Cullifest kook met vermaak, proteas en proe PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Sunday, 24 April 2016 16:54
Untitled Document

Die Protea Cullifest is van 30 April tot 2 Mei in Cullinan. Dié fees is vanjaar 16 jaar oud en fokus onder meer op proteas wat plaaslik deur Japie van Staden verbou word.

Die opelug verhoog gaan sorg vir vermaak deur top kunstenaars, teaterstukke gaan deur befaamde akteurs opgevoer word en daar gaan volop gehalte kunsmark stalletjies wees. Besoekers kan ook smul aan tradisionele eetgoed soos vetkoek, kerrie en rys, pannekoek, melkkos, pap en kaiings en poedings en ander eetgoed soos worsbroodjies en hamburgers.  


‘Dorings en Rose’ bied ‘n komiese, leersame kykie na die verskille tussen mans en vroue

Vir die dorstiges is daar ‘n biertuin en wyntuin waar jy jou wynkennis op die proef kan stel by KWV se wynproe (slegs Saterdag 30 April en Maandag 2 Mei). Kleingoed kan in 'n veilige kinderspeel-gebied onder toesig gelaat word terwyl jy 'n teatervertoning bywoon. 

Bespreek jou sitplek teen R50. Daar word vier vertonings aangebied. ‘Blou Blou’ begin 11 vm op 30 April. Dit is ’n biografiese eenmanstuk deur Erik Holm, wat in sy rolstoel sit en praat terwyl beelde uit sy lewe op ’n skerm agter hom geprojekteer word. Daar is onderhoude met sy ouers, beeldmateriaal van die ongeluk wat hom verlam gelaat het en sy valskermsprong. 


‘Blou blou’ met Erik Holm

‘Dorings & Rose’, 11 vm op 1 Mei, is geskryf deur Ben Kruger en bied ‘n komiese, leersame kykie na die verskille tussen mans en vroue. Dit steek die draak met paartjies aan die hand van skreeusnaakse situasies wat uitbeeld wat met paartjies gebeur vanaf ontmoeting tot oudword stadium.

Kroekboek (As die boek pas), 2 nm op 1 Mei, is ‘n lekkerlag eenvrou stuk met ‘Suster Naomi’ van Binnelanders. Ervaar Je-Ani Swiegelaar in ‘n stuk geskryf deur Johan Riekert en Liese-Lotte de Beer met regie deur Cindy Swanepoel.


‘Babelaas en Babers’ met Ben Kruger

‘Babelaas en Babers’, 11 vm op 2 Mei, is Ben Kruger se visvangstorie met ‘n verskil. Dié vertoning laat mense lag dat hulle seerkry. Ben vertel dat hy een aand amper in die moeilikheid was toe 'n omie so gelag het, dat hulle hom suurstof moes gee.

Vertonings op die opelug verhoog strek van Arno Jordaan, Francois du Toit, Paper Plane City en Brendan Peyper op 30 April; Jakes Bresler, Jan de Wet en Chris Coetzer op 1 Mei; en Ampie, Willem Botha, Monique en Pieter Koen op 2 Mei.


Corné Crous, beter bekend as 7de Laan se Kim Conradie, sing in die groep, Paper Plane City

Die feesterrein is in Zonderwaterweg, Cullinan. Toegang op die Saterdag en Maandag is R50 vir volwassenes en R30 vir kinders. Toegang na die Sondag se Loffees is gratis. Jy kan ‘n naweekpakket van R80 ‘n volwassene en R40 ‘n kind vir dagtoegang by Computicket koop.

Vir meer besonderhede, skakel 083-865-0563.

 

 

© 2019 Die/The Bronberger