Op sy middelklas Afrikanerbas . . . Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Sunday, 24 April 2016 19:12
Untitled Document

Op sy middelklas Afrikanerbas . . .

Hy gaan deesdae maar baie selde bioskoop toe om na ‘n fliek te loop kyk, sê Gert Mossie. En deesdae kyk mense ook nie meer na ‘n rolprent of ‘n fliek in ‘n teater nie. Nee, dis mos nou ‘n ‘moewie’ en – bid jou dit aan – ‘n ‘moewiehuis’.

Hy dink die laaste rolprent wat hy in ‘n bioskoopteater gesien het, was ‘American Flyer’ en hier waar hy nou op sy middelklas Afrikanerbas sit, wonder hy, sê Gert. Wat is dit tog met Amerikaanse fliekmakers dat hulle so behep is met die woordjie ‘American’ in hulle fliektitels en waar het die gekkigheid alles begin?

Dalk was dit die destydse ‘Ugly American’ of  ‘American in Paris’ se sukses wat die verskynsel sy aanloop gegee het, sê Gert Mossie. Sedertdien kan jy maar enige Ingelse woord kies, ‘American’ voor of agter dit inpas en siedaar! Die kanse is goed dat die een of ander beenkop in Hollywood 'n ‘blokbaster-moewie’ met die titel gemaak het, of nog gaan maak.

Nou wonder hy, sê Gert, hoe sommige van die swetterjoel ‘American moewies’ se titels sou lyk as ‘n ou hulle in Afrikaans sou oorklank vir die plaaslike mark? Om die taal weer in ere te herstel as dit by die rolprentbedryf kom, kan ‘American Movie’ byvoorbeeld sommer ‘Republiekfliek’ word. Of dalk – ‘Nog-‘n-vervlakte-Schusterfliek’. Die moontlikhede is eindeloos, sê Gert Mossie:
‘American Pie’ – Mpumalanga Melktert;  ‘American Gangster’ – Township Tsotsi; ‘American  Beauty’ – Boksburg Bokkie’; ‘American Ninja’ – Attie Karate;  ‘American Gigolo’ – Vrystaatse Vroetelknaap; ‘American Idiots’ – SA Regering;  ‘American Outlaws’ – Gauteng Guptas; ‘American Pastime’ – Die Rakbiebraai; ‘American Psycho’ – Meneer die President; ‘American Loser’ – Die Blou Bul . . .

Toiletpapier
Versigtig nou . . . sê Groot Piet in die hoek. Maar terwyl Gert Mossie nou so aan’t wonder is, is daar iets waaroor hy wat Piet is, ook nogal wonder en dit is toiletpapier. Ja, toiletpapier, sê Piet. En hy wonder hoekom die vervaardigers van hierdie noodsaaklike verbruiksartikel dit nodig vind om die allerfraaiste ou prentjies op toiletpapierrolle aan te bring. Pragtige prentjies op papier wat tot die duisternis toe verdoem is, maak net nie sin nie, sê Groot Piet.

Hy sidder tot in sy siel elke keer as hy ‘n oulike ou lapoor-hondjie of ‘n ou lammetjie of skoenlappertjie met die allerverskriklikste vonnis denkbaar moet straf, sê Groot Piet.

 

© 2024 Die/The Bronberger