Het jy gehoor? / Have you heard? - Mar2016 PDF Print E-mail
News - Het Jy Gehoor
Monday, 21 March 2016 05:34
Untitled Document


’n Leser van Tierpoort laat weet dat ’n baie edele en goeie aksie in dié gebied begin is om mense die geleentheid te gee om hulle bure te leer ken. Die Engelse slagspreuk van die groep lui dat jy moet kalm bly en jou bure ondersteun. Die kenteken is 'n Bengaalse tier met 'n kroon op die kop. Nou sê die leser hy dink die mense moet kalm bly en die oorsprong van Tierpoort se naam leer ken. Die ‘tier’ verwys na 'n luiperd, wat nou nog daarlangs voorkom. Vroeër jare is algemeen na 'n luiperd as 'n ‘tier’ verwys.

~*~


Ná verlede maand se toeka-storie oor Afrikaanse trekkers na die destydse Rhodesië het die Bronnie ‘n hele klomp oproepe ontvang van mense wat afstammelinge van dié trekkers is. Ons het hulle gevra om ou familiefoto’s te gaan soek en hoop om in ‘n toekomstige uitgawe vir lesers te wys wie dié mense is.

~*~


Lakelands Aarbeiplaas hou op Paas-Maandag, 28 Maart ‘n gesinsdag met springkastele, ‘n waterglybaan, gesigverf, kolwyntjie versiering en ‘n paaseier-skattejag. Aktiwiteite is van 9 vm tot 3 nm en dit kos R30 om deel te neem. Lakelands is op plot 23, Tierpoort. Skakel 072-942-5111.

~*~


‘n Buitelug-ekspo word in die naweek van 22 tot 24 April by Rafters langs Garstfonteinweg, oorkant Mooikloof gehou. ‘n Potjiekos-kompetisie om die gebied se potkookkonings aan te wys sal ook gehou word. Vir inligting of uitstalruimte en potjiekos-deelname, bel Gert van der Walt by 083-302-2076.

~*~

‘n Bronnie-leser wat op 5 Maart by die Rietvleidam-natuurreservaat gaan piekniek hou het, vertel dat die hele reservaat oortrek is met plate pom-pom onkruid. Die meeste grondeienaars doen hulle uiterste om die onkruid uit te roei en hulle word ook wetlik verplig om dit te doen. Die Rietvleidam-natuurreservaat behoort aan die stadsraad.

~*~


Steve Hofmeyr besoek Cullinan. Hy hou op 23 April om 7 nm konsert by die Hervormde Kerk, Cullinan op die hoek van Zonderwaterweg en die R515. Toegang is R200 en kerrie en rys is R30. Bespreek by Alta: 082-682-1252.

~*~


Silver Creek Mountain Band tree elke Woensdagaand vanaf 7 nm by Monte De Dios in Achillesweg, Zwavelpoort op. Bespreek by 071-100-3305, 081-285-3156, 081-758-7939 of 072-590-4847.

~*~


‘n Versameling van kunstenaar Marian C Damerell se potloodsketse word van 20 Maart tot 14 April by die Tina Skukan Galery uitgestal. Die galery is op plot 6, Koedoebergweg, Faerie Glen. Skakel 012-991-1733.

~*~


Die Protea Cullifest is van 30 April tot 2 Mei in Cullinan. Besoekers kan uitsien na ‘n vermaaklikheidsprogram met sangers en een-man-vertonings, ‘n groot verskeidenheid koskraampies, kindervermaak, gekeurde uitstallers en tente met proteas. Die feessterrein is in Zonderwaterweg. Toegang op die Saterdag en Maandag is R50 vir volwassenes en R30 vir kinders. Toegang na die Sondag se Loffees is gratis. Vir meer besonderhede, skakel 083-865-0563.

~*~

Alet Murray van Pretoria-oos sê sy wou graag die Bronnie bel oor ‘n ding, maar haar foon is op rys. Sy het haar selfoon in haar beker tee laat val en het toe die volgende raad by 'n selfoon-ingenieur gekry: Maak foon oop, droog al die stukkies met baie droë lap af en verpak vir 24 uur in droë rys. Dis glo baie higroskopies en sal al die klammigheid absorbeer.

~*~


‘Moerlekker Afrikaans’ is die naam van ‘n vertoning wat op 31 Maart vanaf 6 nm by Asbosteater gehou word. Marica van Rensburg, Erna Kritzinger en Martin Jansen gaan verse voorlees en musieknote laat weerklink met van die mooiste en bekendste Afrikaanse gedigte en toonsettings van gedigte. Erna en Martin is die aanbieders van ‘Verse vir almal’ wat elke Sondag om 4 nm op Pretoria FM uitgesaai word. Na afloop van die verse gaan Martin sy radioprogram, ‘Radioleesklub’, interaktief aanbied. Dit beteken dat mense wat die aand saamkuier twee of drie boeke moet saamneem wat hulle onder mekaar kan uitruil. Toegang is R200. Asbosteater is by die Karoo-kompleks in Lynnwoodweg, Die Wilgers. Skakel 082-564-0999.

~*~


Mark-Mark is ‘n plek waar studente en kinders hulleself deur kreatiewe en besigheidsvernuf kan gaan uitleef. Dit word op Sondag 20 Maart en Maandag 21 Maart van 9 vm tot 5 nm by Rosemary Hill, plot 257, Mooiplaats gehou. Dié mark is die eerste ooit van sy soort en daar is 50 uitstallers, bergfiets-roetes, kinder-aktiwiteite, lekker kos, ‘craft’ bier vir pa, wyn vir ma en koffie vir ouma. Toegang vir volwassenes is R20 en vir skoolkinders R10. Is jy onder 21 en het ‘n unieke idee? Stuur jou aansoek om in die toekoms by Mark-Mark uit te stal na This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

~*~


Vier jaar gelede het die Cullinanse kunstenaar, Johan du Plessis, sy eerste perd van hoefysters geskep met ysters wat uit die Tweede Wêreldoorlog dateer. Sedertdien het Johan by die 150 soortgelyke kunswerke gemaak en bykans een ton hoefysters is in die proses deur sy hande.

~*~


Craig Müller hou van 9 tot 30 April ‘n solo-uitstalling van sy tekenwerk by ArtBox Galery in Barnardstraat 858, Elarduspark. Die meegaande potloodskets is Craig se kunswerk genaamd ‘Planet Engineering Relic’. Bel Etienne van Zyl by 083-384-2402.

~*~

Zwavelpoorters suid van die Bronberg het onlangs omtrent die wêreld omgekeer op soek na die bron van musiek-lawaai wat hulle tot twee uur in die oggend wakker hou. Hulle het uiteindelik agtergekom dat die klank reg bo-oor die Bronberg trek en van Weiveld aan die noordekant van die berg af kom. Weiveld is ‘n nuwe Afrikaanse langarm naweek-kuierplek langs Bronberg Wynlandgoed by die T-aansluiting van die Boschkop-pad met Lynnwoodweg-verlenging. Hulle het glo elke Vrydagaand platejoggies en elke Saterdag kunstenaars wat in dié landelike gebied optree. Klaarblyklik het hulle ’n lisensie wat stipuleer dat hulle tot twee uur mag musiek maak.

~*~


Die Shere kunsateljee hou op Saterdag 26 Maart van 10 tot 11 vm ‘n lesing-demonstrasie oor die gebruik van ’n paletmes in olie- en akrielverf. Almal is welkom, van diegene wat graag wil begin skilder tot bedrewe kunstenaars en versamelaars. Die een-uur lesing kos R100 en sluit koek en tee in. Die ateljee is op hoewe 35, Catherinestraat, Shere. Bel Susan by 072-744-1459.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online