Lewendige belangstelling in die presiese roete van die ou transportryer-wapad, wat met die goudstormloop as die hoofroete tussen Johannesburg en Pelgrimsrus gebruik is, duur voort. Daniel Visser van Equestria wou by ons weet of daar dalk ‘n kaart of skets van die benaderde roete beskikbaar is.
Koos Reyneke in 2002 by die ou wapad, wes van Hans Strijdomrylaan in die poort van die Bronberg
“Ek het in 2014 na Equestria getrek, en as ’n ou padmaker stel ek belang in dié eertydse roete van die wapad. In Equestria is daar ’n kort stukkie pad, genaamd Wapadrandweg, wat noord-suid loop en ek vermoed die ou Wapad het deur Wapadrand self geloop,” sê Daniel.
Koos Reyneke het die roete wat die ou transportryer-wapad gevolg het, in rooi aangedui
In November 2002 het Koos Reyneke, een van die oorspronklike stigters van die Wapadrand dorpsgebied, vir Die Bronberger gewys waar die ou wapad geloop het. Ons het vir Koos gevra of hy nie ‘n kaart van dié roete het nie en hy het die roete vir ons in rooi op die meegaande kaart van Wapadrand en Equestria aangedui.
Die kaart toon dat daar meer as een roete deur dié deel van die Bronberg-gebied was; een noord- en een ooswaarts.
Die manne span op die oewer uit terwyl die osse die wa deur ‘n rivier probeer kry
Foto: Zuid-Afrikahuis
Stilhouplekke langs spruite en by fonteine het die wapad se roete bepaal. Van Johannesburg af, was die eerste stop by Halfweghuis. Daarna breek die wapad weg van die ou Johannesburg/Pretoria pad by Sesmylspruit en mik na die tweede stilhouplek by Wapadrand se spruit, wat intussen toegegooi is, in die poort in die Bronberg.
Die ou transportryer-wapad was net wes van Hans Strijdomrylaan (Solomon Mahlangu). Die pad het dan aangegaan met die straat wat vandag as Briekslinger bekend staan, en het oor Disselboom deur dit wat vandag ‘n parkie is, gegaan. Dié parkie net oos van Disselboomweg, is weerskante van die eertydse spruitjie.
‘n Transportwa steek ‘n spruit oor
Foto: Vintage Safari Pictures
Koos sê dat daar ‘n ou driffie was en dat die pad daar gevurk het. Dit is kort voor ‘n mens by Hans Strijdom- en Lynnwoodweg se verkeerslig kom, ongeveer waar die laaste straat uit Lynnwoodweg draai. Dit was ook hoe die ou grondpad geloop het, voor die nuwe Hans Strijdomrylaan gebou is.
Die linkerkantse deel van die vurk het min of meer reguit oor dit wat ons vandag as Lynnwoodweg ken, geloop. Die regterkantse been van die vurk het by dit wat later die ou Delmas-grondpad geword het, aangesluit.
Koos Reyneke
Foto: up.ac.za
Dié pad het dan oos geloop, waar Lynnwoodweg-verlenging vandag is, tot by die Zwavelpoortspruit. Vandaar het die wapad die spruit gevolg, min of meer parallel met die Boschkoppad.
‘n Ossewa gaan deur ‘n driffie
Foto: up.ac.za
Die derde stilhouplek was by dit wat ons vandag as die Rhenosterfonteinpad ken. Daar is sterk fonteine so ‘n paar kilometer in dié pad af op die plaas Kleinfontein. Sommige transportryers het eerder voor dié stop langs die Pienaarsrivier uitgespan. |