Arrogant, aggressief, onbedagsaam, ongeduldig, ongepoets, selfsugtig, moronies en sonder enige respek vir ander. Klink dit na die beskrywing van ‘n baie ongure karakter uit ‘n sesderangse sepie? Of dalk na ‘n sekere politikus? Wel, dit kon seker ewe goed gewees het, maar dit is nie. Dit is die skelwoorde wat gebruik word deur twee groepe gewone mense in ons gemeenskap om mekaar onderling te beskryf en te beskuldig.
Motoriste wat die Boschkopteerpad gebruik dig die bogenoemde eienskappe aan fietsryers toe en fietsryers van die Velo-klub beskuldig motoriste daarvan. En so hou dit reeds jare aan, sonder dat ‘n oplossing gevind word. Soos die gebied toenemend ontwikkel, raak die verkeersdruk, die probleme en die wedersydse vyandigheid tussen motoriste en fietsryers erger – soos dit ook uit die berig op bladsy ses van hierdie uitgawe duidelik blyk.
Dit is edel van dié klublede en motoriste wat deur gesprekvoering wil probeer om ‘n oplossing te vind, maar ons hou nie die asem op nie. Solank as wat Velo se fietsryers groepritte op weeksoggende in spitstyd op dié skouerlose pad onderneem, sal die wedersydse frustrasie voortduur en sal die lewensgevaarlike vyandskap nie verdwyn nie.
Daar is sekerlik meriete in altwee die groepe se klagtes, maar iewers sal iemand toegewings moet begin maak, as verdere onmin en moontlike tragedies voorkom wil word.
Gesprekke kan tot blouwordens toe gevoer word, maar dit gaan geen verskil maak as iets drasties nie verander nie. Wat kan dan verander wat prakties uitvoerbaar is?
‘n Mens kan dit maar op jou maag skryf dat alle motoriste wat die pad soggens gebruik om werk toe te ry en om die kinders betyds by die skool te kry, oornag die geduld en meelewing gaan aankweek om maar gedienstig en tevrede agter ‘n bondel fietsryers aan te kruie.
Al haalbare oplossing is dat die verandering en toegewings uit die geledere van die dertigstuks fietsryers wat soggens die pad gebruik, sal moet kom. En ja, hulle sal tereg kan redeneer dat dit onregverdig is en dat hulle net soveel reg op daardie pad het as die motoriste.
As Velo werklik nie ‘n ander, veiliger oggendroete vir hulle lede kan vind nie, moet hulle ‘n ander, veiliger tyd vir die ritte kry. Daar is eenvoudig geen ander uitweg nie.
Ons weet dit sal moontlik ‘n bietjie vroeër opstaan en verder ry na die beginpunt verg, maar is die pragtige, stil stuk ‘skoonteer’ tussen Onbekend en Witpoort al oorweeg? |