Dié haas is in die kol PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Sunday, 24 April 2016 17:06
Untitled Document

Die kolhaas se naam verwys na die klein wit kolletjie, wat in baie hase eerder meer van ‘n strepie is, bo-op sy voorkop. Nie alle kolhase het egter so ‘n kolletjie of strepie nie, maar dit maak hulle nie minder van ‘n kolhaas nie.

Die kolhaas, Lepus saxatilis, kom gewoonlik teen sononder uit om te begin kos soek. Hulle vreet die blare, stamme en wortelstokke van droë of groen gras.

Die kolhaas is gewoonlik ‘n alleenloper, maar met paartyd kan twee of meer mannetjies ‘n wyfie vergesel. Die meeste kolhase word in die somer tussen September en Februarie gebore, maar ‘n kolhaas kan dwarsdeur die jaar kleintjies kry – selfs in die ergste droogteseisoen. Hulle kry tussen een en drie kleintjies op ‘n keer en drielinge word net in ‘n goeie reënseisoen gebore.

Die kolhaas se dragtigheidstydperk is een en ‘n halwe maand en die kleintjies word met hare gebore. Hulle ogies is ook dadelik oop en hulle kan dus gou na geboorte vir hulle self begin sorg.

Dit is hoekom kolhase nie tonnels in die grond grou soos konyne, wat haarloos en blind ondergronds gebore word, nie. Kolhase verkies om bedags in ‘n vlak holte tussen hoë gras of struikgewasse te lê.


Die kolhaas het sy naam gekry omdat hy ‘n klein wit kolletjie bo-op sy voorkop het

Swenkend
As hulle skrikgemaak word, hardloop hulle met platgetrekte ore weg in ‘n swenkende patroon. Hulle sal baie kere vlak langs die pad gaan sit met dié platgetrekte ore, oortuig daarvan dat ‘n mens hulle nie kan sien nie.

Die kenners het eers gedink dat kolhase net met paartyd roep of om maters teen gevaar te waarsku.

Dit is egter nie waar nie – kolhase maak gereeld in die nag harde tjirp-geluide as hulle ontstig word.

Baie mense hoor dié geluide in die nag en het net nog nooit besef dat dit hase is wat so roep nie.

Kolhase het lang ore, ongeveer 14 cm, en hulle agterbene is baie langer as hul voorbene. Die kolhaas se lengte wissel tussen 45 en 65 cm en die stert is tussen 7 en 17 cm lank. ‘n Kolhaas weeg tussen 1,5 en 4,5 kg.


Die kolhaas het ‘n stewige paar ore

Sy sagte wollerige hare is grys of vaalbruin, besprinkel met swart, terwyl sy onderkant suiwer wit is of wit met vaalbruin stroke. Sy stert is swart aan die bokant en wit aan die onderkant.

Dit is gewoonlik die wit onderkant wat ‘n mens die duidelikste sien as die kolhaas weghardloop met sy stertjie penorent gehou. Hase kan baie vinniger as konyne hardloop en die vinnigste hardloper in die haasfamilie is die Europese bruinhaas wat ‘n spoed van 70 km/h kan bereik. Menige gemene jaghond in Suid-Afrika wat met ons eie kolhaas se vernuftige systap te doene gekry het, sal meen dat hy veel vinniger is.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online