Wie is die morsjorse en die rommelskurke wat ‘n skrikbewind teen die mooi omgewing en natuurlewe van ons gebied voer? Is dit die gewetelose boewe wat vragte vol rommel uit die stad uit aanry en dit dan doodluiters in die ‘oop veld’ of langs ‘n plotpad afgooi? Ja, dit is en hulle is baie bedrywig, soos die foto’s op bladsy 11 van dié uitgawe getuig, maar dit is nie net hulle nie:
Dit is ook die ‘gewone mense’ in ons midde. Dalk jou gawe buurman wat sy swartsak vol ongewenste huisgemors, sommer so in die ry by sy Toyota se oop venster uitgooi, of netjies op ‘n oop erf gaan neersit. Of dit kan een van ons wees wat ‘n leë ‘tjipspakkie’ op die grond laat val, as ons dink niemand kyk nie.
In 2009 is ‘n wysigingswetsontwerp ingestel wat rommelstort en ook rommelstrooi duidelik tot die misdaad uitwys wat dit in werklikheid is. Voorsiening word gemaak dat eersgenoemde strafbaar is met ‘n boete van tot R10 000 of tronkstraf van tot tien jaar. En daardie ‘tjipspakkie’ kan jou R5 000 uit die sak jaag of vir vyf jaar in die tjoekie laat sit.
Maar of dié wet en straf op so ‘n wyse toegepas en opgelê word dat dit ‘n merkbare verskil maak, is ‘n vraag wat ongelukkig met ‘n kopskuddende ‘nee’ beantwoord moet word.
Toegangspaaie en dorpies, hoewegebiede en voorstede in die gebied het in mak rommelhope ontaard. Groot werkspanne word soms langs paaie gesien waar hulle besig gehou word met werk wat mildelik deur morsjorse, sonder ‘n ordentlikheidsin, verskaf word.
Dit is goed en wel dat streng wetgewing in plek is, maar die gemorsrivier sal bly voortvloei as dit nie toegepas word nie en veral as ‘n basiese sin vir die sindelike nie reeds van kindsbeen af aangeleer word nie.
‘n Owerheid wat die moeite doen om ‘n wetsontwerp van ‘n volle 92 bladsye lank teen rommelstorting daar te stel, kan sekerlik die erns van omgewingsbewaring van vroeg reeds in die leerplanne van skoolkinders inwerk.
Om nie rommel te stort nie, moet saam met ander noodsaaklike vaardighede, soos om tande te borsel en hande te was, by skole in bloedjies se koppe vasgemessel word, want dit blyk of ouers jammerlik in hierdie taak faal. |