Die Hoefyster is ‘n ou perd met nuwe kleur Print E-mail
News - Vreethans
Monday, 21 March 2016 08:01
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Jare gelede het ons ‘n genoeglike kuier of drie by Egons op Kaalfontein ingesit. Egon het die rustige plotplek verlaat en dit het nuwe eienaars en ‘n ander naam (Bushalti) gekry. Ons het nog nie die geleentheid gekry om by die busplek stil te hou nie, toe verwissel dit weer van eienaar en van naam. ‘Die Hoefyster’ heet dit nou.

Jy swenk skerp links by die gevaarlike draai aan die beginpunt van Kaalfontein se kuiermyl. ‘n Paar honderd meter met die grondpaadjie aan, verby ‘n trop mooi veldperde en jy hou stil voor Die Hoefyster se voordeur.

Die ‘kuiermyl’ omdat ‘n stuk of ses kuierplekke deesdae tussen die genoemde draai en die stopstraat voor die ou Bronkiepad ingeryg sit.


‘n Nolsburger met skywe

Dis Saterdag, die son skyn aspris warm en by Die Hoefyster is dit verstommend stil. Ek onthou in Egon se tyd was die plek Saterdae gepak met vrolike rugbykykers. Later sien ek op die rugbykyktoestel die amperse leë pawiljoene om Loftus en ek begin verstaan . . . Iets drasties sal baie vinnig in die Blou Bullekamp moet verander, dink ek.

Op die plek se kuierstoepie wag ‘n eenoog Pekingese brakkie ons in. Hy het ‘n geel rubbereendjie in sy bek en hy vra dat ek dit moet gooi. Ek doen dit. Sy naam is Tau en hy behoort aan die vriendelike restaurantbestuurder / kroegingenieur. Sy vertel dat ‘n spelery met haar kat, Tau sy oog gekos het. Tau kuier die hele tyd saam met ons, nie naby genoeg om lastig te wees nie, maar tog naby genoeg om oulik te wees.

Kroegingenieur bring spyskaarte. Sy bring drankies en sy skakel die dakwaaiers teen die somerhitte aan. Ons sit by een van die mooi tafeltjies in die knussige binnewerke van Die Hoefyster.


Jy sal gesellig kan kuier by Die Hoefyster in die komende winter

Sy vertel dat dit oorspronklik die perdeplot se stalle was en sy wys ons die hoefysterspore wat destyds in die amper-droog sement van die vloer verewig is. Teen die mure hang kunstige werke wat ook die plek se naam as inspirasie gehad het.

Dis gesellig hier en dis rustig. Deur die venster kyk ons na die weiende perde. Anderkant die weiveld sien ek hoe besig die pad tussen Rayton en die Witbank-snelweg geword het sedert die diamantmyn se gat die Zambesiepad uit die noorde, syne laat sien het. Genadiglik hoor ons nie die verkeerslang se raas hier nie.

Die spyskaart verg nie lank lees nie, maar die verskeidenheid is mooi uitgedink en uiteenlopend genoeg om baie smake en stemmings te bevredig. Die nuwe eienaar het duidelik moeite gedoen met spyskaart en die Afrikaans daarop is keurig en korrek. Dit laat die hart warm klop.


Tau, Die Hoefyster se waghond, wag geduldig dat iemand sy eendjie gooi

Die drie burgerkeuses se pryse in baie billik. Trouens, al die geregte se pryse blyk baie billik te wees. ’n Hoenderburger kos R40 en ‘n  beesburger met spek en kaas daarby, R45. Die soortgelyke een met ‘n eier ook, kos R50. Genoeg op die burgerstapel om deur te gaan as ‘n Nolsburger, dink ek. (Dis ‘n Dagwood, Steve.)

Die standaard roosterbroodjie met ham, kaas en tamatie kos ‘n skamele R20. Die een met spek, kaas en eier en die een met hoender weeg in teen R35.

Ses rooivleisdisse, drie disse van hoender, een van vark en een van vis, twee slaai-etekeuses en vier soorte sous, voltooi die spyskaart. Kruisskyf van 200 g en beesstert weeg in teen R75 en lamskerrie teen R70. Het ek al gemeld dat Die Hoefyster se pryse billik is?

Die T-been van 500 g kos R80 en kruisskyf van 300 g is R90 en die beeshaas R120. Twee varktjops kos R60. Jy kan pap, slaai of skyfies of ‘n halwe porsie van elk saam met jou vleis laat aankom. Jy kan een van vier soussoorte teen R10 by kies.


Die kuierstoep op die rustige perdeplot

Spesiale disse van die dag is op ‘n swartbord by die kroeg opgekryt. Onder dié disse is ‘n trinchado, wat basies ‘n ryk Portugese hutspot (stew) van biefstukblokkies is.

Metgesel besluit op die “romerige hoenderkerrie”. Dit kos R60. Sy, wat mos nie soogdiere inneem nie, sou ook ‘n halwe hoender teen dieselfde prys kon bestel, hoenderrepies teen R30 of stokvis teen R55 om die proteïenvlakke aan te vul. Hoenderslaai en Griekse slaai is ook as hoofgeregte beskikbaar. Sy is gaande oor haar borriegeel hoenderkerrie op rys en sê dat sy by Cullinan se Villagers al ‘n soortgelyke een of vyf geniet het.

Baie lanklaas het ek ‘n hamburger ingewerk en dis tyd. Ek bestel die Nolsburger. Ek het lekker geëet en ek het baie geëet. Die frikkadel is gevlambraai en dalk effe te gaar na my smaak, maar dis ‘n tuisgeboude een met ‘n lekker los tekstuur. Die skyfies se naam is ‘n teenstelling van die feit en moet eintlik ‘skywe’ heet. Die groot aartappelskywe is net reg voorberei.

Die Hoefyster blyk nog ‘n goedbewaarde geheim te wees en dis jammer, want ‘n gemoedelike plotkuier hier kan sterk aanbeveel word. Dalk sou dit die eienaars baat om dit op die beskeie naambordjie by die afdraai beter aan te dui wat Die Hoefyster eintlik is. Selfs net ‘n kenteken van ‘n brouery of stokery kan al help.

 

© 2024 Die/The Bronberger