As swartgalligheid jou wil insluk PDF Print E-mail
News - Kommentaar
Monday, 21 March 2016 05:34
Untitled Document

Ja, die toedrag van sake in die land en in ons gebied neig dikwels om ‘n mens erg negatief te stem. Só negatief en moedeloos dat jy die gevaar loop om te vergeet van die mooi en die goeie in ons midde.

Soms is dit nodig om te fokus op die dinge en die mense en gebeure van jou omgewing wat jou opgewonde, trots en dankbaar maak – as jy wil voorkom dat die swartgalligheid jou dalk insluk en verteer. En ‘n leestog deur die Bronnie gee telkens genoeg rede tot ‘n positiewe stemming oor die mense van en die lewe in ons kontrei.

In hierdie en die vorige uitgawes sal jy byvoorbeeld met trots kan lees hoe die mense van ons gebied hulle harte spontaan oopgemaak het om uitkoms te help gee aan mens en dier in die land se droogtegeteisterde gebiede.

Jy sal kan sien hoe ‘n gemeenskap onbaatsugtig saamspan om ‘n Paastoneelspel op die planke te bring en hoe bewaringsbewuste mense van Faerie Glen en die Cullinan-gebied woel om die mooi omgewing teen verval te beskerm.

In die Boschkop-gebied het mense ruim bygedra met skenkings van klere en speelgoed aan behoeftige kinders as deel van ‘n inisiatief van die Boschkopse polisiestasie. Op Zwavelpoort word ‘n piekniekkonsert gehou om ‘n kind met ‘n kogleêre inplanting by te staan en op Tierpoort word ‘n komitee in die lewe geroep wat dit ten doel het om samehorigheid onder die gemeenskap te bewerkstellig. Tierpoort, waar ‘n groep welsynharte jare lank reeds maandeliks ‘n byeenkoms vir die senior burgers van hulle gebied hou en waaroor die Bronnie gereeld verslag doen.

In Kortpad-manne vier Joost se verjaardag, kan jy lees van vier Bronbergmanne wat met motorfietse van Kaap Agulhas tot in Kairo gereis het om geld vir Joost van der Westhuizen se J9 Stigting in te samel.

Op ‘n melkplaas op Kaalfontein word ‘n markdag gehou om geld vir die Christelike Maatskaplike Raad in te samel en die gebied kan weer uitsien na die Protea Cullifest by die NG-kerk op Cullinan wat geld vir HelpNet insamel, ‘n nie-winsgewende liefdadigheidsorganisasie wat huise van veiligheid vestig vir kinders wat van ouertoesig verwyder word.

Net ‘n paar voorbeelde uit die Bronnie oor dinge en mense waarop ons as gemeenskap trots kan voel en positief kan bly en wat ons bes moontlik kan aanspoor om ook ons opbouende deel te doen.

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online