Leer jou eie ding doen by Kragdag Print E-mail
News - Ons Mense
Tuesday, 24 May 2016 10:36
Untitled Document

Die jaarlikse KragDag ekspo is op 16, 17 en 18 Junie van 9 vm tot 4 nm by Diamantvallei Landgoed in Rhenosterfontein.

KragDag is ‘n selfstandigheid-ekspo met die fokus op alternatiewe energie. Dié ekspo gaan nie net oor energie nie; met die leuse “Doen jou eie ding” skep dit ‘n platform waar mense toegerus kan word om hulle gesinne en gemeenskappe se lewens in te rig vir selfstandigheid. Dié jaar geniet die dreigende waterkrisis spesiale aandag.

Daar is ook uitstallings en aktiwiteite vir innoverende tegnologie, veiligheid, voedselselfstandigheid en opvoedkundige oplossings. Met die Solidariteit Beweging en Helpende Hand as hoofborge van die KragDag ekspo is Solidariteit KragDag in 2015 deur 11 550 mense bygewoon.

Daar is ‘n groot verskeidenheid dinge om te doen by KragDag, vanaf tegniese beoordeling van produkaanbiedings tot deelname aan die vermaak en feestelike aktiwiteite.

Op die drie hektaar ekspo terrein is daar 300 uitstallers wat sowat 2 km se winkelfront bied.
‘n Opvoedkunde sub-ekspo, wat in samewerking met die Vereniging vir Tuisonderwys aangebied word, vorm ook deel van die uitstallings.


Besoekers kan nuttige inligting by die uitstallers kry

Op elk van die drie ekspo-dae word 'n drie ure oggend en middag seminaar gehou. Temas vir die onderskeie seminare sluit in: ‘Dorsles vir waternood’; ‘Entrepreneuriese vryheid’; ‘Wêreldperspektief op energie en industriële oplossings’; ‘Opvoedingselfstandigheid’; ‘Energie-oplossings vir huishoudings en kleinskaal boere’; en ‘Voedselselfstandigheid’.

Daar is ook reg deur die dag gratis 20 minute inligtingsessies oor ‘n verskeidenheid onderwerpe in die KragDag raadsaal.

Junior entrepreneurs van voorskoolse ouderdom tot 18 jaar kan hulle sakevernuf gaan toets en deelneem aan die entrepreneurskompetisie, met prysgeld deur AfriForum en Impak geborg.

Meer inligting oor die aktiwiteite by die ekspo en ‘n lys van tema-uitstallers kan op KragDag se webtuiste besigtig word: www.kragdag.co.za.

Die hekfooi is R60 per volwassene en vir kinders tot op 18 jaar is toegang gratis. Diegene wat vooraf op KragDag se webtuiste registreer, kan gratis ingaan.

Diamantvallei landgoed is op die R515. Skakel 087-231-1644.

 

© 2020 Die/The Bronberger