Neem bankrotbos oor in die Bronberg-gebied? PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 24 May 2016 08:46
Untitled Document

Neem bankrotbos oor in die Bronberg-gebied?

Die Noord-Oos Gautengse Bewarea-groep, wat die ou Kungwini-munisipaliteit se gebied dek, doen ‘n opname oor bankrotbos in ons kontrei.

Bankrotbos is inheems aan Suid-Afrika se fynbos-gebied en, alhoewel dit nie as ‘n indringerspesie gesien word nie, het dit ‘n geweldige uitwerking op veldgras, beskikbare weiding en veldbrande. Die bossie bevat vlugtige olies wat dit hoogs vlambaar maak en baie warm vure veroorsaak, wat groot skade aan die grasse aanbring.

Bankrotbos, Seriphium plumosum, voorheen Stoebe Plumosa genoem, staan ook as slangbos en vaalbos bekend, of Khoi-kooigoed in die Kaap.


Professor Hennie Snyman

Opname
As jy aan dié opname oor bankrotbos in ons gebied wil deelneem is die volgende inligting nodig: jou plotnommer en plaasnaam; kontaknaam en telefoonnommer; die hoeveelheid meter of hektaar onder bankrotbos; die digtheid van die bankrotbos; en GPS koördinate.

Hoë digtheid beteken dat die plant ‘n hele gebied bedek met geen oop ruimte tussen plante nie. Medium digtheid beteken dat ten minste een plant in die ruimte tussen plante kan pas. Lae digtheid is as twee of meer plante in die ruimte tussen plante kan pas.

As daar geen bankrotbos op jou eiendom is nie, kan jy dit steeds laat weet. Mense is ook welkom om ‘n verslag oor naburige onbewoonde grond in te dien. Jy kan jou verslag stuur aan Mike Strange, This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it , van die Magalies Bronberg Grondeienaarsvereniging.

Mike sê dat bankrotbos nie uitgeroei hoef te word nie. Die opname word net gedoen om te probeer vasstel hoe groot die gebied is waar dié bossies voorkom. As jy die plant wil verwyder, onthou dat die penwortelstelsel ook verwyder moet word. Gedeeltelike opgrawing en om die plante te probeer uitbrand, laat hulle net weer uitloop. As jy die plant verwyder het, moet dit verbrand word om te verhoed dat die sade versprei.

Oorbewei
In ‘Wild flowers of the Highveld’ sê Braam van Wyk en Sasa Malan dat bankrotbos gewoonlik in oorbeweide gedeeltes floreer. Dié deurmekaar, fynvertakte meerjarige grys struikie het dun draadagtige takkies en trossies klein heide-agtige blaartjies (4 mm x 0,5 mm).

Die bokant van die blaartjies is met wit wollerige hare bedek. Die blomkoppies is baie klein en elkeen is deur klein geel-bruin papieragtige blaartjies omring. Die onbeduidende blommetjies met pers punte is in groot regopstaande vertakte trosse gerangskik. Die plante het soms trosse wit wollerige ronde galle wat as blomme aangesien word.

Volgens professor Hennie Snyman van die Departement Vee-, Wild- en Weidingkunde aan die Universiteit van die Vrystaat, is dit nie heeltemal waar dat oorbeweiding veroorsaak dat bankrotbos ‘n veld oorneem nie. Hy sê dié bossie versprei vinnig ongeag of die veld in ’n goeie of swak toestand verkeer.

Bankrotbos is net meer opsigtelik met oorbeweiding, maar eintlik dra oorbeweiding slegs by tot die indringing omdat die grasbedekking verminder en die bossie kans kry om ongesteurd te groei en toe te neem.


Bankrotbos neem weiding oor
Foto: Senwes

Raaisel
Volgens prof Snyman is die geweldige ontploffing van dié plant oor veral die laaste vyf jaar ’n raaisel. Hy sê die bosse maak miljoene sade wat baie lig is en baie ver deur die wind versprei kan word. Tog is daar min inligting oor die plant se ontkieming.

Bankrotbos kom hoofsaaklik op sanderige grond voor, maar kan selfs grond met ’n hoër klei-inhoud indring, mits die grond se dreinering goed is. Die plant ontwikkel eers op die suidelike hellings voor dit na die leegtes versprei en kom selde in vleie of waterbane voor.

Prof Snyman se navorsing het gewys dat wanneer ‘n bankrotbos wat saad geproduseer het uit die veld verwyder word, dit ’n ontploffing in saadontkieming veroorsaak. Die geweldige ontkiemingspotensiaal van sade, nadat plante uitgekap of uitgebrand is, is nie in die verlede deeglik besef nie. Met chemiese beheer sal die aktiewe bestanddeel wat die plante doodmaak, ook ’n paar jaar se nawerking hê wat saailinge wat mag opkom sal inhibeer.

oeder
Hy sê die moederbosse het ’n soort allelopatiese eienskap, wat giftige stowwe afskei, om die ontkieming van nuwe plante in die onmiddellike omgewing te inhibeer. Die bossies kompeteer ook sterk vir plantvoedingstowwe en grondwater.

Dit is waarskynlik dié allelopatiese impak en oorskaduwing-effek op omringende plante, wat grootliks verantwoordelik is vir die ontploffing van saailinge.

Prof Snyman sê ook dat die langslewendheid van die klein saadjies ’n aspek is wat intensiewe navorsing vereis en wat baie nuttig sal wees met die suksesvolle toepassing van beheermaatreëls.
Daar is aanduidings dat digte stande van bankrotbos die produksie-potensiaal van weiveld met soveel as 75% kan verlaag. Die plant is onsmaaklik en onbenutbaar vir diere.


Bankrotbos in blom
Foto: Agri SA

Beheer
Daar is wyduiteenlopende menings oor die beheer en bestryding van bankrotbos. Prof Snyman sê dis onmoontlik om ‘n enkele beheermetode uit te lig omdat verskeie faktore ‘n invloed op die praktiese uitvoerbaarheid in verskillende distrikte het en omdat die effektiwiteit van beheer bepaal word deur faktore soos tyd van jaar, klei-inhoud van die grond en digtheid of stand van die bosse.

Meganiese beheer (uitkap-aksie), is arbeid-intensief, en nie ’n blywende sukses as die plant nie onder die grond afgesteek word nie. Nasorgbehandeling is ook nodig om die saailinge
wat opkom nadat die moederplant verwyder is, te bekamp.

Daar bestaan nog nie wetenskaplik-gegronde brandbeheermaatreëls nie en die verkeerde tyd van brand kan die probleem vererger. Chemiese beheer (korrelformulasie of suspensie) kan suksesvol wees, maar is ’n duur proses. Geen biologiese beheermaatreëls is bekend nie.

Veesout
Met prof Snyman se navorsing is gevind dat stikstof en veesouttoedienings bankrotbosse laat vrek. Dié vrektes verduidelik hoekom die plant nie in kleieriger en brakker gronde wat vleigedeeltes kenmerk, voorkom nie.

Die souttoedieningsbenadering is ongelukkig nog nie wyd oor verskillende grondvorme en klimaatstreke toegepas of uitgetoets nie en die bankrotbos mag dalk verskillend onder ander omstandighede reageer.

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online