Swerm wilde dwergpapegaaie val Equestria binne PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 21 March 2016 05:59
Untitled Document

Het die swerm wilde dwergpapegaaie (lovebirds) van Equestria dalk al by jou voëlvoerder aangedoen?

Ben Schaap van Equestria sê “dit was met groot belangstelling dat ek u artikel oor die pratende besoekers in die Februarie-uitgawe gelees het. Ons sien al ’n geruime tyd ’n klompie ‘lovebirds’ in die omgewing en dit wil voorkom of hulle wel oorleef. Dit is maar onlangs dat ek hulle by ons voëlvoerders opmerk.”


Die rooiwangparkiet in Namibië
Foto: Wikipedia

In Engels staan die voëls as ‘lovebirds’ bekend, afgelei van hulle wetenskaplike naam, Agapornis, wat van die Grieks woorde ‘agape’ (liefde) en ‘ornis’ (voëls) af kom. Die oorkoepelende Afrikaanse woord vir die genus is glo ‘dwergpapegaaie’, alhoewel die individue parkiete genoem word.

Daar is nege spesies: A canus (gryskop of Madagaskar-parkiet); A fischeri (Fischer se parkiet); A lilianae (Njassaparkiet); A nigrigenis (swartwangparkiet); A personatus (gemaskerde of geelkraagparkiet); A pullarius (rooikopparkiet); A roseicollis (rooiwangparkiet); A swindernianus (swartkraag of Swindern se parkiet); en A taranta (Abessiniese of swartvlerkparkiet).
Agt spesies is inheems aan Afrika en een, die gryskop, aan Madagaskar.


‘n Dwergpapegaai by Ben Schaap se Equestria-voëlvoerder
Foto: Ben Schaap

Rooiwang
Die rooiwangparkiet woon in droë breëblaarboomveld, halfwoestyn en bergatige terrein in Namibië. Die voël is 15–18 cm lank en weeg 46–63 g. In Engels staan hy as die ‘rosy-faced lovebird’ bekend.

Die Njassaparkiet woon in ’n klein gebied rondom die middel van die Zambeziriviervallei en verkies breëblaarboomveld, veral hoë mopanieboomveld. Hy is 13–14 cm lank en weeg 30–40 g. Sy Engelse naam is ‘Lilian's lovebird’.

Die swartwangparkiet bly in ’n klein gebied in Suidwes-Zambië. Die omvang van sy swerwery na Suider-Afrika is onbekend. Hy is 14–15 cm lank en weeg 35–46 g. In Engels staan die voël as die ‘black-cheeked lovebird’ bekend.


Die Njassaparkiet (Lilian's lovebird) in Zambië
Foto: Wikipedia

In ons kontrei ken ons dié voëltjies as hokvoëls en die kanse is groot dat dié wat in wilde swerms voorkom, as hokvoëls ontsnap het. Daar is verskeie kleurmutasies by dwergpapegaaie wat as hokvoëls geteel is.

Wilde populasies van Fischer se parkiet en gemaskerde parkiete kom in die stede van Oos-Afrika voor met ’n intraspesifieke hibriede van dié twee spesies, wat ‘n rooibruin kop met ‘n oranje bors het. Daar is ook wilde populasies in Phoenix, Arizona en in San Diego, Kalifornië in Amerika.


Die swartwangparkiet
Foto: Wikipedia

Swerms
In die natuur leef dwergpapegaaie in klein swerms en vreet vrugte, groente, gras en sade. Die Abessiniese parkiet vreet ook insekte. Swindern se parkiet vreet net ‘n sekere soort vy, wat dit moeilik maak om dié soort in hokke aan te hou.

Die kenners beveel aan om eerder ‘n dwergpapegaai wat in aanhouding geteel is, as troeteldier te koop. Voëls wat wild gevang word kan siektes oordra, hulle treur gewoonlik oor hulle maats en kan baie aggressief teenoor mense wees.

Dié voëls het ‘n dominante aard en is gebiedsgebonde, wat beteken dat hulle aggressief met ander voëls in hulle omgewing sal wees. Party dwergpapegaaie kan praat, maar dit sal grootliks dié wees wat in aanhouding geteel is.


Daar is agt dwergpapegaaie op dié dak en muur van ‘n huis in Equestria. Dit lyk of verskillende
spesies saam in een swerm bly
Foto: Ben Schaap

Dit is moeilik om uit te vind of ‘n dwergpapegaai ‘n mannetjie of wyfie is. Jy moet gewoonlik na hulle gedrag kyk, alhoewel dit nie altyd ‘n betroubare aanduiding is nie. As die voëltjie papier opskeur en in haar vlerke druk, is sy waarskynlik ‘n wyfie. As hy kos opbring vir sy eienaar, is hy waarskynlik ‘n mannetjie omdat die mannetjies die wyfies op die nes voer.

Wyfies domineer gewoonlik die mannetjies en ‘n wyfie is meestal die leier van die swerm.

Dwergpapegaaie bou eers ‘n nessie voor hulle paar. Die wyfie sal drie tot vyf dae later eiers begin lê.

Ná die eerste eier, sal daar elke dag nog ‘n eier volg, tot daar vier of ses eiers is. Die eiers broei 22 tot 23 dae later uit en die kleintjies word vir 55 dae deur hulle ouers gevoer.

Dwergpapegaaie word 10 tot 15 jaar oud.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online