Banjailand-fiasko lei na moord en verbanning Print E-mail
News - Toeka se dae
Sunday, 24 April 2016 19:10
Untitled Document

Johannes Lodewicus Malan skryf vir die Bronnie in antwoord op vrae wat in ‘Banjailand was amper die derde Boererepubliek’ in ons Februarie-uitgawe gevra is. Dié geskiedenis lê hom na aan die hart omdat sy groot-, grootvader die eerste blanke trekker was wat verblyfreg in Rhodesië gekry het.

Johannes Lodewicus Malan

My groot-, grootvader aan moederskant was Johannes Lodewicus (John) Lee, wat op 10 Julie 1827 in Somerset-Oos gebore is. Dié sonderlinge man was die eerste blanke trekker wat in 1863 verblyfreg in Rhodesië verkry het te Mangwe, Matabeleland.

Die reg is aan hom toegestaan deur Silkaats en het ‘n plaas van 225 vierkante myl behels, wat hom die grootste blanke grondbesitter in Afrika gemaak het. Die reg is na Silkaats se afsterwe deur sy seun, Lobengula, bevestig. Die grond is deur ‘n sekere Mohr opgemeet, wat selfs die koördinate beskikbaar gestel het.

John was goed bevriend met Thomas Baines en het hom gehelp om sy prospekteer-maatskappy in Matabeleland te vestig. Baines het glo ‘n hoë dunk van John gehad en het baie in sy dagboek oor hom geskryf. Hy het op 1 Julie 1869 aan ‘n skildery van John begin werk, het dit op 3 Julie voltooi en op 6 Julie aan John oorhandig. Dié skildery het behoue gebly en is in die Pietersburgse Kultuurhistoriese Museum.

Stamme
Om die Banjailand-fiasko in perspektief te verstaan, moet ’n mens weet waar die verskillende stamme gewoon het. Die Bamangwato van Khama het rofweg gebly in die deel wat vandag as Botswana bekend is en ‘n suid-westelike gedeelte van Zimbabwe en het aan Matabeleland gegrens.

Die Matebele het in die middel van die suidelike deel en oor na die oostelike deel tot redelik ver noord gewoon met Gibbeklaik (die ou Bulawayo) as hoofstad. Die nuwe Bulawayo, wat nou Harare is, is eers later gebou.

Die Sjonas het die verre noordelike dele en die verre oostelike dele bewoon. Daar kon dus nie met Lobengula onderhandel word oor Sjonaland nie, omdat hy nie die hoof daarvan was nie.


John Lee op 85 jarige ouderdom by die Thomas Baines skildery van ‘n olifant wat John geskiet het

Traktaat
PJ Grobler is in 1887 deur die ZAR as gesant by Lobengula aangestel. Daar is ‘n traktaat met die Transvalers gesluit, wat hulle woon-, wei- en jagregte in Matabeleland sou gee.

Grobler sou by Lobengula gaan woon om kommunikasie te vergemaklik.  Dié stap het Rhodes onkant betrap omdat die Transvalers nou ‘n voorsprong op hom gehad het met die bewoning van Matabeleland.

Cecil John Rhodes het intussen die Bamangwato van Khama bevriend. Toe Grobler oor die pont by Pontdrif trek is sy geselskap aangeval en hy is vermoor. Uit die ondersoek wat gevolg het is ‘n verklaring uitgereik wat beweer dat Grobler sonder toestemming oor Khama se gebied gereis het.

Nou is dit moeilik om te verstaan dat almal die roete oor Pontdrif en dan na Mangwe gevolg het sonder enige voorval. Net Grobler is beskuldig daarvan dat hy Khama se gebied betree het. Dié voorval het in die Tati-gebied, wat ver buite die grense van Khama was, plaasgevind.

Hulp
Toe dié berig deurkom, het ‘n seun van John Lee, Jan Lee 2, en ‘n vriend die trekkie te hulp gesnel en hulle teruggebring na die Transvaal. Vir dié weldaad het elkeen ‘n plasie aan die Limpopo van die ZAR ontvang.

John Lee, wat die toestande en feite goed geken het, het ‘n verklaring ten gunste van die Transvaal afgelê. Dit het hom later duur te staan gekom.


Sarel Lee by die oorblyfsels van John Lee se huis in Mangwe

Rhodes
Rhodes het toe konsessies bekom en sy Banjailand-planne in werking gestel. Dit het Lobengula onkant betrap. Hy was nie tevrede met die nuwe aankomelinge nie en het geëis dat hulle moes terugtrek. Dié eis is geïgnoreer en verskeie opstande het gevolg.

Intussen het Rhodes sy British South African Chartered Company gestig en begin om plase aan trekkers toe te ken. John Lee is aangesê om teen Lobengula op te tree, maar hy het geweier en gesê dat die Matabeles sy hele lewe lank vir hom goed was.

John se Mangwe is teruggevat omdat hy nie kaart en transport vir die plaas gehad het nie. Wat hy nogal waar moes registreer? John is uit sy geliefde landstreek verban en het uiteindelik as armblanke op 10 Augustus 1915 in Potchefstroom gesterf.

Uit erkenning vir die goeie werk wat John gedoen het, is die ruïnes van sy huis in Mangwe as nasionale monument verklaar en dit kan vandag met ‘n begeleide toer besoek word.

Met erkenning aan oom Sarel J Lee, Pietersburg en die Marula Woman’s Institute se Mangwe-‘Gateway to Matabeleland’.

 

 

© 2024 Die/The Bronberger