‘Dooie-blaar’ hotnotsgot is koning van kamoeflering PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 24 May 2016 08:40
Untitled Document

‘Dooie-blaar’ hotnotsgot is koning van kamoeflering

Willem Louw van Tierpoort het vir die Bronnie foto’s gestuur van ‘n aardige hotnotsgot wat hy op sy plot, Ekoland, langs Lynnwoodweg-verlenging gevind het.

“Ek het die enkele ‘dooie-blaar’ toevallig sien ‘wieg’ toe ek my hand oor ’n rankplant beweeg het. Ek het die beweging herhaal en gaandeweg besef dat die ‘dooie blaar’ lewend is, alhoewel ek nie kop of stert van die gogga kon uitmaak nie,” sê Willem.


Die hotnotsgot klou soos ‘n dooie blaar tussen groen blare

“Die gogga het soos ’n dooie blaar in die wind gewieg. Eers met nadere ondersoek het ek besef dat deel van sy kamoeflering was om onderstebo te hang en dan te wieg as dit moet. En eers toe ek hom regop op my vinger maak staan het, kon ek hom as ’n soort hotnotsgot verstaan.”

Willem sê dat hy die aardige hotnotsgot vir drie dae op dieselfde plek dopgehou het, maar die vierde dag was daar “net ’n baie tevrede akkedis met ’n baie breë glimlag”. “Gelukkig kon ek baie mooi foto's neem want ek het nog nie weer een gesien nie.” 

Volgens Willem kom aanverwante hotnotsgotte algemeen in Maleisië voor, maar het Suid-Afrika soortgelyke spesies.

’n Hotnotsgot of hottentotsgot is ’n insek wat tot die orde Mantodea behoort. Daar is ongeveer 2 200 verskillende spesies, wat oor nege families versprei is. Dié insekte word regoor die wêreld in matige en tropiese habitatte aangetref.


Die ‘dooie-blaar’ hotnotsgot op Willem se hand
Foto’s: Willem Louw

Sy naaste verwante is termiete (Isoptera) en kakkerlakke (Blattodea) en dié drie groepe word soms saam as een orde geklassifiseer.

’n Hotnotsgot is ’n vleisetende insek met vier vlerke, ’n besonder lang voorborsstuk en voorpote met hake, wat omhoog gehou en gebruik word om prooi te vang en vas te hou. Dié gogga het ‘n kop wat soos ‘n mens s’n kan omdraai.

Daar is lank geglo dat, vir voortplanting om suksesvol te wees, die vroulike hotnotsgot die mannetjie se kop moet afbyt en verorber. Alhoewel dit soms gebeur, sneuwel die arme mannetjies egter nie altyd nie. Volgens navorsers lyk dit of dié optrede net onder ingehokte hotnotsgotte voorkom.


Dieselfde hotnotsgot van agter

‘n Hotnotsgot-nimf neem vier tot ses maande om volwassenheid te bereik en volwassenes leef ‘n verdere drie tot agt maande. Die groter spesies lewe langer as die kleineres en wyfies leef oor die algemeen langer as mannetjies.

Dié insekte word deesdae meer algemeen as troeteldiere aangehou en byt gereeld hulle hanteerders.

Dit is goed om te weet dat hulle byt nie giftig is nie.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online