Oom Bulletjies jaag spoke op PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Monday, 21 March 2016 05:59
Untitled Document

Oom Bulletjies jaag spoke op

Hans Walvis de Jager was ‘n boorling van Suidwes (Namibië) wat redelik onlangs aanbeweeg het. ‘n Man van ryke ervaring en vele talente, was wyle Hans Walvis. Hy was ‘n storieverteller van formaat en sy stories het altyd uit eie ervaring ontspring. Stories soos dié een oor die trekboer wat ‘n spookkenner by uitstek was:

Net na die oorlogsjare (1945) was trekboere 'n algemene gesig in Suidwes se noorde, het Hans vertel. 'n Trekboer was ‘n ou wat sonder ‘n plaas geboer het. Hy't 'n paar besies iewers bymekaargekrap en so van plaas tot plaas getrek, weiding gebedel en dit gekry ook.

Oom Bulletjies Meyer was só ‘n trekboer. Hy het soms weiding by wyle Hans se oom Piet afgebedel en hom dan met sy hele gevolg vir maande en soms jare aaneen by ‘n veepos op oom Piet se plaas, Oogies, staangemaak. Dan, het Hans vertel, het oom Bulletjies sy vee by wyse van voorbeeld geleer hoe daar aangeteel moet word.

Toe Hans daardie wintervakansie op sy oom Piet se plaas was, het oom Bulletjies se kroos op 14 sterk gestaan. Omtrent die helfte van die Meyertjies was effe ouer as Hans se agt jaar en die helfte was effe jonger. Benewens die kinders het die ‘boerdery’ bestaan uit flenters van beeste, bokke, hoenders, donkies, ‘n perd – vir as daar vinnig padgegee moes word – en ‘n menigte basterbrakke wat die teelprogram van oom Bulletjies deeglik onder die knie gekry het. Ossewaens, donkiewaens en tentwaens was die vervoermiddels en die huisvesting.

Sy  oom Piet was ‘n wewenaar en seker maar bra eensaam, het Hans vertel, want daardie  winter het hulle drie aande in die week by die Meyers op die veepos gaan kuier. Oom Bulletjies Meyer, het Hans vertel, was ‘n spokekenner en sielbesweerder waarmee rekening gehou moes word.

Ná ‘n aandete van vleis en pap (in Suidwes eet hulle nie pap en vleis nie) was dit ‘n gestoei vir 'n plekkie om die vuur met veertien ander kinders en die ewe veel honde, het Hans vertel. Die winternagte is koud in daai wêreld.

Die oumense het riempiestoeltjies gehad en as die span kinders wou sag sit, het hulle gras onder die bas ingedruk. Die meisies het geweet hoe om ordentlik te sit maar hulle met die kortbroekies het die volle geweld van die vuur op sagte binnebene gevoel, het Hans onthou.

Die honde het dieselfde probleem met die koue gehad en het kort-kort tussen die kinders ingeskuif of 'n ander hond laer af in die hiërargie uit sy lêplek langs die vuur geknor. Die hoofhond – die Meyer-weergawe van ou Boel, met sulke flaplippe, het altyd langs oom Bulletjies gelê en was sommer vroegaand in hondedroomland.

Die eerste gemeensamighede was oor watter pestilensies oom Bulletjies se beeste die dag getref het, of oor die teef wat vandag kleintjies gekry het en of oom Piet tog asseblief more of so as hy weer kom, bietjie ou olie kan saambring vir die brandsiek onder die donkies en 'n bietjie ghries vir die wawiele.

En dan neem oom Bulletjies Meyer met sy spoke oor. Hans het nooit geweet daar's so baie soorte spoke nie. Die aand se spookpraatjies het begin by die vriendelike spoke: Dié wat kom waarsku het teen komende onheile. Dis ook een van hulle wat die jong Bulletjies na sy troumeisie toe gebring het.

Dan was daar die spoke wat glo nie gelukkig was oor iets nie en oom Bulletjies kon hulle gelukkig altyd help met ‘n oplossing en dan kon die spoke finaal tot ruste kom. Daar was die soort spoke wat boodskappe wou aflewer. Dinge wat hulle vergeet het om te sê voor hulle ontydige vertrek.

‘n Ander soort spook was dié wat hom kom vertel het van fabelagtige rykdomme. Alles begrawe iewers of in grotte weggesteek. Maar dié spoke het altyd gemompel en wou nie mooi sê waar nie. Daar was ook die treurige meisiespoke wat oor iets gehuil het. Gelukkig kon hy wat Bulletjies Meyer was, hulle almal tevrede en getroos na hulle ewige rusplekke lei.

En laataand het oom Bulletjies oor die kwaaier tipe spoke begin vertel. Soos dié wat aan jou wil vat en dan brandmerke los waar hulle aan jou geraak het. Daar het hy gehoor as 'n spook jou wil groet, moet jy eers 'n sakdoek oor jou hand bind voor jy sê "aangename kennis", het Hans vertel.

Maar hierdie spoke is nie regtig gevaarlik nie. Dis ook hulle wat stoele rondstoot, portrette van die muur laat afval, af en toe 'n koppie laat val (dis hoekom oom Bulletjies net blikgoed gebruik) en kettings ratel. Net vir bietjie sports, want waar hulle vandaan kom, is vermaak glo nie volop nie.

‘n Mens moet eers regtig begin ligloop as 'n spook by eerste kennismaking wil baklei. Sommige spoke klap glo sonder om jou kans te gee om jou sakdoek voor te hou. By ander spoke kan ’n mens die swael en steenkool aan hulle ruik. Hierdie spoke kan ‘n mens nie vertrou nie en hy sou jou aanraai om nooit met hulle te praat sonder dat 'n ekspert soos hy, jou bystaan nie, het oom Bulletjies gesê.

Toe oom Bulletjies op dié betrokke aand by die kwaai spoke kom was dit asof die winterkoue van agter ekstra byt kry. Die jagspinnekop en skerpioen wat tussen die klomp deurgekom het vuur toe, het ook nie juis bygedra tot die rustigheid nie. Inteendeel. Dis voorbodes. Nog een van oom Bulletjies se spesialisgebiede, het Hans vertel.

Met al die regte voorbodes teenwoordig vertel oom Bulletjies net toe boonop van die aaklige, vryerig soort spook wat jou slobberig soen voordat hy begin klap. Nie net een klap nie, maar sommer so agt snotklappe op ‘n streep wat in die naglug soos geweerskote weergalm.

Die Meyers se Boelhond moes seker 'n hondenagmerrie gehad het van 'n vlakvark wat hom met die skerpkant bykom of iets, want in sy slaap maak hy net toe 'n paar harde slagyster-klappe met die ou bek, terwyl hy spoegstikkend lug tussen sy flaplippe probeer inroggel.

Skielik was die duiwel los. Iemand het bloedstollend gegil en ou Bulletjies het skoon vergeet om met die spook te praat, opgevlieg en dwars deur die vuur gebars op sy vlugtog wa toe.

Hoe sestien Meyers so vinnig in ‘n tentwa kon kom, gaan die verstand te bowe. Daardie wa het hoog gestaan en dit was nie sommer net vir inklim nie, het Hans Walvis vertel.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online