Print E-mail
News - Ons Mense
Tuesday, 24 May 2016 10:37
Untitled Document

Geliefde Kitty Hawk-vlieënier, Abel Pienaar, is op 12 Mei dood nadat sy Jabiru-vliegtuig geval het kort nadat dit opgestyg het. Die vliegtuig het op plot 16, Makopong, langs Kitty Hawk neergestort.

Die 64-jarige Abel van Moreletapark het vroegoggend saam met ‘n 20-jarige werknemer, Christo van der Wath, gevlieg om te gaan kyk na ‘n perseel naby Tzaneen waar hy ’n dam wou bou. Omstanders vertel dat die vliegtuig kort nadat dit opgestyg het, laag gevlieg het en omgedraai het. Kort daarna is ‘n slag gehoor en Kitty Hawk se mense was binne 10 minute op die toneel, waar hulle die vliegtuigwrak gekry het.


Abel Pienaar se Jabiru
Foto: Wilma Fourie

Dalixolo Skhosana, ‘n plaaswerker op Makopong het die vliegtuig sien val en gesien hoe die passasier uitklim. Hy vertel dat Abel aanvanklik nog gelewe het.

Volgens SAPD woordvoerder, kaptein Marissa van der Merwe, het die vliegtuig teen 7.40 vm geval. Abel is op die toneel oorlede en Christo is hospitaal toe geneem. Christo kon nie inligting oor die ongeluk gee nie omdat hy harsingskudding gehad het. Omstanders vermoed dat die vliegtuig se enjin gefaal het.

Athlenda Mathe, woordvoerder van Netcare 911 sê “met ons aankoms op die toneel was paramedici van die provinsiale nooddienste reeds besig met noodbehandeling. Ons het hulle bygestaan en al het ons vir langer as 45 minute probeer om hom by te bring, is die vlieënier op die toneel dood verklaar”.


Twee polisiemanne salueer die Gautengse Forensiese Patologiedienste-voertuig waarin Abel se oorskot weggery is van die toneel

Abel is omstreeks 9 vm dood, nadat hy vir sy seun, Apie Pienaar, gesê het hy het baie pyn.
Abel was ‘n ingenieur by sy Pienaarspoort-gebaseerde AWA Construction en Christo ‘n veiligheidsbeampte by dié onderneming.

Volgens mede-vlieëniers by Kitty Hawk was Abel ‘n baie goeie en geliefde vlieënier. Hy het langer as 20 jaar gevlieg en het drie vliegtuie gehad: ‘n Jabiru SP-model met twee sitplekke, ‘n Jabiru J430 met vier sitplekke en ‘n Cirrus SR22 met vier sitplekke.

Vriende sê dat Abel altyd bereid was om uit sy pad uit te gaan om enige iemand wat probleme het te help.


Abel Pienaar en sy vrou Marietha
Foto: Kitty Hawk Klubhuis-restaurant

Abel was bekend as iemand vir wie vlieg-veiligheid van groot belang was. As ‘Oom Ses’ het hy gereeld gesprekke oor Jabiru-vliegtuie se veiligheid op Avcom, ’n webblad vir vlieg-geesdriftiges, se gespreksforum gevoer.

Abel se bynaam, ‘Oom Ses’, is ‘n verwysing na een van sy vliegtuie se registrasienommer, ZU-SES. In Augustus verlede jaar het Abel op dié forum genoem dat ‘n diensprobleem met die ‘Jabis’ ontstaan het.
Die Jabiru, genoem na ’n voël in Australië waar die vliegtuig oorspronklik ontwerp is, is ’n ligte vastevlerkvliegtuig en word as ’n betroubare en bekostigbare speelding beskou.

Die Burgerlugvaartowerheid ondersoek die ongeluk.

 

© 2020 Die/The Bronberger