Print E-mail
News - Ons Mense
Tuesday, 24 May 2016 10:36
Untitled Document

Vuurwater, tiermelk, hardehout . . . wat die benaming ook al is, mampoer is die fokus op die fees-met-skop wat op Saterdag 4 Junie by die Willem Prinsloo Landboumuseum gehou word.

Die fees is die hoogtepunt op die jaarkalender van die Kultuurstokersgilde van Suid-Afrika en die manne- en vroue-stokers kan nie wag om te sien wie vanjaar as bobaas aangewys gaan word nie.


Dis tyd om te gaan proe wat dié fees inhou

Mampoer, witblits en likeurs met ‘n witblitsbasis word op dié fees beoordeel, per sopie geproe en per bottel verkoop. Dit neem ongeveer vyf maande om so ‘n likeur, wat gewoonlik ‘n alkoholinhoud van 23% het, vir die kampioenskap gereed te kry.

Die stokers sal jou vertel dat mampoer oor baie gesondheidsvoordele beskik: Dit help vir koors, verkoue en griep, is ‘n uitstekende tonikum wanneer jy dit met neutmuskaat en naeltjies meng en is selfs ‘n smeermiddel vir spatare.


Daar is kraampies te kies en keur

Die gaskunstenaars is Beeskraal en besoekers kan uitsien na ‘n Diamond X perdevertoning, uitstallings en demonstrasies van veteraantrekkers en -motors, en demonstrasies van tradisionele mampoerstook.

Die ATKV Sangersforum reël optredes en pretkompetisies soos rissie-eet en aartappelskil, en boeresport word deur Handhawerjeug aangebied. Daar is ‘n biertuin, vlooimark- en koskraampies te kies en keur, pap en kaiings, gemmerbier en soetkoekies by die ou plaas-opstal. Besoekers kan ook begeleide toere deur die 1880 huis bespreek.


Beeskraal is die gaskunstenaars

Die Willem Prinsloo Landboumuseum kan bereik word vanaf die Pretoria-Witbank snelweg (N4). Neem die afrit na Rayton en Cullinan, en draai regs op die ou Bronkhorstspruit pad (R104).

Vir navrae skakel die museum by 012-736-2035/6 of 076-054-5229. Om vlooimarkkraampies te bespreek, skakel 072-294-8856.

 

© 2020 Die/The Bronberger