CMR stel Pasella Pakkies bekend Print E-mail
News - Ons Mense
Sunday, 24 April 2016 18:55
Untitled Document

Die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) Gauteng Oos het op 17 Maart hulle voedselskema handelsmerk, Pasella Pakkies, bekendgestel. Sanger Ghapi, die projek se ambassadeur, het die lint geknip om Pasella Pakkies van stapel te stuur. Hy het ook pakkies aan mense wat by die bekendstelling was, oorhandig.

CMR Gauteng Oos het 13 satellietkantore in die Pretoria-distrik en voedselskemas word by al dié kantore bedryf. Kantore is in Cullinan, Refilwe, Faerie Glen, Silverton, Zithobeni, Nellmapius, Meyerspark, Moreletapark, Elarduspark, Bronkhorstspruit, Lyttelton, en Ivory en Ebony Park.


Henda van der Merwe en die sanger Ghapi het, as die projek se ambassadeur, die lint geknip om Pasella Pakkies van stapel te stuur

Henda van der Merwe, direkteur van CMR Gauteng Oos, sê dat die organisasie se kernaktiwiteit gesinswelsynsdienste is. Kos is een aspek daarvan. ’n Honger kind is nie ‘n gesonde kind nie, sê Henda. ‘n Honger kind kan nie goed op skool presteer nie, en ons sal honger gesinne altyd probeer help in elke gemeenskap waarin ons werk, sê sy.

In 2015 was meer as die helfte van die mense wat kos by CMR Gauteng Oos ontvang het, blankes. “Dit wys duidelik dat honger nie die kleurskeidslyn in ag neem nie. Alle lede van die gemeenskap word deur die ekonomiese daling geraak, en ons reik uit na almal in nood.” Henda sê dat hulle seker maak dat mense nie die stelsel misbruik deur wanvoorstelling van hulle nood nie. Sy sê ook dat hulle nie beoog om mense afhanklik te maak van uitgedeelde kos nie.


Ghapi deel Pasella Pakkies uit

“Ons vra diegene wat ons nader vir hulp, insette van hulle kant af. Byvoorbeeld, hulle kan helpers word in enige van ons gemeenskapsprojekte, soos die klerestoor. Op dié manier ‘verdien’ hulle dan eintlik hulle kos.”

Die voedselskemas het hulp vanuit plaaslike gemeenskappe nodig. Nie-bederfbare kos word verwelkom, en in sommige gevalle ook gekookte en gevriesde maaltye. Bel Sandra Kruger by CMR se hoofkantoor, 012-361-4613/19, om te hoor hoe jy deel van die voedselnetwerk kan word.

 

 

© 2020 Die/The Bronberger