Swart wurms in drinkwater gekry PDF Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 21 March 2016 05:38
Untitled Document

Inwoners van Rayton en Cullinan het vroeg in Maart gekla oor klein swart wurmpies in hulle kraanwater. Rayton se water ruik glo al ’n geruime tyd soos ‘insekdoder’.

Die dorpies se water, wat deur Magalies Water voorsien word, is knap ‘n week voor die klagtes deur AfriForum laat toets vir nitrate en e-koli en die toetse het gewys dat die water veilig vir menslike gebruik is.

Volgens Reline Badenhorst van AfriForum is mense wat vermoed daar is iets ongewens in hulle drinkwater, welkom om haar te kontak sodat opvolgtoetse gedoen kan word. Haar e-pos-adres is This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .


Die motvlieg se larwe

Volgens Reline het die water wat by Laerskool Rayton vir die toetse getap is, geen wurms in gehad nie, hoewel die water wel ‘n bietjie ‘snaaks’ geruik het. “Dit mag dalk wees dat Rayton se opgaardam vuil is of dat daar iewers 'n stukkende waterpyp is. Ek sal uitvind hoe ons die water direk vanaf die opgaardam kan toets,” het Reline gesê.

Cobus Ras, ‘n inwoner van Rayton, het op die dorp se Facebook-blad gekla dat hy al twee wurms in sy ‘Oros’ gekry het en wou weet of ander mense dieselfde ervaring gehad het. Volgens Cobus was dit swart wurmpies van omtrent twee sentimeter lank, soos “dié wat ‘n mens soms in ‘n vuil vistenk kry”.

Liza Fourie het geantwoord dat Rayton se water onlangs soos ‘vrot dreinwater’ geruik het en dat haar hond dit nie eers wou drink nie.

Lizelle Oosthuizen van Cullinan het gesê sy het ook ‘n swart wurmpie in haar wasbak gekry nadat sy tande geborsel het.


Die motvlieg of dreinvlieg

Die verskynsel van wurms wat in drinkwater voorkom, is geensins nuut in die land nie. Dit is veral die rooi ‘bloedwurmpie’ wat gereeld oortree waar hy nie welkom is nie. Die bloedwurm is ‘n larwe van ‘n klein vliegsoort wat byna soos ‘n muskiet lyk en wêreldwyd as die ‘midge’ vlieg bekend staan.

Die swart ‘wurmpies’ is moontlik muskietlarwes of die larwe van die motvlieg, wat ook die dreinvlieg genoem word.

Die voorkoms van die larwes in kraanwater is nie noodwendig te wyte aan besmetting van munisipale opgaartenks nie. Die insekte kry soms toegang tot die pypwaterstelsel deur lekplekke of krane om hulle eiers te lê. Die swart larwe van die dreinvlieg kan tussen 10 en 50 dae vat om volwassenheid te bereik.

 

© 2019 Die/The Bronberger