Van kors tot kroon na my smaak PDF Print E-mail
News - Vreethans
Sunday, 24 April 2016 17:16
Untitled Document

Van kors tot kroon na my smaak

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Deur die jare heen het ‘n uitstappie na die oopte van Kitty Hawk op ‘n naweekdag, my nog altyd geval. Maar ons het dit lanklaas gedoen: Baie lanklaas.

Die imposante kuierplek in die vliegveld se klubhuis het intussen onder die vlerk van Wilma Fourie ingeskuif. En betreklik onlangs het hulle begin met die bou van pizzas.

Nou, ek was nog nooit ‘n groot pizza-waaier nie, maar vir Metgesel kan jy een onder ‘n wip sit, sou jy haar dalk wou vang. So besluit ons op ‘n mooi Saterdag om af te sit na Kitty Hawk se klubhuis-restaurant neffens die Boschkop-teerpad – bepaald dan om die pizzas te beproef.

Ons vind Kitty Hawk op dié mooi amper-herfsoggend net waar en net soos ons hom laas daar gelos het. Mense kuier gesellig in die ruim binnevertrek en buite op die stoep en grasperk neffens die aanloopbaan.


Die pizza wat so reg binne my smaak geval het           

Een van die vriendelike spannetjie kelners bring spyskaarte en drankies na ons stoeptafel toe. Die uitsig oor die mooiveld en Boschkopkoppies stem ons tot rustige tevredenheid. ‘n Vliegtuigie dreun aan die voetenent van die aanloopbaan en styg dan gemaklik hier voor ons die bloue lug binne. Dit gebeur met lang tussenposes as interessante afleiding en nie die een-op-die-ander en aanhoudend nie, wat dalk ‘n knaende irritasie sou kon wees.

Die erg eentalige spyskaart is nogal ‘n lywige dokument. Kitty Hawk bied ‘n volronde tien ontbytkeuses met ‘n allegaartjie, wat hulle ‘n ‘mix grill’ noem, bo aan die voedselketting teen R135. ‘n Paar verbuigings van ‘n Engelse ontbyt weeg in tussen R40 en R70 vir die ‘Captains Breakfast’.

Omeletkeuses kos tussen R40 en R52, hoenderlewers en roereiers R50 en Franse roosterbrood R40.
Die spesiale spyskaart vir kinders (ons neem aan die ‘kids’ verwys hier nie na bokkies nie) skeep nie af as dit by keuses kom nie en die pryse blyk oral billik te wees. ‘n Warmbrak met skyfies kos byvoorbeeld R30 en ‘n melkskommel daarby, R15.

Voorgeregte sluit  kasige knoffelslakke (R50), peri-peri hoender- of beesrepies (R60) en calamari met skyfies (R50) in.


Rugbykyktyd by Kitty Hawk se klubhuiskuierplek met die knussige kroegie en vuurmaakplek teen die winter in die agtergrond

Die burgers is vlamgebraai en die ses keuses wissel in prys tussen R55 en R90. Roosterbroodjies kos van R35 tot R60 en dan kan jy ook ‘n geroosterde ontbyt teen R70 bestel. Twee soorte deegtregters (wraps) met hoendervulsel sal jou R55 elk kos.

Die vleisgeregte by dié vliegtuigplek staan gelys onder die spyskaarthofie ‘Sailor’s Meat’ en die ‘submarine rump’ het my kop effe ‘geboggel’, tot daar waar ek begin redeneer het dat dit dalk is oor daar meer vliegtuie onder die see is as wat daar duikbote in die lug is. Maar nee, dis seker oor die calamariringe op die bees. Dit kos R120 vir 300 g. Sonder die tjokkaringe is dit R100.

Die T-been van 500 g weeg in teen R135. Die feit dat 500 g kruisskyf R10 minder kos laat die kop ook effe boggel, maar dis dalk ‘n kwessie van vraag en aanbod, dink ek. Beeshaas kos R135 vir 300 g en 600 g se ribbes kos R120. ‘n Keuse van skyfies, gebakte aartappel, of tuinslaai met uieringe kom saam met die vleis.

By Kitty Hawk kan jy ook ‘n paar seekosgeregte, kombinasiedisse, ‘n aantal hoenderdisse en twee vegetariese variasies bestel, maar ons is hier vir die pizza – en  natuurlik vir die kuier en proviand uit die knussige kroegie ook.

Ek vra die kelner met die mooi, oop en eerlike gesig of sy die plek se pizzas sou aanbeveel, voor ek my finaal tot ‘n ete verbind waaroor ek normaalweg nie mal is nie. Sy gee my die versekering dat hulle pizzas van die beste is wat sy nog ervaar het. Alles word van meet af gebou en alles is vars – niks verkoelde of gevriesde goed vir kitspizza by Kitty Hawk nie, sê sy. Ek voel my omgepraat en oortuig.

Die sestien soorte pizza wat hier voorgesit word het, baie gepas, almal vliegtuigname. Die pryse wissel tussen R60 en R90.


Die uitsig vanaf ons stoeptafel

Dit verstom my nie dat Metgesel die ‘Vegetarian Gyro’ bestel nie. Dit kos R80 en die platbrood word gelaai met sampioene, olywe, groenpepers, uie, tamatie en knoffel met mozzarella kaas op ‘n tamatiebasis. Ek kan sien dat Metgesel dit verskriklik geniet en ek weet ek sien reg, want sy sê dit ook.

My keuse is die ‘Four Seasons Beechcraft Bonanza’ teen R85. Op die tamatiebasis en saam met die mozzarella, pak hulle ruimskoots en met sorg – spek, salami, olywe, sampioene en groenpepers. Dit ‘boggel’ weer ‘n bietjie oor die vier seisoene, maar ek besluit dit kan werk as jy jou varkslag net in die winter doen.

En my uitspraak is? Genoegsaam om te sê dat dit by verre die meeste pizza is wat ek nog met een sitslag verorber het. Met my vorige pizzapogings is meer as die helfte telkens in ‘n brakpakkie saam huis toe. Dié keer draf ek deur al vier die seisoene en voel my vervuld en tevrede daarmee. Pizza se sukses lê seker maar, soos die meeste ander goed, in ‘n ‘kwessie van smaak’. Kitty Hawk s’n, kan ek onomwonde verklaar, val van kors tot kroon so reg in my persoonlike smaak.
Jy kan Wilma bel vir bespreking en meer inligting: 076-491-2109.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online