderdomsbegrip gehad het nie. Jy het drie soorte mense gekry: Babas, kinders en grootmense. Vir hom was 'n grootmens wat nog regop staan, net nog 'n mens en een wat dit nie doen nie was waarskynlik 'n oorlede mens, of 'n siek mens, of dalk ’n baie dronk een. Hoe oud só ‘n grootmens was of is, was vir hom 'n onbenullige toevalligheid, sê Gert.

En toe hy sy twee oge op 'n mooi dag uitvee, begin grootmense vir hom 'oom' sê. Grootmense, sê Gert. Toe dit gebeur, het hy aanvanklik oor sy skouer geloer of daar dalk ‘n oom agter hom staan en hy het sommer erg omgekrap en half ongeskik daaroor geraak. 

Op ‘n dag vra ‘n apteektannie vir hom: “En hoe gaan dit vandag met my oompie?” Toe antwoord Gert Mossie vervaard dat hy glad nie sal weet nie, want hy ken nie eers haar vervlakste oompie nie.

Hy het lank teen die onvermydelike baklei, sê Gert. Oudword was vir hom soos 'n boetie wat vir die Stormers skree. Jy besef dis 'n nare werklikheid, maar jy sien dit as 'n malligheid waaroor nie gepraat word nie.

As mense hom sou vra hoe oud hy of enigiemand anders is, het hy altyd gedink daar is 'n groot skroef in hulle koppe los, of weg. Hoekom sou hulle dit dan wou weet? Hoekom is dit belangrik? Maar die kranksinnigheid het met genadelose volharding toegeneem, sê Gert en hy sug weer uitgerek voor hy ‘n slukkie vat.

Hy het begin agterkom dat mense dadelik wil weet hoe oud 'n betrokke iemand was, as jy vir hulle sou meedeel dat dié of daai een toe aanbeweeg het. Hy dink mense wil dit weet om hulle eie kanse vir nog 'n paar jaar op die ou ondermaanse te meet teen die oorledene se 'track record'.

Hoeveel het hy gesuip en rumoer? Het hy sy vitamienes gedrink? Het hy gereeld geoefen en gesond geëet? Was hy 'n goeie mens? En die belangrikste vraag; vir hoe lank het hy dit, ondanks alles en dalk as gevolg daarvan, gemaak? Hoe oud was hy? 

Maar hy wat Gert Mossie is, moes hom intussen maar berus by die werklikheid van oudword en voel hom selfs dankbaar oor die geleentheid om die jare op te stapel. Hy het nou aanvaar dat hy iewers langs die pad, toe hy weggekyk het, in ‘n oom verander het. Wat hy eintlik wil weet, sug Gert, is of hulle wat hier in die kuierplek saam met hom sit, nie ook soms vreeslik benoud raak oor die ouderdom en die onvermydelike ophou van die pad nie?

Groot Piet in die hoek, kyk lank en stip na Gert Mossie. ‘Diep,’ sê hy. ‘Baie diep.’ Maar wat hy nou eintlik op sy beurt wil weet, sê Groot Piet, is of oom Gert nie vir hulle dalk ‘n bruisdrankie wil koop nie, voor dit dalk te laat is.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online