Ontwikkelaars en klagtes PDF Print E-mail
News - Briewe
Wednesday, 03 December 2008 18:37
Untitled Document

Juanita Jamneck van Mooiplaats skryf:

Dit is vir my interessant dat daar in amper elke Bronberger briewe en artikels is oor ontwikkelaars en hulle misbruik van ons gemeenskap en omgewing. Kyk maar na Oktober se artikel oor die ontwikkelaar se “plakkers” langs die Boschkoppad, die briewe oor gatpaaie en “wetlands” en die artikel oor die omswaai van GDACE oor Atterbury-verlenging in November se uitgawe.

Wat my egter meer verstom, is die gemeenskap se onbetrokkenheid wanneer dieselfde ontwikkelaars hulle bordjie wat die ontwikkeling adverteer op ’n besondere stuk grond met ’n besondere stuk berg en ’n uitsonderlike geskiedenis, opsit.

Daar word geadverteer om ongeveer 300 wooneenhede op te rig - ’n ontwikkeling wat ’n verkeerstou van sowat 3 km op die Boschkoppad gaan veroorsaak vanaf die T-aansluiting by Lynnwoodweg.

Raai hoeveel inwoners het beswaar gemaak? Net een! Dink die res van die gemeenskap nie daaraan dat hulle ook geaffekteer gaan word nie? Besef hulle nie dat daar geen krag en geen pypwater is nie en dat die bietjie ondergrondse water wat ons wel het, deur hierdie ontwikkeling opgevreet gaan word nie?

Of aanvaar hulle maar gelate dat alle natuurlike plantegroei uitgestoot kan word om plek te maak vir geboue wat op die ou end leegstaan? (Sien die kantore op pad na Silver Lakes en die stilstaande ontwikkeling by Lombardy.)

As elke persoon wat die Boschkoppad en Lynnwoodweg-verlenging gebruik daaraan gedink het dat die ontwikkelaar se voorgestelde oplossing van ’n verkeersirkel by die T-aansluiting, net nog meer ongelukke gaan veroorsaak, kon daar dalk ’n paar meer beswaarmakers gewees het.

Ek sal graag wou weet hoeveel van die skrywers (klaers) in Die Bronberger beswaar gemaak het teen The Hills se ontwikkeling toe dit aanvanklik voorgestel is. Komaan, dink ’n bietjie verder en moenie jou vasstaar teen sogenaamde waardevermeerdering van jou eie stukkie grond nie! Dit het in elk geval nie gebeur met die stygende rentekoerse nie!

Doen moeite - lees die advertensie en maak beswaar. Dis tyd dat die ontwikkelaars ons landelike gebied uitlos! Of moet ons nou maar almal oorgee, verkoop en weer in die stad (waaruit ons gevlug het) bly?

 

© 2019 Die/The Bronberger