Nakomelinge onthul Dorsland-gedenkteken PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Sunday, 24 April 2016 16:56
Untitled Document

In die skadu van die Voortrekkermonument is daar op 19 Maart geskiedenis gemaak deur die nageslag van die Dorslandtrekkers. Ses bejaardes, wat nog in Angola gebore is, het die Dorslandtrekvereniging RSA se gedenkteken onthul.


Daar was ‘n kranslegging by die gedenkteken

Die Dorslandtrekkers het in 1874 vanaf hulle plase in die Zuid-Afrikaansche Republiek begin trek na “’n beter land ter bewoning” in Angola en later Suidwes Afrika.


Mense wat nog in Angola gebore is, voor: Miems Fourie (94) en Louw (Oppie) Opperman (90).
Agter: Marthie Haupt (89), Marietjie Baartman (90), en Willie Pieters (88)

Die onthullingsgeleentheid is deur 220 nakomelinge, wat die moed en durf en die ontberinge van hulle voorgeslagte gehuldig het, bygewoon.


Die Dorslandtrekvereniging RSA se gedenkteken, opgerig in die skadu van die Voortrekkermonument, is op Saterdag 19 Maart onthul

Die idee vir die oprigting van so ‘n gedenkteken het in 2011 gekom van generaal Gert Opperman, uitvoerende direkteur van die Voortrekker-monument en die Erfenisstigting. Hy het aan afstammelinge van die Dorslandtrekkers genoem dat hy graag wil hê die Dorslandtrekkers moet ook by die Voortrekker-monument vereer word. Blykbaar het die afstammelinge van die trekkers na Oos-Afrika reeds 'n gedenkteken vir hulle voorgeslagte daar opgerig.


Ses bejaardes wat nog in Angola gebore is het namens die nageslag van die Dorslandtrekkers die gedenkteken onthul

Daadwerklike planne om so ‘n gedenksteen op te rig het ongeveer drie jaar gelede begin vorm aanneem. Op 20 Augustus 2014 het die Voortrekker-Monument se bestuur ‘n perseel aan die Dorslandtrekvereniging van Suid-Afrika toegeken.


Die onthulling is deur sowat 220 nakomelinge van die Dorslandtrekkers bygewoon

Daar is verskeie sketsplanne voorberei, koppe bymekaargesit vir die bewoording van die ode, die geskiedenis en ‘n vannelys. Die seremoniële sooispit-geleentheid was in Maart verlede jaar.

 

 

© 2019 Die/The Bronberger