Print E-mail
News - Toeka se dae
Monday, 21 March 2016 08:02
Untitled Document

Angie Kleijn

Die woord ‘konsentrasiekamp’ roep meer as honderd jaar ná die Engelse Oorlog nog skrikbeelde van verhongering, pestilensies en dood op. Diegene wat oorleef het, het met gruverhale teruggekeer na hulle afgebrande plase. Tog was daar ook stories van die engele wat tussen die kampe se tente gewerk het en dié wat die gevangenes se lot wêreldwyd bekend gemaak het.

Die eerste naam op mense se lippe is die van Emily Hobhouse wat in Oktober 1900 vanuit London die Relief Fund for South African Women and Children gestig het. Sy het op 27 Desember 1900 na Suid-Afrika gekom om die konsentrasiekampe te besoek. Die omstandighede het haar geweldig geskok en sy het seker gemaak dat die wêreld daarvan weet.


Emily Hobhouse
Foto: zar.co.za

Emily is deur die Britte verbied om voortaan die konsentrasiekampe te besoek en toe sy op 27 Oktober 1901 weer in die land aangekom het, is sy kragtens krygswet summier na Engeland teruggestuur.

Emily se opheffingswerk ná die oorlog het ’n leidende rol gespeel om platgeslane Boeregesinne te help. Sy is op 8 Junie 1926 in Londen oorlede en haar as is op 26 Oktober 1926 aan die voet van die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein begrawe.


Henrietta Ester Carolina Armstrong

Cornelis
‘n Minder bekende kampvegter vir die lot van Boerevroue en -kinders in konsentrasiekampe was Cornelis Broeksma. Hy is in Drente, Nederland gebore en het vroeg in 1882 op die ouderdom van 19 jaar na Suid-Afrika geëmigreer.

Cornelis het in 1891 met die 17-jarige Francina Vionel getrou en hulle eerste kind is in 1892 gebore. In 1895, toe hulle tweede kind gebore is, het hulle in Pretoria gebly. Hy was ‘n staatsaanklaer en het net ná die Jameson-inval na Johannesburg getrek.


Cornelis Broeksma, sy vrou Francina en hulle kinders
Foto: Zuid-Afrika-huis

Toe die oorlog uitbreek het Cornelis gerugte van die toestande in konsentrasiekampe gehoor en besluit om soveel as moontlik van dié kampe te besoek. Wat hy gesien het, het hom so geskok dat hy rekord begin hou het van die aantal sterftes en het Europese koerante daarvan vertel.

Hy het sy rekords in geheime kode na Amsterdam gestuur, maar op pad het dit in die Britte se hande beland. Cornelis is van hoogverraad aangekla en Kitchener het beveel dat hy in die openbaar tereggestel moet word. Cornelis is op 30 September 1901 deur ‘n vuurpeloton by die Johannesburgse Fort doodgeskiet, waar hy ook begrawe is. Hy is later in die Braamfonteinse begraafplaas herbegrawe.


Johanna, toe nog ‘n nooi Van Warmelo, in haar verpleegstersuniform
Foto: Jackie Grobler-versameling
.

Aletta Hendrina Bosman (gebore Faure), die vrou van Pretoria se Hervormde dominee, Hermanus Stephanus Bosman, was die voorsitter van die Irene Hulpkomitee
Foto: Suid-Afrikaanse Vroue Federasie

Henrietta
Op 6 April 1901 het ‘n groep vroue van Pretoria die ‘Irene Vrijwilliger Verpleegsterskorps’ op die been gebring om hulp aan die siekes en noodlydendes in die Irene Konsentrasiekamp te verskaf.

Die korps is in oorleg met Aletta Hendrina Bosman (gebore Faure), die vrou van Pretoria se Hervormde dominee, Hermanus Stephanus Bosman, gestig en was onder aanvoering van Henrietta Ester Carolina Armstrong (gebore Oberholzer).

Henrietta is op Fauresmith gebore en het met die uitbreek van die oorlog in 1899 as verpleegster by generaal Piet Joubert se kommando aangesluit. Na die inname van Pretoria op 5 Junie 1900 het sy na die hoofstad teruggekeer om die vrywillige verpleegsters te organiseer.

Henrietta het van April tot Oktober 1901 in die Irene Konsentrasiekamp gewerk en het ‘n dagboek van haar wedervaringe gehou. Dié dagboek is in 1980 deur die RGN gepubliseer.


Die omslag van Henrietta se dagboek

Irene
Die meeste van ons kontrei se mense is in die Irene Konsentrasiekamp op die plaas Doornkloof, waar die Irene-gholfbaan vandag is, opgeneem. Dié kamp was een van die eerstes wat opgerig is en ook een van die laastes wat gesluit het – op 7 Februarie 1903, bykans ‘n jaar ná vrede op 31 Mei 1902 verklaar is.

Die kamp se inwonertal het van 819 mense in Februarie 1901 tot 4 655 mense in Augustus 1901 gestyg. Verskillende bronne se statistieke verskil, maar as ‘n mens na gemiddelde kyk was daar van 1 Mei 1901 tot 30 Junie 1902 gemiddeld 4 505 kampinwoners: 1 737 (38,6%) kinders; 1 707 (37,8%) vroue; en 1 065 (23,6%) mans.


‘Camp diary of Henrietta EC Armstrong: Experiences of a Boer nurse in the Irene concentration camp, 6 April - 11 October 1901’

Strafkamp
Daar was ook ‘n strafkamp vir vroue wat oproerig was. Dié kamp was naby die toilette op droë veld waar veroordeelde vroue soms vir ‘n dag lank sonder kos en water opgesluit is.

Die Irene Primary School is in September 1901 vir die konsentrasiekamp-kinders gestig. Daar was ‘n hospitaal en ‘n ontspanningsterrein noord van die kamp, wat vandag as die Oval bekend staan.

In Januarie 1901 is die kamp verder noord verskuif en meer direk wes van die stasie. In Januarie 1902 is ‘n tweede kamp 1.6 km van die eerste kamp af geopen en in Maart 1902 is van die inwoners van Nylstroomkamp daarheen verskuif. Teen die einde van 1902 was daar ongeveer 5 700 mense in die twee kampe.


Die hulpgroep en kamponderwyseresse by Irene Konsentrasiekamp in Mei 1902
Foto: Isabelle GM-versameling

Aankoms
Honderde gesinne, meestal met net die klere aan hulle lywe, is uit oop treinwaens by die kamp afgelaai, soms sonder dat voorbereidings vir hulle ontvangs getref is. Daar was dikwels nie genoeg voorraad en tente om skielik nog ‘n paar honderd mense te huisves nie en dit was nie ongewoon dat 20 mense in ’n tent wat vir ses mense bedoel is, gebly het nie.

‘n Destydse kampinwoner, Martha CF Stander (gebore Fourie) skryf: “Dit was ‘n treurige gesig toe ons daar aangekom het. Om die arme vrouens in klompies te sien staan, terwyl hulle die tyd afwag dat hulle dode na die graf gedra word, was eenvoudig hartverskeurend. Daar was masels en kinkhoes in die kamp en van vyf tot dertien lyke is per dag na die begraafplaas geneem – meestal kinders.”


Hulpwerkers by Irene Konsentrasiekamp in Mei 1902, van links na regs: Kampassistent Josiah Babada, en kamponderwyseresse en -helpers Ethel Martin, Marie O'Connor en mej Scott
Foto: Beverley Ussher-album

Rantsoene
In haar dagboek skryf Henrietta dat die voedselrantsoene ten alle tye onvoldoende was. ‘n Week se rantsoen het uit 7 lb meel, 4 oz sout, 6 oz koffie en 12 oz suiker bestaan. Kinders het die helfte daarvan gekry.

Die rantsoen het ongeveer 29% van ‘n volwassene se kalorievereistes en slegs 15% van die van ‘n kind verteenwoordig. Vleis was selde beskikbaar en die gesinne van vegtende kommandolede het niks gekry nie.

Melk, vars groente, seep, kerse en toiletware was skaars en is slegs voorsien wanneer die kampdokter dit as ‘n mediese noodsaaklikheid voorgeskryf het.

In die verklaring van kampinwoner, SM Scheepers (gebore Erasmus) skryf sy: “Die meel het gekrioel van wurms en die vleis was meestal oneetbaar. Daar was geen groente nie, terwyl die koffie en suiker slegter was as die slegste wat ek ooit gesien het.”

“Die beste naam vir die Irenevrouekamp sou, volgens my mening, wees: ‘n Moordkamp.”


Kamponderwyseresse, mej Scott, mej Taylor, Marie O'Connor en Ethel Martin, knielend voor
Foto: Isabelle GM-versameling

Johanna
Alhoewel daar ‘n gemiddeld van 540 siek mense per dag was, het die kampowerheid bepaal dat daar nooit meer as ses verpleegsters in die kamp mag wees nie.

Johanna van Warmeloo (later Brandt), het ook as vrywilliger-verpleegster by Irene diens gedoen en was van mening dat die vleis selfs vir honde ongeskik sou wees en het die koffie en suiker as “skandalig” bestempel.

Johanna het van haar kampervaringe in ‘Die Kappie-kommando’ en ‘Het Concentratiekamp van Irene’ vertel. Sy was in haar vroeë twintigs toe die oorlog uitgebreek het. Terwyl sy in die winter van 1901 by dié kamp was, het haar ma se eerste avonture met spioenasiewerk begin.

Die ses verpleegsters is kort daarna deur militêre owerhede uit die kamp verban en Johanna het by haar ma, Maria, op Harmonie ingetrek waar hulle ‘n suksesvolste spioenasie-ring vlak onder die Britte se neuse bedryf het.


‘n Getekende kopie van Johanna Brandt van Warmelo se boek, ‘'Het Concentratiekamp van Irene’

Kerkhof
Daar word gesê dat 1 179 mense in Irene Konsentrasiekamp gesterf het, waarvan 1 002 onder 15 jaar oud was. Die kampowerheid het gewoonlik ‘n genommerde naamplaatjie op grafte geplaas en een van die plaatjies wat gevind is, was nommer 2 156. Dit kan daarop dui dat die werklike getal sterftes heelwat hoër kon wees.

In 1904 het van die vroue wat in die Irene Konsentrasiekamp gewerk het, die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) gestig. Sedert 1906 het hulle op 31 Mei kransleggings by die kampkerkhof gehou en vanaf 1911 het die SAVF gereeld die kampkerkhof versorg. Dit was egter op private grond, wat sake bemoeilik het.

Eertydse vrywilliger-verpleegster, Henrietta Armstrong, was ‘n ywerige lid van die SAVF en ook een van die stigters van die Langlaagte-weeshuis vir oorlogswese. Deur die SAVF se bemoeienis het die Transvaalse Provinsiale Administrasie die Irene kampkerkhof in 1957 aangekoop en in samewerking met die destydse Sentrale Burgergraftekomitee die eerste restourasieprojek aangepak.


Die Irene-skool
Foto: Isabelle GM-versameling

Gedenktuin
In 1958 het die Raad op Oorlogsgrafte op aandrang van die SAVF besluit om die begraafplaas in ‘n gedenktuin te omskep. Slegs 850 leiklipgraftstene is gevind. Die oorspronklike begraafplaas het net uit hopies klippe bestaan en nie alle grafte het grafstene gehad nie, wat beteken dat spesifieke grafte nie geïdentifiseer kon word nie.

Die oorspronklike handgekerfde leiklipgraftstene wat gevind is, is in vier U-vormige ringmuurtjies aan die vier sykante van die kerkhof ingemessel.


Die begindae van die kamp
Foto: Isabelle GM-versameling

Simboliese grafstene met die name van die gestorwenes in alfabetiese volgorde is opgerig. Die klipstapels wat op die oorspronklike grafte was, is gebruik om ‘n gedenkmuur en plaveisel in die middel van die begraafplaas te bou. Op 31 Mei 1958 is ’n gedenkteken deur senator J de Klerk, minister van Binnelandse Sake, onthul.

In 1968 is 35 kinders wat in ’n tweede begraafplaas begrawe was, in ‘n bogrondse grafkelder herbegrawe.

Die begraafplaas is vandag ‘n nasionale gedenkwaardigheid onder die beskerming van die SA Erfenishulpbronne-agentskap (SAEHA).


Kyk hoe het die kamp aan die oorkant van die rivier gegroei
Foto: Isabelle GM-versameling

 

© 2024 Die/The Bronberger