Japie woeker met proteas uniek aan ons kontrei PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Monday, 21 March 2016 05:43
Untitled Document

Japie van Staden van Doornkraal noord van Cullinan is ‘n proteaboer wat besig is om stof in die Kapenaars se oë te skop. Hy spesialiseer daarin om nuwe soorte proteas uniek aan ons kontrei te kweek en is vandag die grootste verspreider van proteas in die land.

Waar die Kaapse boere hoofsaaklik rooi proteas kweek, eksperimenteer Japie met alle kleure. Hy noem homself eerder ’n ‘proefmens’ as ‘n boer. Hy is die heeltyd besig om proewe met proteas te doen en het al uit name geraak vir die nuwe soorte blomme wat hy kweek.


Uitstallings van Japie se proteas

Japie was die eerste boer in die land wat ‘n ‘wit-wit’ protea, die My Lady, kon oplewer. ‘Wit-wit’ beteken dat die blom wit is aan die buite- sowel as binnekant. Van die nuwer soorte waarmee hy op groot skaal kweek strek van die Pink Lady (met ‘n sagte rooskleurige buitekant wat om ‘n wit binneste vou), die Japino, wat Japie se vrou Sorita na hom vernoem het, die Marli, Sorita, SD en Corette. Hy is ook besig om koningsproteas so groot soos ’n skinkbord te kweek.


Japie in een van sy koelkamers op Doornkraal

Woeker
Japie woeker met meer as 100 soorte proteas, erikas en lowe wat 18 ha van sy plasie van 35 ha vol staan. Hy sê dat hy deur die jare geleer het wat in dié spesifieke omgewing werk en dat hy homself geleer het hoe om met proteas te boer.


‘n Wit Repens-protea
Foto: Lisa Hnatowicz

Japie was ’n mynwerker met min kennis van dié soort boerdery toe hy die eerste keer Kaap toe is om steggies te kry. Hy het die boerdery in 1998 begin op ‘n plaas 10 km buite Cullinan op die Kwamahlangu/Onverwacht-pad. Japie vertel dat hy oor meer as 15 jaar ‘n manier ontwikkel het om plantjies te kweek wat “nie in die boeke staan nie”.

Doornkraal se proteas word gekies op grond van die kleur van die blom, lengte, dikte en  vaashouvermoë.


Protea Cynnaroides
Foto: Lisa Hnatowicz

Doornkraal-repens
Foto: Lisa Hnatowicz

Steggies
Japie verduidelik dat ‘n mens steggies sny van sagte lote en hulle met hormoonpoeier behandel. Die plante word in tonnels gesteg voor hulle na die nethuise geneem word om verder te groei.

Dit vat omtrent ’n jaar voor die proteas in die landerye geplant word. Proteas hou van sandgrond en ‘n gemiddelde klimaatstoestand van 20–35°C. Japie sê dat al die sandsteen proteasoorte goed in ons kontrei aard.


Ds Charl Bredell, regs, by Japie op Doornkraal

Hoe minder die grond versteur word, hoe beter vir die plante. Proteas het ’n leeftyd van agt tot nege jaar. Japie sê dit is nonsens dat ’n protea eers in sy vierde jaar begin blom. Met Doornkraal se metode pluk hulle reeds ná twee tot drie jaar.

Japie sê hy tel nie meer nie, maar skat daar is tussen 30 000 en 50 000 plante. Hy sê dat hy kleiner hoeveelhede plant, maar ’n groter verskeidenheid in verskillende tye van die jaar, ook wanneer die blomme tradisioneel nie beskikbaar sou wees nie. Hy sny regdeur die jaar elke week tussen 500 en 5 000 blomme wat maklik drie tot vier weke in ’n koelkamer geberg kan word.


Japie van Staden in sy protea-tent by verlede jaar se Cullifest

Fees
Japie gaan agt verskillende soorte protea-blomme en -plante by die Protea Cullifest op die naweek van 30 April tot 2 Mei uitstal. Hy gaan elke dag praatjies oor proteas op die eenmanvertonings-verhoog aanbied.

 

© 2019 Die/The Bronberger