Nagte weergalm met uiltjie se verlossingsroep PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 24 May 2016 08:40
Untitled Document

Die Afrikaanse naguil se Engelse verlossingsroep is ’n naggeluid wat jy nooit vergeet as jy dit eers gehoor het nie. Tog word sy bekende ‘good-lord-deliver-us’ roepgeluid sekere tye van die jaar stil. Trek dié uiltjie weg uit ons gebied?

Alhoewel hy wel kan rondtrek, is dit nie waar dat dié uiltjie ons gebied verlaat nie. Hy maak sekere tye van die jaar bloot net nie sy kenmerkende roepgeluid nie. Dié roep is gewoonlik stil in sy broeityd en ‘n mens hoor dit in die Bronberg-gebied meestal vanaf Maart tot vroeg in Augustus.

Blykbaar word sy roep deur ligintensiteit bepaal: hy roep vir ‘n rukkie vanaf 13 minute voor tot 33 minute ná sonsondergang. Na ‘n donker nag hou hy so 77 tot 39 minute voor sonsopkoms op met roep. Ses-en-sestig persent van sy kenmerkende roepgeluide vind in dié tye plaas.

Die Afrikaanse naguil, Caprimulgus pectoralis, begin vroeër roep op bewolkte skemeraande en sing die langste op helder-maan aande. Sy good-lord-deliver-us geluid is egter nie die enigste geluid wat hy maak nie. Sewe verskillende roepgeluide is al vir dié uiltjie geïdentifiseer.


Die Afrikaanse naguil
Foto: Wikipedia

Hofmaak
Vroeg in die broeiseisoen maak hy ‘n reeks stadige, eentonige woot-woot-woot geluide wat waarskynlik ‘n rol in sy hofmakery en gebiedsbeskerming speel. Sy bekende roepgeluid, wat tot 110 keer herhaal kan word, word soms voorafgegaan deur ‘n woep-woep-woep-geluid.

As die uiltjie skrik, maak hy ‘n soort grom-en-blaas geluid en hy kan in vlug ook ‘n geluid maak wat baie klink soos ‘n vuurhoutjieboksie wat geskud word.

Die Afrikaanse naguil broei op die grond, maar sing net as hy op ‘n boomtak sit. Hy sit gewoonlik so drie tot vier meter bo die grond en onderbreek sy sang as hy agter insekte aanvlieg. Elke keer as hy ‘n gogga begin jaag, sal hy ‘n tjak-geluid maak.

Dié uiltjies vreet hoofsaaklik naginsekte soos besies en motte en sal soms ‘n perd, hond of mens volg om die insekte wat deur hulle versteur word, te vang. Hulle vreet nie net in vlug nie, maar drink ook water in vlug deur die snawel in water te druk, soos ‘n swaeltjie.


’n Afrikaanse naguil in vlug
Foto: Ian N White

Een maat
Die uiltjie herhaal die laaste deel van sy lied drie keer vinnig na mekaar wanneer sy maat op dieselfde takkie as hy gaan land: good-lord-deliver-us-deliver-us-deliver-us. Hy kies net een maat vir sy hele lewe.

Die Afrikaanse naguil se broeitydperk is van einde Augustus tot Desember en twee eiers word onder bosse op die grond gelê. Dit gebeur meestal in die eerste week ná volmaan en die eiers word 24 tot 48 uur uit mekaar gelê.

Die broeitydperk is 18 tot 19 dae. Die wyfie sal die eiers deur die dag oppas en die mannetjie in die nag. Dit vat 24 tot 28 ure vir die kuikens om uit te broei. Hulle word blind gebore met ‘n donkerpienk vel wat met digte swart en vaalbruin donsies bedek is.

Die kuikens se bene is goed ontwikkel en hulle kan binne vier ure nadat hulle uitgebroei het, begin loop. Hulle bly egter vir 40 dae in die nes om deur hulle ouers gevoer te word.

Kuikens roep met ‘n herhalende kieoe-kieoe-kieoe-geluid uit die nes uit en uiltjies wat broei maak ‘n sagte, kenmerkende kwiee-oe-geluid.

Die Afrikaanse naguil bly in ‘n gebied van omtrent 5,8 hektaar groot. Sy gewoonte om snags doodstil in die gebied se grondpaadjies te sit, waar hy ‘n onbelemmerde uitsig op vlieënde insekte het, het soms rampspoedige gevolge as motoriste hom nie betyds gewaar nie.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online