Angie Kleijn
Wat is die kanse dat ‘n Statebybel uit die 1800’s vandag nog in die afstammelinge se besit sal wees? Of dat die afstammelinge nog op ‘n gedeelte van die plaas bly waarheen hulle Voortrekker-voorvader getrek het? Dit is veral raar dat so iets in ons snel ontwikkelende gebied moontlik is.
Floors Steenkamp van Brandbach het die Statebybel wat sy oupagrootjie, Gerhardus Teodorus Malan, aangeskaf het, in sy besit. Dié oupagrootjie was een van die Voortrekker Daniël Malan, bekend as Daan Akkerboom, se kinders. Hy is Daan Akkerboom genoem oor die akkerbome wat hy in 1853 op die plaas geplant het. Dié bome het iewers in die vroeë 1980’s omgeval.
Floors en sy suster, Elizabeth Maria Botes
In November 2015 het ons vertel dat daar vele verhale agter die Brandbach-gebied se naam is. Een van die verhale wat nasate geniet om oor te vertel is dat Daan Akkerboom ‘n ongewone ding gedoen het – hy het sy plaas, Brandbach, opgedeel en aan sy nege kinders nagelaat: dogters ook. Daardie jare het dogters nie sommer ’n stuk grond geërf nie.
Vandag woon vyf van die afstammeling-gesinne nog in die omgewing en drie van dié gesinne woon nog op die plaas Brandbach. Brandbach was oorspronklik 5 800 morg groot en elk van Daan Akkerboom se nege kinders het ongeveer 545 morg geërf. Floors Steenkamp woon vandag op 42 hektaar daarvan.
Floors Steenkamp met die Statebybel
Floors vertel dat die plaas Brandbach destyds amper in die KwaNdebele trustgebied opgeneem is en dat hy wat Floors is die Statebybel amper kwyt was toe sy pa dit weggegee het. Sy pa was die derde eienaar van die Statebybel en het glo geen sentiment aan die Bybel gehad nie, maar Floors het daarop aangedring dat die Bybel teruggegee moes word.
Voor in die ‘Bijbel’ staan daar dat hy gedruk is ‘door last van de hoog-Mog. Heeren Staten-Generaal der Vereenigde Nederlanden en volgens het besluit van de Synode Nationaal gehouden te Dordrecht in die jaren MDCXVII en MDCXIX.”
MDCXVII is die Romeinse syfers vir die jaar 1617 en MDCXIX vir 1619.
Die eerste eienaar van die Bybel, Floors se oupagrootjie, Gerhardus Teodorus Malan, en sy vrou, Martha Elizabetha, ‘n nooi Venter
Eerste
Die eerste eienaar van die Bybel, Floors se oupagrootjie, Gerhardus Teodorus Malan, is op 28 Januarie 1843 gebore. Hy is getroud met Martha Elizabetha, gebore op 1 Oktober 1853 as ‘n nooi Venter.
Hulle Malan-kinders se name, en ook die hartseer sterftes van sommige, is met die hand voor in die Bybel geskryf. Drie kinders is vroeg dood: Margaretha Catharina, gebore op 9 Oktober 1871 en oorlede op drie-jarige ouderdom; Daniel, gebore op 22 Mei 1873 en oorlede op een jaar, nege maande en agt dae; en Piet Johannes, gebore op 22 Desember 1877 en oorlede op 8 April 1891.
Die oorlewende kinders is: Margaretha Johanna Susanna, gebore op 29 Desember 1875; Martha Elizabeth, gebore op 11 Februarie 1881 (sy het die tweede eienaar van die Bybel geword); Gertiena Teodora, gebore op 14 Januarie 1882; Susara Maria Magretha, gebore op 8 Mei 1890; en Daniel, gebore op 1 Desember 1892.
‘n Groepfoto geneem rondom die tweede eienaar van die Bybel, Martha Elizabeth, ‘n nooi Malan, en haar man, Floris Petrus Johannes Steenkamp – Floors se ouma en oupa
Tweede
Die tweede eienaar van die Bybel, Martha Elizabeth, is op 25 Desember 1902 in Pretoria getroud met Floris Petrus Johannes Steenkamp, gebore op 12 Februarie 1874 en oorlede op 2 Junie 1945. Martha is 18 jaar later op 31 Augustus 1963 oorlede en altwee is op Brandbach begrawe.
Hulle nege Steenkamp-kinders se name is voor in die Bybel geskryf en in dié generasie is daar net twee kinders oorlede, een op vyf jaar en een op drie jaar, op die dag ná haar verjaardag: Daniel Malan, gebore op 6 Junie 1910 en oorlede op 21 Julie 1915 (die jongste kind het weer dié name gekry); en Martha Elizabeth, gebore op 20 Julie 1912 en oorlede op 21 Julie 1915.
Die kinders wat gelewe het was: Albertis Nicolaas, gebore op 16 November 1903; Gerhardus Theodoris, gebore op 10 Oktober 1905 (hy het die derde eienaar van die Bybel geword), Floris Petrus Johannes, gebore op 30 September 1907; Francina Johanna, gebore op 10 Februarie 1914; Petrus Johannes Dirk, gebore op 21 Desember 1916; Magretha Johanna Susanna, gebore op 28 Januarie 1919; en Daniël Malan, gebore op 31 Oktober 1922.
Die derde eienaar van die Bybel, Gerhardus Theodoris (Gert) Steenkamp, as jong man
Derde
Die derde eienaar van die Bybel, Gerhardus Theodoris Steenkamp, is getroud met Anna Cecilia, gebore op 27 Desember 1906 as ‘n nooi Venter. Sy is na haar oupa se ma, Anna Cecilia Venter, gebore du Plessis, vernoem.
Gert en Annie is op 12 November 1932 in die Gereformeerde Kerk, Bronkhorstspruit getroud. Annie is op 9 Oktober 1976 oorlede en Gert is nog drie keer getroud met: MM van Niekerk, HS Jordaan en HE Goosen.
Gert en Annie se kinders was: Floris Petrus Johannes (hy het die vierde eienaar van die Bybel geword), gebore op 13 Augustus 1936; en Elizabeth Maria, gebore op 21 Desember 1943. Voor in die Bybel staan daar egter nie die naam van die baba wat oorlede is op die dag wat sy gebore is nie: Martha Elizabeth, gebore en oorlede op 19 Februarie 1948.
Gert is op 21 September 1993 oorlede. Gert en Annie is altwee op die plaas Brandbach begrawe.
Anna Cecilia (Annie), ‘n nooi Venter, en Gert op die trappies van die Gereformeerde Kerk Bronkhorstspruit op hulle troudag – Floors se ma en pa
Vierde
Die vierde eienaar van die Bybel, Floris Petrus Johannes, is getroud met Cathrine Frances Mary, ‘n nooi Swanepoel, gebore op dieselfde dag van die maand as haar man: 13 Augustus 1940. Francis is in die ouderdom van 28 jaar op 12 Desember 1968 aan kanker oorlede.
Hulle het drie kinders gehad: Gerhardus Theodorus, gebore op 1 Mei 1962; Jakoba Gerlina (Lientjie), gebore op 5 April 1963 en Christiaan Nicolaas (Christo), gebore op 26 Augustus 1966.
Floors is ‘n tweede keer getroud met Elaine Frances, gebore ‘n nooi Pretorius op 19 Februarie 1947.
Hulle het vier kinders: David Gerhardus, gebore op 9 Mei 1973; Hester Annalet (Makkie), gebore op 2 November 1974; Leon, gebore op 6 Julie 1981; en Jan-Harm, gebore op 23 Julie 1986, drie weke voor sy pa 50 jaar oud geword het.
Agter: David, Christo, Gerhard en Carl Jordaan. Voor: Makkie, Floors, Leon, Elaine wat Jan-Harm vashou en Lientjie wat haar en Carel se seun, Johan, vashou
Floors
Floors was in 1953 in matriek en wou daarna registreer vir militêre diens, toe hy vertel is dat dit nie nodig is nie. Hy het by die kommando aangesluit, oor die jare kursusse gedoen en deur die range gegaan tot hy bevelvoerder van die Bronkhorstspruitse kommando, waar hy van 1973 tot 2003 was, geword het. As luitenant-kolonel was Floors bevelvoerder van Desember 1995 tot Februarie 2003.
In 2010 het Floors ere lewenslange vise-presidentskap van die Reserwemagteraad ontvang. Dit was destyds sy voorstel om ‘n kommandobond te stig en hy is as interim voorsitter vir die eerste kommandobond gekies, maar het voorgestel dat die bond eerder by die Reserwemagteraad moet inskakel. Floors het toe die kommando’s op dié raad verteenwoordig.
Deur die jare het Floors redelik groot geboer. Hy sê dat hy van 1960 tot 1970 vir tien jaar vir Jode tussen Bapsfontein en Benoni geboer het. Hy is daarna terug Brandbach toe en het die plaas in 1970 by sy pa gekoop en die huis waarin hy vandag woon, gebou. Floors was voorsitter by die OTK vir sy wyk, Witbank, Bronkhorstspruit en Cullinan.
Die vierde eienaar van die Bybel, Floris Petrus Johannes (Floors) Steenkamp op sy troudag met Cathrine Frances Mary, ‘n nooi Swanepoel
Jongste
Die jongste geslag se name is nog nie in die Bybel opgeteken nie. Floors se oudste seun, Gerhard, wat saam met hom op die plaas boer, is met Sharmine Pieterse van Cullinan getroud en hulle het ‘n dogter, Shanel.
Lientjie is met Carl Jordaan getroud en hulle het drie seuns, Johan, Floris en Carl. Christo, is met Denise Angus getroud en hulle het twee kinders, Tiaan en Lené. Christo en Denise woon op Rayton.
Floors is ‘n tweede keer getroud met Elaine, ‘n nooi Pretorius
David, wat in die Vrystaat boer, is met Chrisna Bruwer getroud en hulle het drie kinders, Johalize, Marx en Carla. Makkie is ‘n filmmaker in Johannesburg; Leon boer in die Vrystaat en is met Christene Bredenkamp getroud en hulle het twee seuns, Gerhard en Boshoff. Jan-Harm, ‘n boukontrakteur in Pretoria, bly ook op die Brandbach-plaas en is met Marelies Martins getroud. Hulle het ‘n dogtertjie, Hané.
Floors sê dat hulle by ‘n onlangse familie-byeenkoms ‘n kamma-hofsaak gehou het en dat hy wat Floors is aangekla is van die Bybelse opdrag: “Gaan heen en vul die aarde.” |