Ontwikkeling in vleiland kry groen lig PDF Print E-mail
News - Aktueel
Wednesday, 03 December 2008 19:12
Untitled Document

’n Nuwe gastehuis en ‘venue’ in Zwavelpoort, wat skynbaar alle verstand te bowe gaan en streng bewaringsriglyne en wette oortree, het op ’n vreemde wyse goedkeuring van die owerheid gekry. Die groen lig is gegee nadat die Gautengse Departement van Landbou, Bewaring en die Omgewing (GDACE) aanvanklik ’n stokkie daarvoor gesteek het en beveel het dat alle werk aan die ontwikkeling onmiddellik gestaak moet word.

Na verneem word is die ontwikkeling op hoewe 171 midde in ’n vleiland, word ’n arm van ’n rivierloop eenvoudig toegestoot en opgevul en sal die geboue binne in die 10 jaar vloedlyn lê. Werk aan die projek het reeds begin toe inspekteurs van GDACE opdaag en ná ’n ondersoek beveel het dat die werk onmiddellik gestaak moet word.

Grondverskuiwingsmasjinerie het die hoewe toe verlaat en besorgde hoewe-eienaars van die onmiddellike omgewing het ’n sug van verligting geslaak. Groot was hulle verbasing egter toe die masjiene na twee maande weer opdaag en voortgaan met die projek.

Dit blyk uit navrae dat GDACE opdrag uit “hoër kringe” gekry het om nie verder met die projek in te meng nie. Blykbaar is daar ook gesê dat die eienaar van hoewe 171, Jonathan Nthembu, nie eers nodig het om ’n omgewingsimpakstudie te laat doen nie. Die rede hiervoor sou wees dat dit onnodig is omdat die ontwikkeling glo minder as een hektaar in beslag gaan neem.

Moedelose lede van die Swavelpoortvallei Grondeienaars Vereniging gaan hulle nou bes moontlik tot die hof wend om te probeer red wat nog te redde is.

 

© 2019 Die/The Bronberger